‘Steelwings’ besoek Clarens

Deel op

Image

‘n Trotse Harley-eienaar

17:14:19 Dis nou al die vierde jaar dat Steelwings-klub Clarens in Novembermaand besoek het, en weereens was dit 'n uiters suksesvolle naweek gewees. Elke jaar blyk dit dat die organisasie gladder loop en die manne en dames wat die ysterperde ry kom dikwels van Donderdag af op die klein dorpie aam, om hulleself 'n naweek lank in die mooi omgewing te kom geniet.

Deel op

Mens sien allerhande soorte Harley Davidsons gedurende die naweek, vanaf die kleiner fietse tot die groot menere wat nogal 'n handvol kan wees. Dan is daar ook die paar "choppers" wat op bestelling gebou is en ander monsters wat ingevoer word.

Image

In die gees van die dag

Die groep van sowat 250 tot 300 motorfietse en hulle eienaars sak die dorpie toe soos 'n swerm spreeus op 'n stuk vrug en geniet hulleself gate uit. Onder andere is een van die naweek se vergunnings dat hulle sonder valhelms mag ry, maar net binne die dorp se grense, en mens sien gereeld hoedat mans en dames die hoofstraat op brul met die hare wat in die wind waai. Amper genoeg om menige nie-motorfietsryers ook lus te maak om die perd op te saal.

Die Saterdag is sekerlik die hoogtepunt van die naweek, met mense wat in die skaduwee van die groot tent op die plein sit en rustig kuier met koue goedjies, totdat die speletjies begin, wat altyd baie pret is. Daar is die tennisballe wat van die verkeerskeëls afgehaal moet word in die een rigting, en dan weer teruggeplaas moet word in die ander rigting, en elke keer word die spasie tussen die keëls kleiner met die volgende rondte. Die vaardigheid van die mense op die swaar fietse is tydens die wedstryd tot op die uiterste getoets.

Daarna is die stadigrykompetisie, waarin die bestuurder stadig binne twee bane moet bly en sy passasier wat normaalweg op die agterste voetpenne staan drie tergtoutjies wat aan haarknippe vasgemaak is aan 'n tou moet vasknip sonder dat die bestuurder sy voete op die grond mag sit. Dit was 'n baie prettige rondte gewees.

Die laaste speletjie was die waterballonne, waarin die passasier 'n ballon met water in oor 'n dwarsbalk moes gooi en weer vang, iets wat makliker gesê as gedoen is.

Daarna het die spannetjie die watergate gaan aantree waar eers rugby gekyk is.

Saterdagaand was die hoogtepunt en die afsluiting. Veilings van items het plaasgevind, en pryse vir die wenners en ook gelukstrekkings wat redelike stewige pryse opgelewer het.

Die fondse wat ingesamel is, is alles aan welsynsorganisasies in die Clarens geskenk. Teen Sondagoggend was die atmosfeer in Clarens gedemp, aangesien heelwat besoekers nog hoofpyne gehad het van die vorige aand se vieringe. Hoe dit ook al sy, dit was weer 'n baie geslaagde Steelwings-naweek, een wat vir die res van die jaar mense Clarens toe aanlok, aangesien die Harley-eienaars die omgewing en rustige lewe van die dorpie regdeur die jaar kom geniet, net nie in sulke groot getalle op een slag nie.

Verder is dit ook 'n groot bron van inkomste vir die dorpie wat sy grootste inkomste uit toerisme verdien en die Harley-eienaars verwys ander graag na Clarens waar hulle so hartlik verwelkom word.

больница стоматологиялобановский александр игоревич класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.