Leon Lemmer: Leon Wessels en Danny Titus oor Open Stellenbosch

Deel op

LitNet publiseer die afgelope tyd bydraes tot sy Open Stellenbosch- (OS) seminaar. Wat eienaardig is, is dat LitNet, wat oorwegend ‘n Afrikaanse webwerf is, in hierdie geval voorkeur aan bydraes in Engels gee. Mense wat Afrikaanssprekend is en meesal in Afrikaans publiseer, word deur die redaksie gevra om hulle bydraes in Engels te lewer. Oor die algemeen handel die kommentaar eerder oor politiek as oor die akademie. Daar is uitstekende bydraes maar ook ander wat oorloop van anti-blanke, anti-Afrikaner- en anti-Afrikaans-sentiment, selfs -haat. Johannes Comestor se Afrikaanse bydrae, wat streng akademies is, is as ‘n brief gepubliseer (LitNet 5 deser) en nie as ‘n OS-seminaarbydrae nie, gevolglik sal dit gouer in die vergetelheid verdwyn. Gelukkig het Praag (7 deser) dit hergepubliseer.

In hierdie skrywe gaan ek my aandag beperk tot twee van die LitNet-bydraes, dié deur Leon Wessels en Danny Titus. Dit impliseer nie dat ons hier met meerderwaardige insig deur twee menseregtekommissarisse te make het nie; eerder die teenoorgestelde. Ek moet Wessels se skrywe voor die teks van Titus bespreek, nie omdat dit vroeër gepubliseer is nie maar omdat Titus goedkeurend daaruit aanhaal, so asof sy eie sêgoed opgeraak het. Ek het al by meer as een geleentheid oor Titus se onverkwiklike gesindheid geskryf; ook heel onlangs (Praag 7 deser en 22 Augustus).

Leon Wessels

Leon Wessels is bekend as een van die destydse blanke regering se hoofonderhandelaars, wat FW de Klerk se beloofde politieke magsdeling in algehele magsoorgawe getransformeer het. Wessels het ‘n boek oor die gebeure geskryf, asof dit ‘n besondere prestasie was om weens onvermoë in (feitlik) elke opsig sy eie mense (taal- en kultuurgenote) en hulle nageslag onberekenbare skade te berokken. Ek het sy boek, Vereeniging (2010), in besonderhede bespreek (Praag 20.10.2013). Vroeër vanjaar was Wessels in die nuus vanweë die groot akademiese skade wat hy met sy verslag op die Potchefstroomse universiteitskampus veroorsaak het (Praag 29 Maart).

Teen hierdie agtergrond moet sy jongste skrywe, “Open Stellenbosch: The elephant in the room” (LitNet 15 September), beoordeel word. Wessels begin met verwysing na die destydse onderhandelings oor die landstale. Hy ag dit steeds wonderlik dat daar kort voor die sperdatum op elf amptelike tale ooreengekom is en dat Cyril Ramaphosa oor Venda kon sê: “Just to think that my language is now getting constitutional recognition; it is up there alongside English and Afrikaans.” Wessels weeg nie die guns wat aan Ramaphosa en ander swarttaalsprekers gedoen is op teen die groot, duur en onpraktiese las wat elf amptelike tale die land oplê nie.

Wessels dink blykbaar steeds dat aan Engels geen “special place” toegeken is nie. Hy erken ook nie dat Afrikaans die enigste plaaslike taal is wat in hierdie proses oneindige groot skade gely het nie. Dit lyk asof Wessels steeds nie besef dat dit doelbewuste strategie/taktiek van die bose ANC was om, na analogie van die gebeure in Vietnam, besluite oor omstrede sake so lank moontlik te vertraag nie. Daarom kon die ANC sy wil (Engels as die eintlike amptelike taal) kort voor die sperdatum afdwing. Lees oor hierdie ANC-taktiek in Anthea Jeffery se uitstekend nagevorsde boek, People’s War (2009).

Terwyl Afrikaners en Afrikaans weens politieke dwaasheid onvergeefbare skade berokken is, het enkele blankes, waarvan Wessels een is, materieel (bv as menseregtekommissaris) by die magsoorgawe gebaat. Nege van die elf amptelike tale word deur die ANC-regering aktief verwaarloos, terwyl Afrikaans doelbewus ondermyn en sover moontlik benadeel word. Let op hoe misleidend Wessels hierdie situasie verwoord:

“The lost place of Afrikaans and the concern of Afrikaners about language usage just do not carry the same weight as the other questions that the authorities are battling with now.”

