Motors: Ford op die regte pad!

Deel op

Ford was nog al die jare een van die tipe vervaardigers wat goeie betroubare voertuie gebou het. Die meeste van hulle was nog altyd sonder fieterjasies en foefies, slegs pure bloubloed-Fords. Ford is ook soos GM Motors een van die grootes uit die VSA. Hier in Suid-Afrika was jy in die 60 en 70’s of ‘n Ford of ‘n Chev-aanhanger. Daardie jare se Fords was hoofsaaklik afkomstig van óf Brittanje óf Australië met die Ford Capri, ‘n totale Britse ikoon en die Fairmont en later Fairlane wat ‘n reuse- robuuste Aussie was.

Grand Tourneo Connect van agter
Grand Tourneo Connect van agter

In die 80’s en 90’s het die Ford Cortinas en veral die XR6-weergawe nogal ons plaaslike mark oorheers. Die Ford Sierra en Saphire en veral die XR8-weergawe van die Sierra het ook ikoniese status in Suid-Afrika bereik. Die ander been waarop Ford in die plaaslike mark nogal staanplek verwerf het, was met hul bakkies. Die 70’s en 80’s was dit die Cortina-bakkies, toe kom die Ford Courier-bakkie van die 90’s. Almal was op die Britse Fords van destyds gegrond. Vroeg ná die draai van die millennium het die Courier plek gemaak vir die Ranger-bakkie, wat meer op die Amerikaanse “Truck” geskoei was. Daar was natuurlik ook die Australiese bakkies in die Fairmont-weergawes wat hoofsaaklik met die Chev Lumina UTE-bakkies meegeding het.

Meer na gewone rygoed toe was daar natuurlik die Ford Laser wat eintlik maar net ‘n Mazda 323 met ‘n Ford-kenteken was en wie sal nou ooit die baie lelike Ford Telstar vergeet wat ook eintlik ‘n Mazda 626 was? Die bykans 15 jaar wat Ford en Mazda een maatskappy was, was maar donker jare vir egte Ford-aanhangers. Gelukkig is daardie dae vir goed verby en deesdae is Ford weer Ford en Mazda is weer onafhanklik terwyl beide maatskappye puik inoverende produkte lewer.

Ford Grand Tourneo Connect-paneelbord
Ford Grand Tourneo Connect-paneelbord

Ford het die oë laat rek met die bekendstelling van hul piepklein 1.0-liter-3-silinderenjin in die Fiesta so ‘n paar jaar gelede, maar intussen het die enjin nie alleen die wêreldenjin van die jaar gewen nie, maar ander modelle in die Ford-reeks het ook met die Ecoboost-tegnologie begin verskyn. Die wêreldwye druk op vervaardigers om hul enjinuitlaatsyfers in toom te hou, tesame met die alomteenwoordige mededinging en onuitputbare vraag na krag en spoed het byna elke vervaardiger gedwing om hul eie klein “Ecoboost”-enjintjies te ontwikkel. Só bind ons vandag by elke vervaardiger, met die uitsondering van ‘n paar, baie klein enjintjies in groot motors en die werkverrigting en gerief is eintlik beter as die ouer tegnologie van 5 jaar gelede. Daar is dan ook die bykomende bonus van brandstofverbruik en lae vlakke van besoedeling wat daarmee saamgaan.

Derde ry sitplekke
Derde ry sitplekke

Ons het die geleentheid gehad om drie van Ford se nuwe toetredes tot die plaaslike mark te bestuur. Hier volg ons indrukke van die eerste Ford.

Ford Grand Tourneo Connect 1.6T Titanium Auto

Die naam is amper net so lank soos die motor. Hierdie is Ford se miniveeldoenbussie. Nou gaan mense vra: Maar wat van die nuwe B-Max? Wel, volgens my word die B-Max nog onder die Tourneo Conect ingedeel in die B-segment van die mark, vandaar die naam B-Max. Die Tourneo Connect se naam is effens misleidend. Wat jy daar sien, is ‘n volgroottebus met die naam Tourneo, hy ding eintlik mee met voertuie soos die Citroen Relay en VW Crafter wat 16-sitplekbusse is. Dan is daar nog die Tourneo Custom wat diens doen in die Hyundai H1 en VW Combi se segment, met die Tourneo Connect wat eintlik in die VW Caddy se klas meeding.

