Puk-studente beskerm Totius-beeld

Deel op

Lede van die drukgroep Reform PUK eis nou om direk met die Noordwes-Universiteit se raad te skakel rakende hul klagtes.

Dit volg na ’n massavergadering deur lede van die Reform PUK-groep waar hul visekanselier, Dan Kgwadi, Dinsdag uitgejou het en gesê het dat hy nie antwoorde op hul vrae gebied het nie.

Kgwadi het terugvoer gelewer oor die memorandum van griewe wat verlede week aan hom oorhandig is, waar Reform PUK onder meer kla oor die universiteit se taalbeleid, tolkdienste en hoë klasgelde.

Hy het gesê dat die universiteit kennis neem van hul ongelukkigheid, en dat die universiteit se bestuur dit sal aanspreek.

Kgwadi het egter bygevoeg dat dit onmoontlik en onprakties is om binne enkele dae hierdie probleme te probeer oplos.

Spanning het hoog geloop toe swart studente ‘n beeld van die Afrikaanse digter Totius wou vandaliseer.

Ná die vergadering met Kgwadi, waar die kwessie van die standbeeld bespreek is, het ‘n groep wit studente die beeld omring in ‘n poging om dit te beskerm.

Swart studente het hulle deurentyd gekoggel.

NWU se woordvoerder Professor Johannes Froneman het bevestig dat daar wit studente die standbeeld beskerm en dat swartes daarna die aftog geblaas het.

Verlede week het die opstokers ‘n memorandum aan die bestuur van die universiteit oorhandig en hulle gevra om te reageer teen 20 Oktober.

Eise in die memorandum sluit in die verwydering van die Totius-beeld, die verandering van die toelatingsbeleid, die hervorming van die SR en dat alle lesings in Engels aangebied moet word by die instansie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.