Hy haal Naledi Pandor soos volg goedkeurend aan: “Any appeal for extraordinary status for Afrikaans or any [!] other language [English?] will be difficult to justify in a democratic South Africa.” Wessels erken dat regeringsdepartemente die grootste oortreders is weens “ignoring the other ten official languages.” Maar kan die man dan nie maar erken dat die Nasionale Party-regering se verteenwoordigers, waarvan hy een was, op groot skaal drooggemaak het tydens die grondwetlike onderhandelings nie, insluitende mbt die amptelike tale, en dat dit naïef was om die bose ANC in enige positiewe opsig te vertrou nie?

Ek bespeur geen teken van berou by Wessels nie. Hy verwys bv na wat Pierre de Vos oor transformasie aan die Universiteit Stellenbosch (US) kwytgeraak het. Hierdie opmerkings is ook op bv die Potchefstroomse universiteitskampus toepaslik. “The change of policy, which will lead to the diminishing of the rights of Afrikaans students to be taught in their mother tongue, will stand the test of constitutional scrutiny because of past racial discrimination.” Dus, omdat daar voorheen teen nie-wittes gediskrimineer is, is dit ingevolge die grondwet, by name regstellende aksie, heeltemal in orde dat daar nou teen blankes en Afrikaans gediskrimineer word. Wessels erken uiteraard nie dat dit dwaas was om so ‘n grondwet te aanvaar nie; ook nie dat dit onnosel was om nie eens ‘n keerdatum vir die beëidiging van hierdie bevoordeling/diskriminasie te stel nie.

Tog is dit blykbaar geoorloof om sedert 1994 herhaaldelik na die nuwe Suid-Afrika as ‘n nie-rassistiese land te verwys. ‘n Mens moet darem ‘n dik vel hê as sulke deurtrapte valsheid jou nie hinder nie. Heeltemal teenstrydig met wat pas hier uiteengesit is, skryf Wessels waaragtig: “Politically speaking: anything [!] that suggests exclusion and racial discrimination will not carry the day.” Maar dit is so duidelik soos daglig dat Afrikaanssprekendes aan al die eens Afrikaanse universiteite al hoe meer van Afrikaans as onderrigmedium uitgesluit word (dus “exclusion”) en dat daar suiwer rassisties op groot skaal teen blanke studente (bv by universiteitstoelating, studiebeurstoekennings en koshuisplasings) en teen blanke dosente (bv by aanstelling en bevordering) gediskrimineer word (dus “racial discrimination”). Wessels verwys na die US-rektor, Wim de Villiers, se refrein, “Stellenbosch is not an Afrikaans university” en sê dan: “This bold statement has to be applauded.” Dit is vir my kwalik moontlik om ‘n polities meer onredbare mens as oud-Broederbonder Wessels voor te stel.

Wessels sluit sy essay soos volg af. Dit is die teksgedeelte wat deur Titus aangehaal word asof dit evangelie is. “During language debates the elephant in the room is often racism. I have sat around dinner tables when interlocutors will boldly say, ‘I am not a racist’ and then continue to demonstrate the opposite. There are many Afrikaans pundits who are not racists. There are, however, also many who shield their racist attitudes by glibly citing constitutional provisions. Racists nowadays ain’t what they used to be and they don’t look alike. They are to be found on different sides of the argument. They have to be exposed because they will not find constitutional protection. To isolate them will not be difficult if peace-loving people stand up to be counted; normally this is not what they do when the heat is on. There is too much at stake now to allow hot-headed racists – from all sides of the divide – to dominate the discussions. For multilingualism to succeed at our tertiary institutions we have to rekindle the spirit of the drafters of the Constitution: to listen to one another and to believe that a solution to harness the interests of everyone is possible.”

