Leon Lemmer: Max du Preez, waar val jy uit?

Hiermee ‘n verdere repliek op Max du Preez se “Waar was júlle, Afrikaners?” (Die Burger, 24 deser, p 11). ter ondersteuning en aanvulling van John White se kommentaar (Praag 25 deser). Du Preez wil nie ‘n Afrikaner (genoem) wees nie, maar Afrikaners is sy gunstelingsondebokke. As die orakel van Riebeeck-Kasteel voel hy tuis in die rol van alwetende Afrikanerveewagter. As populis in nie-Afrikanergeledere skaar hy hom ongekwalifiseerd by die studente-onrus. Dit is immers hoofsaaklik swartes wat die chaos saai, al is dit juis hulle wat op ‘n rasdiskriminerende wyse universitêre toelating kry en by voorkeur (dikwels nie-meriete) studiebeurse ontvang. Du Preez sonder die opstandige studente se “opregtheid, welsprekendheid en rasionaliteit” vir bewondering uit. Sy sagte hart is diep geroer, veral deur die vroue. Buitensporige waardering vir en bevoordeling van swartes en vroue is ‘n kortbegrip van ANC-gesindheid.

“Dis ‘n wonderwerk hoe min geweld daar was; dís nou buiten die polisie se oorreaksie by ‘n paar geleenthede.” Du Preez skaar hom by die anargiste. Hy is sekerlik nie aan die kant van wet en orde nie. Sy houding is nog steeds soos tydens die blanke bewind. Hy loof die “People’s Power-opmarse van September 1989”. Volgens Du Preez was dit hierdie keer glo net ‘n “handjievol” wat gewelddadig was, terwyl berigte van ernstige skade in werklikheid daagliks instroom. Soos wanneer vakbondoptogte skade veroorsaak en die skuld daarvoor op ander mense afgeskuif word, word beweer dat dit nie-studente is wat hulle tot vadalisme gewend het. Die studente is blykbaar so onskuldig soos ongebore babas. Soos in die ou Suid-Afrika verkies blankes en spesifiek Afrikaners (en anders as Du Preez) in die nuwe Suid-Afrika steeds wet en orde en die uitlewing van beskaafde gedragsnorme.

“Ons moet vir ‘n oomblik uit ons wit middelklas-Afrikanervel klim en as mense na ander mense luister, as burgers na medeburgers. Ons sal verbaas wees hoeveel empatie ons gaan voel, hoeveel gemene grond daar bestaan.” Wanneer Du Preez Afrikaners in sy rigting wil dwing, gee hy voor om een van hulle te wees. Hy wil hê Afrikaners moet sintuiglik waarneem (kyk en luister) wat gebeur, want dan sal ons glo deernis met die opstandiges hê of ontwikkel. Du Preez vra nie dat ons moet dink/besin nie. Myns insiens is dit selfs sonder veel besinning vir die meeste Afrikaners duidelik dat hulle, ten spyte van hulle huidige status as tweederangse burger, hulle nie met sulke onsosiale en destruktiewe gedrag vereenselwig nie. Wat hier gebeur, is niks anders nie as ‘n voortsetting van die ANC se berugte rollende massa-aksie tydens die “bevrydingstryd”; gedrag wat uiters skadelike gevolge gehad het, die einde waarvan nie in sig is nie.

“As die studente nie kampusse en geboue beset en opmarse gehou het wat verkeer ontwrig het nie, sou die regering en die res van ons hulle bloot geïgnoreer het; sou ons nie dié historiese oomblik belewe het nie.”

