Israelse premier skok met uitlatings oor Holocaust

Deel op

Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het Dinsdagaand in ’n toespraak voor die Sioniste se kongres verwys na ’n reeks Moslem-aanvalle in die 1920’s teen Jode in Palestina, wat hy sê deur die destydse moefti van Jerusalem, Haj Amin al-Husseini, aangestig is.

Husseini het in 1941 na Berlyn gevlieg om die Nazi-diktator, Adolf Hitler, te besoek. Volgens Netanyahu was hierdie ontmoeting instrumenteel in Hitler se besluit om ’n uitwissingsveldtog teen die Jode van stapel te stuur.

“Hitler wou nie die Jode uitwis nie, maar hulle bloot uit die land verban,” het Netanyahu gesê. “Haj Amin al-Husseini het na Hitler gegaan en vir hom gesê: ‘As jy hulle verban, sal hulle almal hierheen kom’.”

“’So wat moet ek met hulle doen?’” het Hitler gevra, sê Netanyahu, waarop die moefti geantwoord het: “Verbrand hulle.”

Netanyahu, wie se pa ’n vooraanstaande geskiedkundige was, is vinnig deur opposisie-politici en deskundiges gehekel wat sê hy verdraai die ­geskiedkundige rekord.

Palestynse beamptes sê Netanyahu skeld oënskynlik vir Hitler kwyt van die moord van ses miljoen Jode, ten einde die Moslems die skuld te gee.

Twitter was oorlaai met kritiek.

“Dit is ’n hartseer dag in die geskiedenis wanneer ’n leier van die Israelse regering sy bure só haat dat hy bereid is om die mees berugte oorlogsmisdadiger in die geskiedenis, Adolf Hitler, kwyt te skeld van die moord van ses miljoen Jode,” het Saeb Erekat, die sekretaris-generaal van die Palestynse Bevrydingsorganisasie, gesê.

“Mnr. Netanyahu moet ophou om hierdie menslike tragedie te gebruik om ­politieke punte aan te teken,” het hy bygevoeg.

Netanyahu se minister van verdediging en getroue bondgenoot, Moshe Yaalon, asook die Duitse kanselier Angela Merkel het by monde van haar woordvoerder gesê die eerste ­minister is verkeerd.

“Dit was beslis nie Husseini wat die ‘finale oplossing’ uitgedink het nie, maar Hitler self wat die bose plan bedink het,” het hy aan die radiodiens van Israel se weermag gesê.

Steffen Seibert het namens die kanselier gesê die Duitsers is geheel en al verantwoordelik vir die brandoffer.

Dit is nie duidelik op watter bronne Netanyahu staatgemaak het vir sy opmerkings nie. ’n Boek wat in 1947 gepubliseer is, “Die Mufti van Jerusalem”, en ’n koerantberig uit die tyd sê ’n voormalige adjunk van Hitler het by die Nuremberg-verhoor vir oorlogsmisdadigers getuig dat Husseini en die Nazi-leier saamgesweer het om van Jode in Europa ontslae te raak.

Husseini is vir oorlogsmisdade gesoek, maar het nooit tydens die Nuremberg-verhore verskyn nie en is later in Kaïro dood.

Verskeie geskiedkundiges sê ­Netanyahu verwring die tyd en het tot ’n valse slotsom gekom.

Die ontmoeting tussen Husseini en Hitler het op 28 November 1941 in Berlyn plaasgevind. Meer as twee jaar vroeër, in Januarie 1939, het Hitler die Reichstag toegespreek.

In 1845, het die Britse lt.kol George Gawler ‘n verslag opgestel waarin die potensiaal vir Joodse kolonisasie van Palestina uitgestippel word.

Die struikelblokke wat hy voorsien het, het ‘n gebrek aan hulpbronne en die haalbaarheid daarvan om Jode te oortuig om te immigreer na Palestina, ingesluit.

Duitse oorlogskuld het Israel van die nodige hulpbronne voorsien.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.