Leon Lemmer: Vox Day oor ‘Social Justice Warriors’

Deel op

Veral sedert die aanvang van die nuwe Suid-Afrika kom ‘n mens karakters by byeenkomste en in die massamedia teë wat presies weet wat reg en goed en wat verkeerd en sleg is. Hulle is verslaaf aan die ideologie van die oomblik en verafsku die verlede in soverre dit nie aan hulle huidige verwagtinge voldoen nie. Van diegene (of hulle voorgeslagte) wat dinge gemaak het soos hulle was (bv slawerny, kolonialisme, apartheid), word verwag dat hulle verskoning moet vra en verdraagsaam en versoenend die nuutgevonde salighede moet omarm. Dit is die teelaarde vir bv gedwonge rasse-integrasie, gelykverklaring, inklusiwiteit, diversiteit*, selektiewe bevoordeling/regstellende aksie, menseregte, militante feministiese aktivisme, homo-/transfilo (die hele rits: LGBTQI, 651)** en selfs sosialisme/marxisme/kommunisme/anti-kapitalisme. In ‘n poging om aan aktualiteit te wen, is sommige teoloë aan die voorpunt hiervan, soos blyk uit bv die Kairos-dokument en die Belhar-belydenis. Kortom, dit gaan om politieke korrektheid, wat myns insiens in baie opsigte nie noodwendig of glad nie korrek is nie. Dit is die onderwerp van Vox Day se boek oor “social justice warriors” (besonderhede hier onder). Ten diepste gaan dit om die vernietiging van beskaafde Westerse (veral tradisioneel Europese) waardes (Kindle 2116), spesifiek die belemmering van persoonlike denk- en uitdrukkingsvryheid (2118). “They seek to destroy Western civilization … the goals they seek, Equality, Diversity, and Inclusiveness, are utterly incompatible with personal freedom, societal wealth, and advanced technological civilization” (2122).

[* “Equality and Diversity are mutually exclusive” (2188). Gelykheid hef verskeidenheid op in soverre dit eendersheid is. Diversiteit kan ook as teenstrydig met inklusiwiteit vertolk word en word eintlik slegs gepredik ten einde enige eksklusiewe sosiale witheid uit te skakel. Eksklusiewe swartheid word as voortreflik, as solidariteit, geloof. Diversiteit kan teenproduktief wees (dink aan woongebiede): “Diversity destroys communities by weakening trust, and reducing social capital and engagement levels within them” (1448; ook 2197).
** Dink aan die NGK-sinode se onlangse besluit hieroor. Soos by die hedendaagse Rooms-Katolieke Kerk gaan dit nie meer primêr om die waarheid nie, maar eerder om sekere mense se gevoelens (2296).]

Deesdae word dikwels van “die groter prentjie” gepraat. As ons na daardie prentjie kyk, is dit duidelik dat baie van die mode-idees, soms meme genoem, van Amerika gekom en plaaslik ‘n epidemie veroorsaak het. Daarvolgens behoort blankes, slawerny en apartheid tot die slegte verlede terwyl swartes, vryheid en demokrasie die goeie in die hede kenmerk. Ek het altyd gewonder wat ‘n mens hierdie mode-spesie kan noem. Gelukkig is Amerika nie net die hoofbron van onverkwiklike modes nie, maar ook die fontein van kontra-modes, die voorsiener van teenmiddels waarmee meem-epidemies bestry kan word.

Wanneer ‘n mens in ‘n vergadering sit, is daar die nou reeds bekende verskynsel van die aktivis wat mode-idiologie dogmaties as evangelie verkondig, bv rasse-integrasie is absoluut goed, apartheid is in alle opsigte sleg, ens. Kylie Thomas, die dosent wat leiding aan die opstokers van Open Stellenbosch verskaf, is ‘n toonbeeld van so ‘n mens. Dit is vir my maklik om hierdie soort epidemie te erken waar ek dit ook al teëgekom het. Aanvanklik het ek nie ‘n naam daarvoor gehad nie, terwyl die teenoorgestelde gesindhede reeds geëtiketteer was. Byvoorbeeld, as jy behoudend en taalgetrou is, word jy ‘n taalbul genoem. As jy ‘n Afrikaner is en voorbrand vir jou eie mense maak, is jy ‘n rassis, ens. Maar die Amerikaners het tot my hulp gekom. Kylie Thomas en diesulkes word Social Justice Warriors (SJWs) genoem.