Myns insiens verkies die meeste Afrikaners dat universiteite sonder ontwrigting akademies funksioneer. Ook dat paaie sosiaal-verantwoordelik gebruik word; dat diegene wat paaie vir hulle ideologiese agenda’s misbruik van ekonomiese sabotasie aangekla en swaar gestraf moet word. Aan die Universiteit Stellenbosch (US) het studente ‘n administrasiegebou beset. Die eerste keer in sy ampstermyn het die US-rektor, Wim de Villiers, ‘n bietjie durf geopenbaar, ‘n hofbevel gekry en hierdie studente laat uitsmyt. Hierna het hy sy konstruktiewe optrede ongedaan gemaak deur die hofbevel te laat ophef en waaragtig vir die studente om verskoning gevra. Dit sal studente ongetwyfeld aanmoedig om weer dieselfde te doen. Wat gaan De Villiers dan doen? Weer die koste van ‘n hofbevel aangaan, hulle weer laat uitsmyt en weer en nog nederiger om verskoning vra? Die absolute onvermoë om vooruit te dink, verbaas ‘n mens. Dit is ook eienaardig dat ‘n hofbevel verkry word om studente te verbied om skade te veroorsaak. ‘n Mens sou dink dat dit vanselfsprekend is dat saakbeskadiging verbode is en gestraf gaan word. Ook dat die oortreders gevonnis moet word pleks daarvan om hulle tekens met of sonder ‘n tandelose waarskuwing ongeskonde vry te laat.

Nadat toegegee is aan die eis om die Rhodes-standbeeld van die kampus van die Universiteit Kaapstad (UK) te verwyder, het ander eise gevolg; nie net aan die UK nie, maar ook aan ander universiteite en elders, insluitende eise vir die verwydering van ander standbeelde. Toegewings lei tot verdere eise en verdere toegewings. FW de Klerk het die voorbeeld met sy ongeëwenaarde reeks grondwetlike toegewings gestel. Dit het De Klerk se beloofde magsdeling in algehele magsoorgawe laat ontaard. Hy is daarvoor geloof en vereer. Die toegeemodus is egter die pad van vernietiging. Op die studente se anargie bou Du Preez egter sy hoop vir “waarvoor ware demokrate al ‘n dekade lank wag.” Die dwaasheid van algemene stemreg vir volwassenes in ‘n Suid-Afrikaanse eenheidstaat het nog glad nie by Du Preez ingesink nie. Vir hom bly hierdie uiterste vorm van demokrasie voortreflik.

“Ek het lanklaas die kloof tussen Afrikaners en die res van Suid-Afrika so grafies uitgebeeld gesien soos die afgelope week.” Du Preez is ontsteld hieroor, terwyl Afrikaners se wegstaan my tot dankbaarheid stem. In die opstand van hordes/die gepeupel is daar geen heil vir die blankes en allermins vir die Afrikaners nie. Toe die histories blanke Afrikaanse universiteite toegegee het aan ANC-druk om ook onderrig in Engels aan te bied, was hulle dwaas genoeg om hierdie ekstra onkoste aan te gaan sonder om vooraf kompenserende addisionele owerheidsubsidiëring af te dwing. Die gevolg was en is dat universiteite self die uitgawes moet betaal wat deur die aanbieding van meer as ‘n enkele onderrigtaal veroorsaak word. Die oogmerk van die ANC-regering is klaarblyklik om al die universiteite tot eentalige Engelsheid te dwing/transformeer en hiervoor misbruik hy sy subsidiëringsmag.

Die eerste resultaat van die huidige studente-opstand is dat daar volgende jaar geen verhoging van studiegeld gaan wees nie. Weereens het die universiteite versuim om die ANC-regering vooraf te verbind tot volle vergoeding vir die groot verliese wat hulle gaan ly. Waar dink Du Preez en diegene wat so entoesiasties oor die onrus is, gaan die universiteite bespaar om te vergoed vir die mate van kompensasie wat die owerheid nie aan hulle gaan betaal nie? My voorspelling is dat die mindere inkomste sommige of selfs al die histories Afrikaanse universiteite die verskoning kan/gaan bied om Afrikaans as onderrigtaal af te skaal en mettertyd af te skaf. Vir Afrikaners sal dit ‘n ramp wees, maar nie vir die nie-Afrikaner Du Preez wie se kind in ‘n Engelse skool is nie.

