VF+, IVP, ACDP kla oor SA Palestyne ontvang

Deel op

Die Vryheidsfront Plus, die IVP en die ACDP het die ANC gekritiseer omdat hy die Palestynse Hamas-leierskap verlede week in Suid-Afrika ontvang het.

Die partye sê dit is strydig met die regering se amptelike posisie oor die voortslepende konflik tussen Israel en die Palestyne.

Die partye het aan die media in die Parlement gesê dat die regering nie kant moet kies nie omdat dit ‘n vreedsame oplossing kan ontspoor.

Die partye was in September deel van ‘n feitesending aan Israel en die Palestyne.

Die Vryheidsfront Plus het vroeër in ‘n verklaring gesê Hamas is ‘n “internasionale terreurorganisasie”, alhoewel dit nie as sodanig gelys is nie.

Slegs die gewapende vleuel van die beweging word as ‘n terreurorganisasie deur sommige lande beskou, maar in die geheel word Hamas as meer gematig as byvoorbeeld Fata gesien.

Die VSA het Hamas as ‘n terreurorganisasie gelys, terwyl die EU en onverbonde lande sowel as Rusland en China die politieke vleuel van Hamas aanvaar as ‘n regmatige verteenwoordiger van die Palestyne.

Die ANC se woordvoerder, Zizi Kodwa, het in reaksie gesê die vergadering met Hamas is deel van die ANC se pogings om verskeie Palestynse faksies te verenig.

Kodwa sê klagtes oor die uitnodiging aan Hamas toon dat die betrokke politieke partye nie internasionale eensgesindheid begryp nie.

Khaled Masjaal, die leier van Hamas, het tydens sy besoek aan Suid-Afrika gesê die Palestyne worstel met Israel se “rassisme en apartheid”.

Hy het Israel as ‘n “apartheidregime” beskryf, ‘n frase wat ook gebruik word deur die Amerikaanse minister van buitelandse sake John Kerry.

Intussen het Israel die aanbring van kameras in Jerusalem se ou stad en die Al-Aqsa moskee-kompleks, een van Islam se heiligste plekke, verwelkom.

Israel­ se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê ’n ooreenkoms om 24-uur veiligheidskameras rondom die kompleks te installeer, is in Israel se belang.

Dié besluit kom nadat die Israelse weermag ‘n Palestynse meisie doodgeskiet het na ‘n beweerde mesaanval.

Spanning laai steeds op met botsings by die moskee-kompleks, bekend as Tempelberg, na ’n vlaag mesaanvalle en dodelike protesbyeenkomste.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.