Betogers bestorm Senate House by Wits

Deel op

Die universiteitsraad van die Universiteit van die Witwatersrand sou studente vanmiddag toespreek, maar het daarteen besluit nadat betogers Senate House bestorm het.

Die Raad sê die optrede is strydig met ‘n ooreenkoms wat vroeër bereik is.

Wits het intussen besluit om studente kwyt te skeld van die deposito wat hulle moet betaal wanneer hulle inskryf.

Die Raad het ook besluit om besnoeiingsmaatreëls in te stel om te verseker dat alle universiteitsgeld behoorlik benut word.

Die visekanselier, Adam Habib het aangekondig dat hy afstand doen van sy prestasiebonus.

Die Raad het in ‘n verklaring gesê verhoogde universiteitsfooie wat selfs die inflasiekoers troef, is problematies.

Swart studente het daarna Empireweg in Johannesburg versper en ‘n motoris wat dit te naby gewaag het, moes vlug nadat die betogers die motor omgekeer het en die voertuig se vensters stukkend geslaan het.

Studentebetogings by die Kaapstadse en Rhodes universiteite duur intussen voort.

By die universiteit van Kaapstad is ‘n student tydens die betoging oor verhoogde klasgeld beseer. UK is die duurste universiteit in die land wat registrasiefooie betref, met gelde wat byna twee keer hoër is as die res.

Die polisie is ontplooi by UK waar studente al die ingange na die universiteit versper het.

Volgens studente word hulle toegang tot die Bremner-gebou geweier waar hulle met die universiteitsbestuur wou vergader.

Die universiteit het hulle gereed gemaak vir ‘n betoging wat vir môre beplan is. Die waarnemende kanselier van die universiteit, professor Francis Petersen het vroeër gesê die universiteit is daartoe verbind om te verseker dat universiteitsgeld nooit in die pad van arm studente staan nie.

Hy het egter daarop gewys dat vryheid van uitdrukking ‘n reg én ‘n verantwoordelikheid is.

Intussen sê die studentegroep “Open Stellenbosch” dat hulle Woensdag op die hoofkampus van die Universiteit Stellenbosch teen verhoogde universiteitsgeld gaan betoog.

By Rhodes is samesprekings tussen die studente en die universiteitsbestuur opgeskort nadat hulle nie tot ‘n vergelyk kon kom oor die betaling van ‘n aanvanklike bedrag voor registrasie nie.

Ingange na die Universiteit word versper.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.