Laasgenoemde aanhaling is op talle maniere oop vir kritiek. Hier volg enkele voorbeelde:

  • Let op hoe die aanvaarbaarheid van die hoogs onvolmaakte grondwet deur Wessels as die grondslag vir stellinginname veronderstel word.
  • Die naïewe gees waarin die blanke bewind se onderhandelaars die grondwet benader het, verskil hemelsbreed van die voorbedagte en volgehoue bedrieglikheid van die ANC-onderhandelaars. Dit is waarom bv FW de Klerk sedertdien kort-kort beweer dat die letter pleks van die gees van die grondwet in die ANC-regering se dade weerspieël word.
  • Die oorgangsgrondwet verskil van die finale grondwet tot verdere nadeel van blankes en Afrikaans. Vergelyk bv die 1993-taalartikel met die 1996-taalklousule (dié tekste is beskikbaar in bv JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, 2014, p 525-527). In die 1993-teks staan daar: “[1] Regte met betrekking tot taal en die status van tale wat by die inwerkingtreding van hierdie Grondwet bestaan, word nie ingekort nie … [2] nóg die regte met betrekking tot die taal nóg die status van ‘n amptelike taal … verminder mag word … [3] die nie-vermindering van regte met betrekking tot taal en die status van tale wat by die inwerkingtreding van hierdie Grondwet bestaan.” Hierdie drie bepalings is in die 1996-teks met ‘n enkele bepaling vervang: “Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.” Waar dit in die 1993-teks veral om die behoud of nie-vermindering van die status van Afrikaans gegaan het, word Afrikaans in die 1996-teks effektief uitgesluit van enersyds behoud van status en andersyds selfs van bevordering. Steyn skryf: “Die belangrike bepaling in verband met die nie-inkorting van taalregte en -status is in die finale Grondwet van 1996 weggelaat” (p 443). Dit gaan immers nou om die bevordering van die inheemse tale wat na bewering histories benadeel is, dus swart tale. Die verraad wat hier gepleeg is, is moontlik gemaak deur die onderhandelaars van die blanke bewind, wat toegee het aan die ANC se eis dat die 1994-verkiesing ingevolge die oorgangsgrondwet gehou moet word en dat die parlement, wat deur die swart meerderheid gekies is, oor die finale grondwet sou besluit. Vergelyk die huidige lot van Afrikaans met FW de Klerk se pragtige voor-Kodesa-woorde: “Die posisie van Afrikaans is nie onderhandelbaar nie” (Steyn p 423).
  • Terwyl daar skynbaar vir rassiste aan albei kante van die spektrum gepreek word, is dit myns insiens hier, soos elders, eintlik maar die blankes en veral die Afrikaners wat vir veroordeling uitgesonder word. Dit is dieselfde soort gesindheid wat by plaasmoorde geopenbaar word. As daar gevra word vir ANC-regeringsveroordeling van plaasmoorde word gesê: Alle moorde word veroordeel.
  • Wessels se verwysing na vrede laat my dink aan die teksvers: “Vrede, vrede! – terwyl daar geen vrede is nie” (Jeremia 6:14).
  • Daar word na meertaligheid aan ons tersiêre inrigtings verwys, maar Wessels versuim om uit te wys dat dit ‘n verpligting is wat uitsluitlik op eens Afrikaanse universiteite gelê word. Eentalige Engelse inrigtings word sonder meer vrygestel van enige poging tot meertaligheid.
  • Wessels gee voor dat “a solution to harness the interests of everyone is possible.” Dit is soortgelyk aan die valse slagspreuk wat ANC-kamerade herhaaldelik gebruik en wat hy aanhaal: “A better life for all.” In die nuwe Suid-Afrika is blankes en veral Afrikaners in baie opsigte in die praktyk nie by daardie almal ingesluit nie. Wessels beweer egter in sy boek: “Alle Suid-Afrikaners se regmatige aspirasies word in die Grondwet vervat” (p 270).

Danny Titus

Toe Danny Titus in 2008 as ATKV-kultuurhoof aangestel is, het Hanlie Retief ‘n onderhoud met hom gevoer (Rapport, 12.03.2008). Daar word genoem (en ek dink heel tereg) dat die ANC beïndruk met die ATKV is.* Toe Titus ‘n student aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) was, was Allan Boesak sy held. Terwyl Titus, ‘n boorling van Worcester, in Nederland gestudeer het, het hy sy werkstukke nie in Afrikaans of Nederlands geskryf nie, maar in Engels. In Suid-Afrika het sy kind ‘n Engelse skool bygewoon en hy praat Engels met haar. Daar is klaarblyklik by hom die begeerte om eerder Engels as Afrikaans as huistaal te hê. As Titus se plattelandse oorsprong en Nederlandse verblyf in ag geneem word, het ons myns insiens hier met ‘n uiterste geval van Afrikaansdislojaliteit te make. Weens sy gesindheid kan hy kwalik inpas by die kultuurmilieu van die ATKV, selfs al word gepoog om hierdie vereniging buitensporig te transformeer. Maar Titus het by diensaanvaarding hierdie goeie voorneme gehad: “Dit sal dom wees om mense te vervreem.”

