Meer as 200 plaasaanvalle vanjaar

Deel op

Meer as 200 plaasaanvalle is reeds vanjaar aangemeld, waarvan meer as 40 in Mpumalanga voorgekom het.

Die TLU-landbou-organisasie het sy kommer uitgespreek oor die toename in plaasaanvalle.

Die TLU-verteenwoordiger op Ermelo in Mpumalanga, Danie du Plessis sê die TLU is van mening dat die polisie nie genoeg doen om landbougemeenskappe te beskerm nie.

Du Plessis sê die styl van die aanvalle het ook verander.

Du Plessis het vroeër gesê: “Dié goed begin nou handuit ruk. Dit kan net nie so aangaan nie.

“Die stelsel is teen die boere gekant en ons is kwesbaar. Die rowers dink dis reg dat hulle mense net kan skiet en daarmee wegkom.”

Hy het enige planne vir landelike beveiliging deur die regering as blote praatjies afgemaak.

“Die planne kom nie op grondvlak uit nie.”

Volgens Du Plessis het die boere hulself nou begin beveilig.

“Niemand anders gaan dit doen nie.”

TLU SA se President, Louis Meintjes sê dit is opmerklik hoe eensgesind die boere op grondvlak is oor beginselsake wat landbou raak, maar daarom soveel meer onbegryplik dat nasionale landbou-organisasies oor dieselfde beginselkwessie verskil.

“Dit voel amper of landbou-organisasies op nasionale vlak voeling met die boer op grondvlak verloor het, en daarom uitsprake maak en beleidsrigtings ondersteun wat beslis nie deur die boere op grondvlak ondersteun word nie.”

Die boere in Suid-Afrika, deur die bank, het die ANC se beleidstandpunt dat boere 50 persent van hulle plase aan swart werkers moet afstaan, in geheel verwerp, het Meintjies gesê.

“Voorts is ek baie bekommerd oor mnr. Zuma se uitlating dat daar geen plek vir besighede in Suid-Afrika is wat nie die ANC ondersteun nie. In ander woorde kom dit daarop neer dat die ANC se goedgesindheid gekoop moet word op welke wyse ook al om te kan sake doen in Suid-Afrika. Sou dit waar wees, maak dit die ANC in wese die grootste misdaad sindikaat in die land,” het Meintjies bygevoeg.

Drukgroepe het reeds hulle kommer uitgespreek en oproepe op die polisie gedoen om plaasaanvalle as prioriteitsmisdaad te verklaar.

Die nasionale polisiewoordvoerder, Solomon Makgale sê die polisie is besig met strategieë wat daarop gemik is om misdade soos plaasaanvalle te bekamp.

Hy sê plaasgemeenskappe en ander landelike gemeenskappe ervaar ‘n toename in misdaad.

Hy sê die polisie is in gesprek met landbou-organisasies wat reeds veiligheidstrukture vir landelike gemeenskappe het, en in oorleg met hulle is ‘n landelike polisiëringstrategie ontwikkel.

Makgale sê dié strategie word tans in werking gestel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.