In hierdie konteks dui “social” nie op die openbare lewe of mensdom in sy geheel nie, maar op uitgesoekte sektore, soos diegene wat na bewering die slagoffers, veronregtes of benadeeldes van blanke boosheid is, asook gestremdes, armlastiges, onwettige inkommers, ens. Daar is ‘n voorbedagte selektiwiteit in wie tot hierdie groep van uitverkorenes toegelaat word.

By “justice” gaan dit nie om reg en geregtigheid vir almal nie, maar om die eksklusiewe bevoordeling van sekere geïdentifiseerde (dikwels etniese en geslags-) groepe. Die oogmerk is om sommige mense te bevoordeel en ander noodwendig te benadeel, al word enige benadeling meesal heftig ontken.

“Warriors” dui op diegene wat die kampanje of stryd (“struggle”) voer, die kamerade, kruisvaarders of kampvegters, wat in die praktyk dikwels lasposte, peste, poepholle [poephol: “neerhalende benaming vir ‘n veragtelike persoon” (HAT)], ens, is. Maar hulle veronderstel dat hulle moreel voortreflik is. Hulle teenstanders word (neo-)fasciste, (neo-)Nazi’s, Boere, rassiste, patriagales, (ver)regse ekstremiste, konserwatiewes, grysskoendraers, ens, genoem.

Na aanleiding van die vorige drie paragrawe lyk dit vir my geregverdig om die frase “Social Justice Warriors (SJWs)” as “Selektiewe Bevoordelingsyweraars (SBY’s)” te vertaal. Deesdae beteken “justice” soms glad nie geregtigheid nie (eerder die teenoorgestelde). “Regstelling” beteken dikwels verkeerdstelling/opdondering en “transformasie” verandering, maar geensins verbetering nie. Die deurslaggewende norme waarvolgens mense deur die SBY’s beoordeel word, is etnisiteit/velkleur, geslag (manlik, vroulik, ander) en seksuele oriëntasie. Wat ‘n mens liewer nie moet wees nie, is wit, manlik en heteroseksueel. “Believing that a person’s sex, race and orientation defines the acceptable limits of the opinions they may hold is called ‘identity politics'” (51). Dit is stereotipering by uitnemendheid. Ons lewe in ‘n tyd van omgedopte waardes. Blankes het die openbare status van gevalle engele verwerf. Vir baie blankes word die verlede al hoe mooier en die toekoms al hoe meer duister. Wat goed, mooi, edel en ordentlik (kortom, beskaaf) is, verdwyn sienderoë.

Theodore Beale (gebore in 1968) het onder die skuilnaam Vox Day ‘n boek oor SBY’s gepubliseer: SJWs always lie: Taking down the thought police (Kouvola, Finland: Castalia House, 2015, 200p; Amazon Kindle $7.97). Dat SBY’s altyd lieg, volgens die boektitel, is ‘n doelbewuste oordrywing deur die outeur. Soos Aristoteles (384-322 vC) onderskeid Day tussen dialektiek (logiese/rasionele gesprekvoering) en retoriek (emosionele oortuigingswerk waarin die waarheid/feite van geen of mindere belang is). Die outeur is veral as ‘n wetenskapsfiksieskrywer en as die ontwerper van videospeletjies bekend. Hy is in strydlustige aksies teen die Science Fiction and Fantasy Writers Association (SFWA) en leidende indiwidue in daardie geledere betrokke. Dit is veral in hierdie konteks dat hy die SBY-verskynsel bespreek, maar ek vertolk sy teks met die oog op ons plaaslike omstandighede.