Beenruimte agter
Beenruimte agter

Die Grand Tourneo is die 7-sitplekweergawe en sy direkte mededinger is dan ook die VW Caddy Maxi; in hierdie spesifieke geval die Trendline Outomatiese weergawe van die Caddy Maxi. Nou enige iemand wat nou al ‘n Caddy Maxi gesien het, sal vir jou sê dat dit maklik een van die lelikste motors op die pad is, maar in dieselfde asem ook een van die gerieflikste gesinsmotors met seker van die mees veelsydige laairuimtes. Die perfekte motor om ‘n klomp kinders of goedere mee rond te karwei.

Die ander twee motors wat ook in hierdie segment meeding is die Fiat Doblo Panorama en die Mazda 5. Wat voorkoms aanbetref, is die Ford veral van voor gesien werklik die mooiste onder die klompie. Met ‘n lang wielasafstand van 3m is al die motors feitlik buitenissig lank. Die Ford se skerp, doelgerigte lyne oor die enjinkap en die kenmerkende sierrooster wat die familiegesig van alle Fords is en effens aan die Aston Martin-sierrooster herinner, laat die Ford beslis uitstaan bo die res in hierdie geselskap. Die hoofligte self het my nogal baie aan dié van die Range Rover herinner. Mens kan net droom, nè?

Groot kantskuifdeure maak wyd oop en toegang tot die tweede en derde rye sitplekke is baie maklik. Ruimte is uitsonderlik en veral die derde ry sitplekke is werklik groot genoeg vir volwassenes om daar in te skuif. Vou mens egter die sitplekke plat, gee dit ‘n enorme laairuim van 2 761 dm3 wat groot genoeg is sodat ‘n 1,8 meter persoon daar kan plat lê. So die waentjie sal baie lekker kan gaan toer as daar net twee mense is. Bergplekkies bokant die bestuurder en voorste passasier se koppe is baie handig en in die Titanium-gewaad is die reuseglasdak ook ‘n groot voordeel. Dit laat hope lig in om die binneruim nog groter te laat voel as wat dit werklik is. Alles wat oop- en toemaak is elektronies. ‘n Baie goeie klankstelsel wat met kontroles vanaf die stuurwiel beheer kan word, is standaard. Togbeheer en ‘n trukamera, asook as parkeersensors voor en agter maak die parkeer van die wa baie maklik.

Bagasieruim
Bagasieruim

Ons toetsmotor was toegerus met Ford se 1,6 liter Ecoboost-petrolenjin. Die enjin lewer 110Kw en 240 Nm se wringkrag. Dit is gekoppel aan ‘n seepgladde 6-spoed-outomatieseratkas. Ford gee die brandstofverbruiksyfer aan as 8.0l/100km in die gekombineerde stads- en ooppadverkeer. Ons kon met ons rit vanaf Pretoria na Bela-Bela deur die stad en vol gelaai met 4 mense en al ons bagasie vir ‘n naweek 8,3l /100km aanteken. Die Ford wou net ry. Ek het nie een keer gedink die enjin trek swaar of sukkel om ander motors verby te gaan nie, nie eers teen lang opdraendes nie. Die togbeheer het sonder moeite die Fordjie op ons gekose spoed gehou sonder om veel deur die ratte te skakel wanneer ons by ‘n bult kom.

Teen R363 900 vir ons toetsmotor vergelyk die Ford baie goed met die Caddy se R368 200. Die Fiat Doblo is byna 50cm korter as beide die Ford en die VW en sal jou R324 000 kos terwyl die Mazda 5 ook byne 30cm korter is en jou R308 500 sal kos.

Ford Grand Tourneo Connect 1,6T Titanium Outo

Prys 3 uit 5
Voorkoms Buite 3 uit 5
Binneruim Kwaliteit en Afwerking 4 uit 5
Spasie en Praktiese toepassing 5 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en Ratkas 5 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 33 uit 40

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.