Die mede-eienaar van ‘n wildplaas naby Bray by die Botswana-grens in Noordwes, het boere en hul werknemers, aook die polisie bedank wat vier vermeende renosterstropers vasgetrek het.
Tommie van Vuuren sê ‘n plaaswerker het twee weke gelede vier vreemde mans onder ‘n boom op sy plaas sien lê. Hulle het ‘n jaggeweer met ‘n knaldemper gehad.
Hy sê natuurbewaring en die polisie is ontbied en boere was binne ‘n japtrap daar. Die vier het die hasepad gekies.
In ‘n stadium is tot 30 bakkies in ‘n hakkejag ingespan.
Volgens Van Vuuren het spoorsnyers om die beurt voor ‘n Unimog, wat gebruik is in die digte bos, gehardloop, terwyl boere met hul bakkies die gebied afgesper het. Die vier verdagtes is voor 21:00 dieselfde aand nog vasgetrek.
Die eerste verdagte is omstreeks 17:00 op ‘n buurplaas vasgetrek. Lede van die polisie se honde-eenheid en boere het daarna op ‘n tweede verdagte wat in ‘n erdvarkgat weggekruip het, afgekom, waarna twee spoorsnyers omstreeks 20:00 ‘n derde verdagte vasgetrek het.
‘n Vierde verdagte is later die aand deur die polisie naby Vryburg in ‘n wegkomvoertuig in hegtenis geneem.
As die boere en hul plaaswerkers nie daar was nie, sou die booswigte nie nou agter tralies gewees het nie, sê Van Vuuren.
Die verdagtes Michael Hlongwane, Simon Sithole, Aurolle Mathabela, en Giyane Maringa het reeds in die hof verskyn en sal na verwagting op 6 November om borgtog aansoek doen.
Hulle staan tereg op aanklagte van oortreding, die rig van ‘n vuurwapen en poging tot die stroop van renosters.