Polisie neem betogers by UK in hegtenis

Deel op

Betogers by die Universiteit van Kaapstad is deur die polisie in hegtenis geneem. Die groep het hulself nie verset nie en protesliedjies gesing terwyl hulle in vangwa’s gelaai is.

Die betogende studente het die ingang na die Bremner-gebou beset.

Die universiteit het vroeër ‘n hofbevel van die Kaapstadse Hooggeregshof verkry om betogers vas te vat wat klasse en bedrywighede op die kampus ontwrig.

Oproer wat landwyd georkestreer word teen tersiêre instellings het die kampus van UK tot stilstand gedwing.

Alhoewel universiteite nie dieselfde fooie hef nie, betoog groepe landwyd teen registrasiefooie.

Die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande het die klein groepe amokmakers wat gewelddadig betoog en universiteite se eiendom vernietig, veroordeel.

Nzimande die studente tot kalmte gemaan tydens ‘n mediasessie en gesê die huidige vlaag studentebetogings is nie ‘n krisis nie.

Hy het toegegee dat dit ‘n uitdaging is, maar is vol vertroue dat ‘n oplossing bereik kan word deur besprekings, onderhandelings en kompromieë.

Nzimande sal vandag in Kaapstad wees vir ‘n vergadering met verteenwoordigers van verskeie universiteite universiteitsfooie te bespreek.

‘n Leier van die studente organisasie Sasco, Ntuthuko Makhombothi, sê universiteite vererger die situasie deur die polisie in te roep.

Alhoewel die staat arm studente help met studielenings, het die voorsitter van die ANC-subkomitee oor onderwys, Naledi Pandor gesê studente wat voorheen benadeel is, nie “uitgesluit” word nie.

By die Universiteit van die Vrystaat, waar fooie hoog is, was daar tot dusver nie betogings nie, terwyl Rhodes Universiteit wat goedkoop is, moes deurloop.

Intussen het studente aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad die bestuur se aanbod rakende die minimum deposito verwerp en onderneem om voort te gaan met hul betoging.

Hulle wil hê dat die universiteit sy minimum deposito afskaf, wat vereis dat studente 50 persent van hul klasgeld vooraf betaal om te kan registreer.

Die universiteit het aangebied om die deposito na 20 persent te verminder. Die studente wil ook hê dat die verhoging in klasgeld verlaag word.

Dié opstande wat kort voor die eindeksamen opgevlam het, laat die vermoede ontstaan dat wanpresteerders dit as ‘n verskoning wil gebruik om die universiteite te dwing om hulle deur te sit.

Professor Adam Habib het intussen gewaarsku dat ‘n sluiting kan volg indien geweld toeneem, nadat studente verkeer in Johannesburg ontwrig en ‘n motor omgekeer het.

Op die Stellenbosch-kampus het sowat 50 studente die Administrasie B-gebou beset en geëis om met die bestuur oor fooie te praat. Dreigemente om die kampus onregeerbaar te maak is ook geopper.

Berigte is ook ontvang dat studente aan die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap met optrede dreig indien verhogings nie heronderhandel word nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.