“Is Afrikaners só behep met hul taal en minderheidsregte en -voorregte dat aardskuddende politieke omwentelinge hulle koud laat?” Hier het ons ‘n gevierde/erkende politieke kommentator wat blykbaar nie weet dat daar glad nie so iets soos minderheidsregte in die nuwe Suid-Afrika bestaan nie. Daar is wel buitensporige minderheidsregte in Amerika, maar dit is omdat bv swartes tans daar in die minderheid is. Die voorspelling is dat die huidige bevoordelingsregte in Amerika gaan voortbestaan wanneer nie-wittes teen die middel van hierdie eeu die meerderheid kiesers word. In Suid-Afrika is minderheidsregte absoluut taboe al is swartes die allesverswelgende en onontsetelbare meerderheid. Dit is juis in so ‘n situasie dat die blankes, wat plaaslik ‘n bewese prestasierekord van meer as drie en ‘n halwe eeue het, se minderheidsregte beskerm behoort te word. Pleks daarvan is blankes se status onmiskenbaar tot dié van tweederangse burgers afgegradeer. In die huidige opset word blankes progressief ontneem van wat hulle met sweet en bloed tot stand gebring het, bv skole, universiteite, maatskappye, plase, ens. Hierdie bevoordeling van swartes kan/gaan tot in die oneindige voortbestaan omdat dwase, blanke, Afrikaanssprekende, grondwetlike onderhandelaars versuim het om te verseker dat ‘n keerdatum in die grondwet vir rasgegronde bevoordeling (en by implikasie blanke benadeling) gestel word. Dit is verregaande dat Du Preez in hierdie bedenklike omstandighede verwys na Afrikaners se beheptheid “met hul taal en minderheidsregte en -voorregte”. Anders as Du Preez is ek behep met die heil van Afrikaners, die behoud van ons kultuur en die voortbestaan van Afrikaans.

“Ek wil Afrikaanse studente en dosente vra: Stem julle saam dat die staat universiteite verwaarloos terwyl hy toelaat dat korrupsie, vrot regering en ideologie-gedrewe projekte miljarde rande insluk? Stem julle saam dat dit moreel gebiedend en in die belang van stabiliteit is dat soveel moontlik behoeftige swart [!] studente wat akademies kwalifiseer, gehelp moet word om grade en diplomas te kry?” Du Preez was maar ‘n kort rukkie op universiteit. Ek gaan hom ‘n bietjie help om helderheid te kry oor die onderwerp waaroor hy skryf.