[* Christo van der Rheede skryf: “Verder bly samewerking tussen gemeenskappe die grootste uitdaging vanweë die kunsmatige etniese verdeling van die verlede en gevolglike wantroue tussen gemeenskappe. Heelparty van die beste praktyke is egter deur verskeie Afrikaanse organisasies soos die AHI (wat in die ekonomiese omgewing aktief is), Agri SA in die landbou-omgewing en die ATKV in die kultuuromgewing wat op ‘n konkrete wyse impetus gee aan die verantwoordelikhede vervat in die Nasionale Grondswet” (Die Burger, 20 deser, p 11). “Uitdaging” is ‘n gewilde ANC-eufemisme vir onvermoë. Etniese verdelings word “kunsmatig” genoem, maar die ANC se beleid maak in buitensporige mate hiervan gebruik sodat blankes benadeel en veral swartes bevoordeel kan word. Van der Rheede verwys goedkeurend na die AHI (waar hy uitvoerende hoof was) en Agri SA (waar hy nou uitvoerende adjunkhoof is), asook na die ATKV (waar Titus die kultuurhoof is). Dit is dus enersyds ‘n geval van selfrugkrapping en andersyds die rugkrapping van ‘n etniese genoot. Van der Rheede was voorheen die uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. ‘n Belangrike deel van sy ampspligte was om bruin kinders aan te moedig om Afrikaanse skole by te woon. Sy eie kinders is egter in Engelse skole geplaas. Red nou Afrikaans met so ‘n mens.]

Daar is bruines, soos Richard van der Ross en Adam Small, wat aanvaar dat hulle bruin is. Daar is egter ook bruines, soos Henry Jeffreys en Zelda Jongbloed, wat eerder swart wil wees. Toe Titus sy pos by die ATKV aanvaar het, was sy eerste projek die loodsing van die Bruin Belange Inisiatief (BBI) by Goudini. Ek het destyds gewonder wat dit met die ATKV te make het, maar aanvaar dat sy nuwe werkgewer Titus aanvanklik met rus gelaat het; hom as’t ware ‘n bietjie tou gegee het. Van der Ross het die BBI gesteun, terwyl Jeffreys (as redakteur) en Jongbloed (as senior adjunk-redakteur) die BBI-stigtingsbyeenkoms geboikot het en ‘n junior verslaggewer van Die Burger na die verrigtinge gestuur het. Dit lyk asof Titus in daardie stadium nog bruin was. Sedertdien verkies hy om swart te wees: “The discovery of our blackness as pride in who we are,” soos hy in sy onlangse LitNet-artikel (kyk hier onder) skryf.

Daar is bruines, soos Adam Small en Jakes Gerwel, wat as Afrikaanssprekend beskou wil wees. Daar is egter ook bruines, soos Russel Botman en Franklin Sonn, wat eerder Engelssprekend wil wees en hulle kinders Engels opgevoed het. Titus vereenselwig hom met laasgenoemdes. Die punt is: Etnies en taalgewys neem Titus, as van huis uit ‘n bruin Afrikaanssprekende, ‘n radikale standpunt in. In albei opsigte kan ek kwalik insien hoe so iemand (doeltreffend) as die kultuurhoof van ‘n hoofsaaklik blanke en daarby Afrikaanse vereniging kan funksioneer.

Maar kom ons toets Titus se bydrae tot die OS-seminaar, “Open Stellenbosch: ‘Why did God make me black?'” (LitNet 16 deser), aan sy voorneme om nie mense te vervreem nie; uitgaande van die (redelike/billike) veronderstelling dat Afrikaners ook mense is. Ek vra my ook af of hy hierdie agt bladsye lange betoog in werktyd geskryf het, dus of dit ‘n integrerende deel van sy ATKV-ampspligte is. Anders as by baie ander amptenare noem hy (soos by vorige geleenthede) nie dat hy in sy persoonlike hoedanigheid skryf nie. Kan dit waar wees dat die ATKV hom so ongekwalifiseerd aan die kant van OS skaar? Weerspieël dit die standpunt van die ATKV-raad en die meerderheid ATKV-lede?

