Die paralimpiese atleet Oscar Pistorius het die media geflous toe hy Maandagaand stilweg uit die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria vrygelaat is, ‘n dag vroeër as wat verwag is.
Hy sou volgens alle inligting eers vanoggend vrygelaat word. Pistorius is verlede jaar tronk toe gestuur nadat hy sy vriendin, Reeva Steenkamp in 2013 doodgeskiet het omdat hy haar glo vir ‘n inbreker aangesien het.
‘n Woordvoerder van die Departement van Korrektiewe Dienste het bevestig dat Pistorius reeds na sy oom se spoghuis in Waterkloof is.
Pistorius sal die res van sy vyf-jaar vonnis weens strafbare manslag in dié huis uitdien.
Hy sal glo ook psigoterapie moet ondergaan as deel van sy paroolvoorwaardes en sal ook nie vuurwapens mag besit nie.
Die Steenkamp-familie se regsverteenwoordiger, Tania Koen het vroeër gesê Pitorius se vrylating op parool was te wagte. Hulle sê dit verander niks, omdat hul dogter nie meer daar is nie.
Die staat se appèl teen Pistorius se skuldigbevinding aan strafbare manslag word volgende maand aangehoor.