Brief: Oom Max, ons is te besig om diskriminasie te probeer oorleef!

Deel op

As ‘n tweedejaarstudent is ek werklik teleurgesteld in u poging om weereens Afrikaners oor die vingers te probeer tik. In ‘n artikel wat slegs die uitdaging wat die ANC met studente in die gesig staar kan, en behoort te ondersoek, vind u dit nodig om oudergewoonte anti-Afrikanersentiment in u resep te gooi. Ek wonder soms wat u probeer bereik, en of u werklik glo dat u skrywe aanklank vind by die moderne Afrikaner (veral jonges), wat deesdae wroeg om ‘n bestaan te voer met ‘n oorwegend anti-Afrikanerregering.

Dit is ook vir my verstommend dat u die vraag, “Waar was júlle Afrikaners?” kan opper. Bedoel u dan dat alle studente verplig is om aan optogte deel te neem – selfs optogte wat kennelik gewelddadig is en behels dat visekanseliers gevange geneem word?

U is darem werklik selektief as u in “vryheid” glo, maar terselfdertyd Afrikanerstudente (en alle ander nie-betogende studente) se vryheid van assosiasie en vryheid om onverstoord te studeer oorsien?

Dit wil voorkom of ‘n sekere groep mense in dié land nie net verbied word om sekere dinge te doen nie, maar ook as’t ware verplig word om wél aan sekere aktiwiteite deel te neem, soos byvoorbeeld die onlangse optogte waarmee u so in u skik is.

Die inperking van vryheid is dus tweeledig – as ‘n Afrikaner mag jy sekere dinge doodeenvoudig nie doen nie, en sekere dinge is jy ook verplig om te doen of om aan deel te neem. Dit is darem ‘n verfrissende gedagte! Praat van “damned if you do, damned if you don’t”!

Jy mag nie sekere danspassies uitvoer by die PUK nie, maar buiten dit móét jy ook deelneem en paraat wees wanneer studente, met politieke agendas wat vir seker nie deurgaans edel is nie, betoog deur voertuie en geboue te vandaliseer, te plunder, onskuldiges aan te rand, en standbeelde van vlekkelose Afrikaanse digters wil afbreek.

Behalwe Afrikanerstudente se onbereidwilligheid om hul aan barbaarse gedrag skuldig te maak, het ons ook baie ander hooi op ons vurk. U vra waar ons was, en die antwoord is eintlik vanselfsprekend.

Ons was doodeenvoudig te besig om te studeer, te werk, ekstra werk te doen (sodat ons o.a. studiegelde kan betaal), en ons toekoms te verseker in ‘n land waarin alle diskriminerende maatreëls daarop gemik is om ons kanse op sukses weg te raap.

Dis reg ja – ons het ons bepaal by ons studies om sodoende die gevolge van witwees in Suid-Afrika, naamlik uitsluiting en diskriminasie, te kan oorkom.

Terwyl ‘n sekere groep studente bekommerd was oor studiegelde, was daar ‘n groep Afrikanerstudente wat voor hul siel geweet het dat hul waarskynlik ten spyte van ‘n 0%-verhoging in studiefooie, sal sukkel om werk te kry omdat hulle wit is. En dít terwyl dit ook bykans onmoontlik is vir ‘n blanke student om ‘n studiebeurs van enige soort los te slaan!

U verwag van Afrikanerstudente om ‘n week voor die eksamen afstand te doen van hul studies – hul enigste en laaste kans op uitnemendheid en welvaart in ons diskriminerende, merietelose samelewing – om geraas te maak, akademiese instellings tot stilstand te bring en visekanseliers gevange te hou? Dit is, selfs vanuit oom Max du Preez se pen, ‘n onredelike versoek.

“Ons moet vir ’n oomblik uit ons wit middelklas-Afrikanervel klim en as mense na ander mense luister, as burgers na medeburgers.”

Is dit nie wat Afrikaners al vir twee dekades lank doen nie, oom Max? Selfs sogenaamde “vrygeborene” Afrikaners by universiteite prewel gedurig “jammer, jammer”, wanneer hulle met hul “white privilege”, ‘n bedrieglike sinoniem vir harde werk en toewyding, gekonfronteer word.

As ‘n apartheidsman sal u nooit weet hoe dit voel om 90% in matriek te moet behaal om keuring verleen te word aan sekere kursusse nie, en daarby gedurig by universiteite berispe te word oor u witheid en taalvoorkeur nie.

Daarom het die meerderheid Afrikanerstudente nié aan hierdie optog deelgeneem nie – ons is moeg vir konflik. Ons weet ook dat dit bes moontlik dieselfde studente is wat deelgeneem het aan #feesmustfall betogings, wat vroeër vandeesmaand nog betoog het oor die reeds bedreigde Afrikaans by universiteite, en ook “One settler, one Bullet” gesing het by Rooiplein.

Ons weet ook dat die eise van anargiste nimmereindigend is en dat die volgende betoging waarskynlik ‘n vermindering in slaagvereistes sal vereies. #passratesmustfall – stel u dit voor! Daaraan sal hardwerkende, Afrikanerstudente waarskynlik ook moet deelneem, siende hulle andersins as “koud” deur u bestempel sal word.

U maak ook geen melding van die feit dat die blanke studente wat wel aan die optog deelgeneem het, soms afgejak en weggejaag is nie. As blankes onderworpe aan “white privilege”, het hulle skynbaar geen rol te speel gehad nie, en het ook volgens die massas nie verdien om die kollig te “steel” nie. Hulle sou dus nooit ‘n “geweldige simboliese impak” kon hê nie, bloot omdat vele swart studente hul geskiktheid as “struggle helde” nietig verklaar het.

Oom Max, u kan dit “koud” of selfs rassisties noem – Afrikanerstudente het merendeels geen behoefte om destruktief te betoog nie, en allermins om soos ander hul lippe af te lek oor die moontlikheid van 1976: Episode 2. Ons is nie revolusionêrgesind nie en bepaal ons veel eerder by ons studies, sodat ons kan aanhou om ‘n vlak van akademiese uitnemendheid te handhaaf wat ons in staat stel om een van die mees diskriminerende samelewings ter wêreld die hoof te kan bied.

Ek kan nie namens alle Afrikanerstudente praat nie, maar ons is nie geraasmakers nie – ons probeer eerder stilweg om goeie akademiese uitkomste te handaaf, soos wat dit ‘n normale student betaam.

– John White (20)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.