Soos die US-rektor, Wim de Villiers, beoordeel Titus die OS se Luister-video nie as (misleidende) propaganda nie, maar as evangelie. “So many voices have been raised on the video – the Open Stellenbosch movement, Afrikaans, racism, it is almost refreshing to be confronted with such raw, and brutally honest debate … the video speaks with voices that are honest, clear and rattling all my cages … words that open the wounds of slavery, colonisation, apartheid, resistance, struggle.” Hier is ongetwyfeld ‘n militante ANC-aktivis aan die woord; iemand wat al die afgesaagde wanvoorstellings opdiep. “The issue of language cannot be brushed aside anymore.” Titus beskou besware teen Afrikaans dus nie as ‘n vyeblaar waaragter die OS-studente skuil om hulle akademiese onvermoë te kamoefleer nie, maar as ‘n misbruikbare middel tot transformasie.

Titus verlustig hom in die bekende stereotiperings: dat swartes reeds eeue lank weens hulle velkleur benadeel word; dat die swartbewussynsideologie die verdrukkers in die tronk plaas eerder as die verdruktes; dat bevrydingsteologie heilsaam is (“a Liberator God … who stood on the side of the poor, the widow and the orphan … the God who created us black”); dat die toorn van apartheid in ‘n polisiestaat uitdrukking gevind het, ens. Apartheid word gekarakteriseer as ‘n kriminele stelsel: “inhumane, unjust, unholy and unchristian” en die NG Kerk was “hand in glove with the apartheid state.” Nêrens maak Titus hom skuldig aan ‘n oorspronklike gedagte nie. Die UWK word ‘n “Bush College” genoem. Titus het daar gestudeer, hoogs waarskynlik met ‘n beurs van die Departement Kleurlingsake, maar sy gees is nie groot genoeg om so iets te erken nie. Die Departement Kleurlingsake was toe soos ‘n groot koelteboom vir die Titus-gesin, want sy ouers was as onderwysers in diens van daardie departement. Dankbaarheid vir wat hy mildelik en goedgunstiglik van blankes ontvang het (plaaslik en in Nederland), word polities korrek nie uitgespreek nie.

Aan die UWK “access, language, race and racism were intertwined.” Van 1960 af, in die eerste drie dekades van sy bestaan, was die UWK ‘n inrigting waarin onderrig hoofsaaklik in Afrikaans aangebied is, ooreenkomstig die moedertaal van die oorgrote meerderheid studente. As plattelander het dit Titus sekerlik gepas. Omtrent al wanneer Engels uitgehaal is, is wanneer die studente betoog het. Akademies kon die studente vryelik tussen Afrikaans en Engels kies. Met sy bewering dat taal en rassisme ineengestrengel was, wend Titus ‘n lomp maar valse poging aan om die destydse UWK sleg te maak. Toegang is inderdaad beperk tot bruines, maar dit was sekerlik nie in alle opsigte ‘n onding nie. Etniese homogeniteit, soos ander soorte homogeniteit, bevorder akademiese prestasie. Bruin kultuur het gedurende die genoemde drie dekades gebloei soos nooit voorheen of sedertdien nie. Nóg bruin kultuur nóg Afrikaans floreer in die huidige era van swart oorheersing. Maar Titus verkondig eerder hierdie onverdunde twak oor die destydse UWK: “Limited, restricted and yet you had to excel … We were given a limited, and biased, education.” Dan volg die gebruiklike leuen: “You had to perform even better” as die wittes, as jy as bruine/swarte êrens wou kom.

Vir Titus as UWK-student het dit primêr nie om akademie gegaan, dus om vakkennis te bekom, nie. Vir hom as aktivis “social consciousness was the most influential discipline.” Hy het radikaal linkse politieke literatuur gelees: “one constant avalanche of knowledge and conscientisation.” “In this alternative education we came to learn of the lies of apartheid and colonialism, that Roman-Dutch Law did not come with Van Riebeeck, that Van Riebeeck and colonialism stole the land of the indigenous peoples.” Die UWK was destyds akademies geseën met uiters bekwame blanke dosente. Maar bruin oudstudente uit daardie era opper geen dankbaarheid teenoor hulle nie. Hulle beperk hulle lof gewoonlik tot twee bruin dosente wat linkse politiek binne en buite die klaskamer verkondig het: Adam Small en Jakes Gerwel. Titus verwys na Gerwel en Franklin Sonn se negatiewe etikettering van Afrikaans. Oor die twee uitnemende akademici (Joubert en Böhmke) wat die grondslag van Titus se regskennis gelê het, swyg die snood ondankbare Titus, seker omdat albei blank is.