Hoewel dit blykbaar met ‘n knippie sout geneem moet word, noem Day homself “an American Indian” (213, 1904) en “a Native-American game developer” (1039), maar hy verwys ook na sy “English and Irish ancestors” (2747). In soverre hy ‘n Indiaan is, is hy etnies goed geplaas om oor SBY’s te durf skryf. Hy kan die rooi kaart speel (1904), net soos ander mense die bruin/brons of swart kaart kan gebruik. Interessant is Day se opmerking dat net so min as wat blankes die wit kaart mag speel, Asiate die geel kaart mag uithaal, want hulle word deur die SBY’s saam met blankes gegroepeer (221, ook 818). Die rede hiervoor blyk bv uit die feit dat algemeen erken word dat Asiate akademies beter as blankes in Amerika vaar. Plaaslik het Asiate, ten spyte van beperkings tydens apartheid, ekonomies en andersins beter as die ander nie-wit etniese groepe gevaar. Terwyl daar baie ontwikkelde bruines is wat in die nuwe Suid-Afrika hulle etnies-kulturele identiteit wil versaak en verkies om as swart beskou te word, word so ‘n versugting selfde uit bv Indiërgeledere gehoor omdat hulle oor die algemeen trots op bv hulle kulturele en religieuse identiteit is.

In sy voorwoord word FA Hayek (1899-1992) soos volg deur Day aangehaal: “Social justice does not belong to the category of error but to that of nonsense, like the term ‘a moral stone'” (73) en “‘social justice’ has in fact become the chief outlet for moral emotion, the distinguishing attribute of the good man, and the recognized sign of the possession of a moral conscience” (2577). Day skryf: “Social justice is not merely a mirage, it is an intrinsic self-contradiction” (2188). In sy teks probeer Day om Hayek se siening te regverdig. Die gelykverklaring van mense voer Day terug tot John Stuart Mill (1806-1873) se Utilitarianism,1861, (225). Vrye denke en die vrye uitdrukking daarvan is onder beleg, in Amerika en myns insiens al hoe meer ook plaaslik. Die SBY’s word gekarakteriseer as selfaangestelde denkpolisie (192), “policing of your every word and thought” (242), deur mense afkomstig uit veral linkse politieke geledere. Die uitgangspunt is: “Oppressors must change, not the oppressed” (209). Die kampanje word teen die sogenaamde bevoorregtes (blankes, mans) gevoer.

“All you need to know is that an SJW is an individual who is inclined to thought-police, speech-police and even race-police everyone around him and will try to marginalize, discredit, and destroy anyone who fails to conform to his thought-policing with sufficient obedience and enthusiasm” (534). Die doel van die SBY’s se aanvalle is om andersdenkendes se reputasie/goeie aansien te vernietig (510): “to make an example of him that will dissuade others from violating the SJW Narrative in a similar fashion” (714). “The violation is always an action, the target is always an individual, and the object is always the casting out of the individual from the organization” (606). Vir hierdie doel word van “creative offence-taking” gebruik gemaak (577). Die Reitz-video-insident aan die Universiteit Vrystaat is ‘n klassieke geval van SBY’s wat ‘n berg van ‘n molshoop gemaak het: “take the inch … and run a marathon” (1581). Die grootste moontlik bohaai word oor ‘n geringe voorval opgeskop, soos oor die teksboodskap wat ‘n dosent aan ‘n onrusstoker op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) gestuur het. “The squeakiest wheel always gets the grease. And no one is capable of outsqueaking an SJW” (1669). Die US is ‘n voorbeeld van wat Day ‘n “SJW-infested institution” noem (1734).

Day verwys na die geval van James Watson (gebore in 1928), een van die ontdekkers van DNS en ‘n Nobel-pryswenner (1962). Watson het beweer “black people, over all, are not as intelligent as whites” (723). Deesdae mag jy nie intelligensie en ras koppel nie en hierdie verhouding mag ook nie wetenskaplik ondersoek word nie. Maar dit is presies waaroor Charles Murray en Richard Herrnstein in hulle boek The Bell Curve (1994) verslag gedoen het; dat intelligensie, volgens hulle, nie uitsluitlik aangeleer word deur mense wat die regte geleenthede gebied word nie, maar ook aan oorerwing toegeskryf kan word. As jy intelligensie-differensiasie volgens ras predik, selfs net sodanige moontlikheid suggereer, word jy, soos Watson, tot ‘n “unperson” verklaar (726).

Day haal soos volg uit Aristoteles se boek Retoriek aan: “There are people whom one cannot instruct” (2409). Aristoteles “didn’t say it was difficult to get through to them and he didn’t say it would take a long time to instruct them, he concluded that it could not be done” (2409). Day het hier veral die ongeneesbare dogmatisme van SBY’s in gedagte.

