Minstens 22 meer olifante is dood nadat hulle deur vermeende wilddiewe naby Zimbabwe se grootste wildreservaat vergiftig is, het AFP berig.
“Ons het Maandag 22 olifantkarkasse in die Sinamatela-gebied ontdek en tot dusver het ons 35 olifanttande gevind,” het Caroline Washaya,die woordvoerder van die bestuursowerheid vir parke en natuurlewe, gesê.
Die onlangse sterftes volg skaars twee weke nadat 26 olifante weens vergiftiging in twee afsonderlike gevalle buite die Hwange nasionale park naby Kariba en na aan die grens met Botswana dood is.
Verlede maand is minstens 14 olifante aan vergiftiging in verskillende aanvalle dood.
Wilddiefstal is algemeen in Zimbabwe se nasionale parke met olifante en renosters wat vanweë hulle tande en horings, die hoofteikens is. Dit word dan na lande in Oos-Asië gesmokkel.
Verlede jaar is meer as 300 olifante dood nadat wilddiewe sianied naby hul watergate geplaas het.