Titus se siening van die US word ook deur linkse politiek bepaal. Die twee mense wat hy hier uitsonder vir bewondering is die rektore Chris Brink en Russel Botman. Dit is gedurende hulle ampstermyne dat Afrikaans deurlopend afgeskaal is, dat die US eksponensieel verswart en verengels het. Wim de Villiers gaan akkoord hiermee. Daarom hierdie positiewe opmerking: “A unifying institutional culture, thus. I see Wim de Villiers walking in this direction.”

Hoe moet die getransformeerde universitêre leergange volgens ‘n radikale ANC-aktivis soos Titus lyk? “I want to believe that Steve Biko is taught at university, the struggles of the Khoisan against colonialism too; that Nelson Mandela and the resistance against apartheid feature prominently, the dehumanising experience of black people in South Africa has prominence, the struggle for liberation has found its way into academic discourse.” En die pioniers wat Europese beskawing oor derduisende kilometers in lewensgevaarlike omstandighede na Suidelike Afrika gebring en hierdie land oor eeue met bloed en sweet tot die suksesvolste en vooruitstrewendste in Afrika ontwikkel het? Is dit moreel en suiwer feitelik in orde dat sulke mense net smaad van Titus ontvang?

Dit is juis teen daardie voortreflike, blanke wenkultuur wat Titus dit het; die tradisionele, akademies-sinvolle, institusionele kultuur wat aan die eens Afrikaanse universiteite aan die orde van die dag was. “Institutional cultures, said [Naledi] Pandor, are embedded at many different levels and require changes in both structure and attitudes and consciousness on the part of academic staff and administrators. If we ‘fail to frame a unifying institutional culture the promise and potential inherent in the institutional restructuring process is likely to be compromised’.” Leon Wessels het soortgelyke besware teen die institusionele kultuur op die Potchefstroomse universiteitskampus geopper. Dit maak nie saak hoe akademies sinvol en suksesvol oorwegend blanke universiteite met Afrikaans as onderrigmedium is nie. Ter wille van ANC-politiek moet dit verander. In hierdie proses boet universiteite akademiese waarde/gehalte in.

Titus onderskryf polities gemotiveerde transformasie. Hy haal Zola Saphetha van Nehawu oor “a radical second phase of our transition” goedkeurend aan: “In line with the interconnectedness of education and social transformation, there is a need to revolt against the commodification of education and to create a mass-based education for all. We need to radically change the form and content of the current model of co-operative governance into real organs of people power.”

Op hierdie manier hits Titus OS tot voortgesette en erger opstand aan. “I have little sympathy for the difficulty Stellenbosch is in. Honestly. If I was a black student I would have raised hell long ago … we know that you cannot trust the boers … You know they are going to appoint people that are like them.” Titus kan die “boere” in die ATKV seker ook nie vertrou nie. Het hulle ‘n mens wat etnies, kultureel en taalgewys soos hulle is as kultuurhoof aangestel, of het hulle oorboord gegaan en die pos met ‘n heeltemal ander soort organisme gevul? Dit is daardie mens wat hierdie versugting uitspreek: “We yearn for the leadership of a Nelson Mandela, a Desmond Tutu, some saintly intervention.”

“We approach our work at the Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) with respect for the dignity of individuals and cultures; at the Human Rights Commission we are mandated to monitor the protection and promotion of human rights and human dignity as a constitutional mandate.” Toon Titus in hierdie teks enige respek vir Afrikaners, Afrikanerkultuur en Afrikaans? Ek dink nie so nie. Word die regte en waardigheid van Afrikaners, Afrikanerkultuur en Afrikaans in dieselfde mate en net so entoesiasties as swartes, Afrikakultuur en Engels deur die Menseregtekommissie (met Wessels en Titus as voorbeelde van menseregtekommissarisse) beskerm en bevorder? Ek dink nie so nie.

In hierdie artikel het Titus in aanstootlike mate vrye teuels aan sy vooroordele gegee. Geen poging tot ewewig, objektiwiteit of oorspronklike insig is aangewend nie. Wat ek by Titus waarneem, is veeleerder bitterheid en moontlik selfs haat. Hoe kan so iemand die kultuurhoof van ‘n Afrikaanse kultuurvereniging en daarby ook ‘n menseregtekommissaris wees? Transformasie/regstellende aksie is klaarblyklik ‘n meedoënlose ontaardingsproses.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.