Watson is deur SBY’s sosiaal melaats verklaar. Sy lot is soortgelyk aan dié van William Shockley (1910-1989), een van die uitvinders van die transistor en ‘n Nobel-pryswenner (1956). Shockley het die aandag gevestig op die hoë geboortesyfer by wat hy as minder intelligente mense beskou het. Volgens hom kan sodanige bevolkingsaanwas op die lange duur beskawing nadelig beïnvloed. Hy het gevolglik gedink sulke mense behoort vrywillig gesteriliseer te word. Shockley sou ‘n openbare lesing in Amerika hou wat ek wou bywoon, maar swart studente het die byeenkoms gesaboteer op ‘n kampus waar een na die ander swart aktivis toegelaat is om vryelik sy mening te lug.

Tim Hunt (gebore in 1943), ook ‘n Nobel-pryswenner (2001), is ‘n ander slagoffer van ‘n SBY-kampanje waarop Day die aandag vestig. Hunt het tydens ‘n byeenkoms van vrouewetenskaplikes en joernaliste gesê dat drie dinge met vroue in ‘n laboratorium kan gebeur: jy raak op hulle verlief, hulle raak op jou verlief of as jy hulle kritiseer, dan huil hulle. Daarom is dit dalk wenslik dat daar aparte laboratoriums vir mans en vroue moet wees. Al sy verskonings het Hunt niks in die sak gebring nie. Hy is tot ‘n nie-persoon verklaar en uit talle ampte en organisasies geskop.

Day gee die volgende samevatting van wat SBY’s tot stand bring. Dit klink vir my na ‘n kortbegrip van die nuwe Suid-Afrika. “Their corrupted institutions are falling into rapid decline, one after the other, and being replaced by radical new institutions. The public schools can no longer educate, so people are turning to homeschooling* The universities can no longer provide liberal arts educations, so people are becoming technology-assisted autodidacts. The banks no longer loan, the state and local governments no longer provide basic public services, the military does not defend the borders, the newspapers no longer provide news, the television networks no longer entertain, and the corporations are increasingly unable to provide employment. Even as the institutions have been invaded and coopted in the interests of social justice, they have been rendered unable to fulfill their primary functions … The more an institution converges towards the highest abstract standard of social and distributive justice, the less it is able to perform its primary function” (2127).

[* “The state of North Carolina recently announced that more children are being homeschooled than attend private schools … homeschooling is a much more antifragile, much more SJW-resistant alternative to public schools than the private schools are, which is one reason that it is exploding in popularity around the world” (2160).]

Day het ‘n bietjie pret met toestande in Amerika wanneer hy skryf: “The perfect Queen of the SJWs – and she would be a queen, never a king – would be a mixed-race lesbian Swedish immigrant who was abused as a child by a conservative white Republican politician and kept as a sex slave by neo-Nazis with Confederate-flag tattoos prior to writing a bestselling novel about a fictionalized version of her terrible experiences, appearing on Oprah, and starring on a science fiction TV show popular with white nerds” (2524). In Suid-Afrika sou ‘n mens die ideale SBY-kandidaat vir ‘n toppos kon beskryf as swart swarte, vroulik, buite-egtelik, swanger, werkloos, oudstryder/terroris/bomplanter (met WVK-vrywaring), lesbies, vigspasiënt, gestremd (in ‘n rolstoel), US-studiebeurshouer, in besit van vervalste akademiese en ondervindingsertifikate maar funksioneel ongeletterd. Sy het nog nooit vir water, elektrisiteit of televisie betaal nie, is plek in ‘n US-koshuis toegeken (maar is tans paroolafwagtend) en het reeds ‘n luukse motor bestel met die oog op aanstelling in die toppos. Hanlie Retief en Ruda Landman het al onderhoude met haar gevoer (sy is Kaaps magtig).

Maar hierdie twee voorbeelde ondermyn die erns van hierdie saak. Wat aan die gang is, is niks anders nie as ‘n kulturele oorlog. Gelukkig is daar ‘n tegnologiese hulpmiddel, te wete die internet, wat tot ons beskikking is en waarmee eensydige blootstelling aan SBY’s bestry kan word. Daar tree soms anti-SBY-individue op die voorgrond. Kyk bv hoeveel ongenoeë Donald Trump in Amerikaanse SBY-geledere veroorsaak.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.