Al Basjir-besoek aan Indië is nuwe uitdaging aan ISS

Deel op

Indië sal president Omar al-Basjir in hegtenis moet neem en uitlewer as hy Nieu-Delhi die week vir ’n beraad sou besoek, het die Internasionale Strafhof gesê.

Indië is nie ’n stigter-ondertekenaar van die Verdrag van Rome waardeur die hof tot stand gebring is nie, maar die hof voer aan dat Indië ’n plig het ingevolge ’n resolusie van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad.

Al-Basjir se immuniteit is volgens die internasionale reg opgehef, maar Afrikalande steur hulle nie aan die hof se uitsprake nie.

Al-Basjir het ongehinderd in Indië opgedaag vir ’n Indië-Afrika-beraad en is vriendelik deur premier Narendra Modi ontvang. Die twee het intussen samesprekings gehou.

Indië is die tweede grootste handelsvennoot van Soedan na China. Verskeie Indiese olie-, gas- en konstruksiemaatskappye werk in Soedan.

Bilaterale handel tussen Indië en Soedan het tot $1,4 miljard in 2014-15 gestyg, van $327,000,000 in 2005-06. Handel met Afrika het twintigvoudig toegeneem sedert 2000 tot $72 miljard.

Fatou Bensouda, ’n aanklaer by die ISS, het gesê die hof moet die Suid-Afrikaanse regering dwing om te verklaar waarom Soedan se president in Junie nie in hegtenis geneem is nie.

Die hooggeregshof in Pretoria het in Junie beslis dat Al-Basjir in hegtenis geneem moet word, maar hy is toegelaat om te vertrek.

Hy word deur die Strafhof gesoek weens beweerde oorlogsmisdade in Darfoer. Die Verenigde Nasies (VN) skat 300 000 mense het sedert 2003 in die streek die lewe gelaat.

Die ANC het egter intussen gedreig om aan die hof te onttrek.

As die geding teen Al-Basjir se besoek in die Suid-Afrikaanse Grondwethof voortgesit word, sal ’n uitspraak oor die kwessie moontlik eers einde volgende jaar gelewer word. Intussen sal dit moontlik wees vir hom om die land weer te besoek.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.