  • Die vrot regering waarmee Suid-Afrika sit, is die direkte gevolg van die onvanpaste grondwetlike grondslag waarop die land funksioneer. Al die politieke partye probeer (ten alle koste) die steun van soveel moontlik kiesers werf. Die meerderheid kiesers is swak ingelig, beskik oor beperkte geletterdheid en het min breë insig en is daarom ingestel op korttermynbevoordeling. Dit is waarom sowel die ANC as die DA die studente-onrus steun, naamlik om meer stemme te kry. Die tragedie is dat naas Du Preez sommige van die universiteitsrektore ook in dieselfde koor sing deur die studente se opstandige gedrag te loof.
  • Eenogig bepleit Du Preez dat net swart studente finansieel gehelp moet word. ‘n Nie-rassige benadering vereis dat net twee faktore by die toekenning van studiebeurse in ag geneem behoort te word: bewese akademiese prestasie en finansiële behoefte. Dit is bekend dat die ANC-regering voorkeur aan die toekenning van studiebeurse aan swartes gee en dat kandidate wat Afrikaans as vak wil bestudeer nie vir studiebeurse in aanmerking kom nie. Ingevolge transformasie, wat aan die histories Afrikaanse universiteite primêr verswarting en verengelsing beteken, gee universiteite ook voorkeur aan swart kandidate by die toekenning van studiebeurse. Die afgelope tyd is keer op keer berig dat lede van Open Stellenbosch beweer dat die enigste rede waarom hulle by die US ingeskryf het, is omdat studiebeurse aan hulle toegeken is. ‘n Groot persentasie van diesulkes hoort streng akademies nie op die kampus nie. Myns insiens behoort studiebeurse nooit om nie-akademiese redes (bv ras, geslag, sport) toegeken te word nie. Die US kan van ‘n groot kwota onrusstokers ontslae raak deur beurse uitsluitlik aan akademies bekwame kandidate op ‘n nie-rassistiese grondslag toe te ken.
  • Die ANC-regering het sy subsidiëring van universiteite progressief afgeskaal. Dít terwyl van universiteite verwag word om weens ‘n grootliks disfunksionele skoolstelsel al hoe meer geld aan remediërende onderrig te bestee. Die staat versuim ook in groot mate om oud-studente te verplig om studielenings terug te betaal, asook om grootskaalse korrupsie in die stelsel uit te skakel. Die plundering van die staat en die land se bates het in ‘n mensereg ontaard. Terselfdertyd word van universiteite verwag om al hoe meer (substandaard)studente te akkommodeer. ‘n Mens kon dink anti-akademiese regeringsdruk sou lei tot groter aandrang op outonomie van die kant van universiteite. In werklikheid gebeur die teenoorgestelde. Rektore en ander lede van die topbestuur van universiteite word deur die president, die minister van hoër onderwys en die betrokke parlementêre portefeuljekomitee hiet en gebied. Die US-raad het onlangs die onvergeefbare dwaasheid begaan om in te stem tot die minister se versoek dat sy verteenwoordigers in die raad van drie tot vyf vermeerder word. Die boodskap wat daarmee uitgestuur word, is dat die US geen (of in elk geval ‘n verminderde) premie op sy outonomie plaas; dus dat dit goed is dat ANC-beleid (wesenlik van ‘n on- of selfs anti-akademiese aard) toenemend op hom afgedwing word.
  • Du Preez verwys na die ANC-regering se ideologie-gedrewe projekte. Transformasie is ‘n tersaaklike voorbeeld. Universiteite het darem nog net ‘n enkele rektor, maar hy word bygestaan deur ‘n hele rits viserektore, bv een met transformasie as werkopdrag. ‘n Rektor ontvang ‘n ministeriële salaris (in minstens een geval, KZNU, het die rektor selfs meer as die president ontvang, sekerlik nie “verdien” nie), plus ‘n bonus, ‘n luukse ampsmotor en dikwels ook ‘n luukse ampswoning, luukse reis- en verblyfvoorregte, ens. [Jonathan Jansen, die rektor van die Universiteit Vrystaat (UV), is juis nou op reis in die buiteland. Hy het onlangs gekla dat sy werk as rektor vervelig geword het, want danksy sy besondere bekwaamheid het hy gedink daar is geen probleme op die UV-kampus oor nie.] ‘n Rektor ontvang ‘n ministeriële vergoedingspakket omdat eerder politieke as akademiese oorwegings deurslaggewend by sy aanstelling is. Sommige van hierdie buitensporige rektorsvoordele drup ook op die span vise-rektore. Maar selfs die spandabele Jacob Zuma het net een adjunk. Waarop universiteite moet fokus, is die uitsny van onnodige vet. Sulke besparings kan in laer studiegeld en meer studiebeurse neerslag vind. Ek het al voorgestel dat rektore se salaris aan dié van professore gekoppel moet word; dat rektore nie meer as 50% meer as professore mag ontvang nie. Professore is immers die akademiese kern van ‘n universiteit. Viserektore behoort nie meer as 25% meer as professore te ontvang nie, dekane bv 10% meer, hoofde van akademiese departemente 5% meer, ens. Die ander saak wat aandag moet kry, is die groot universiteitsadministrasies en die talle hoogbesoldigde nie-akademiese poste. ‘n Universiteit bestaan om navorsing te doen en onderrig te verskaf. Die administrasie is bloot ‘n hulpdiens. Die universiteit hoef ingevolge sy akademiese funksie nie sportfasiliteite, behuising, kos, ens, te voorsien nie. Sulke sake kan geprivatiseer word. Naas die vermindering of verkieslik afskaffing van remediërende skoolonderrig moet universiteite waak teen onderrig in mode- of pseudo-dissiplines, soos Swart Studies, Vrouestudies en die jongste sotlikheid, Transformasie. Wim de Villiers wil Transformasie aan die US ‘n verpligte kursus in elk van die eerste vier studiejare maak. Dink vir ‘n oomblik na oor wat die gevolge sou gewees het as die “apartheidsregime” verpligte universitêre indoktrinasiekursusse in die regeringsideologie van destyds ingestel het. Universiteite moet funksiegetrou bly deur navorsing te doen en onderrig te verskaf en in alles akademies korrek pleks van polities korrek op te tree.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.