Al vier spanne in vanjaar se halfeindronde van die wêreldrugbytoernooi in Engeland is van onder die ewenaar.
Hulle sal volgende naweek teen mekaar meeding om te bepaal wie ‘n week later in die eindstryd gaan speel.
Die Suidelike Halfrond het ten minste in een wedstryd op bedenklike wyse hul teenstanders van die Noordelike Halfrond uitgeskakel, nadat Skotland deur ‘n oorywerige skeidsregter die aftog teen Australië moes blaas.
Australië, wat baie swakker as Skotland vertoon het, het met ‘n enkele punt gewen. Die Skotte het rustyd met 16-15 voorgeloop, maar in die tweede helfte hul voorsprong vergroot.
Die Wallabies het die donkerblou truie op Twickenham in Londen in die doodsnikke van die wedstryd met 35-34 geklop.
Hulle het die Skotte met net ‘n enkele punt gewen nadat die skeidsregter ‘n omstrede strafdoel aan die Wallabies toegeken het twee minute voordat die eindfluitjie geblaas het.
Suid-Afrika wat Wallis ook naelskraap geklop het, het met kwota-figurante op die veld gesukkel en moes die mas met ‘n tiental spelers opkom.
Nieu-Seeland het egter met Frankryk afgereken, en Argentinië het Ierland uitgeskakel.
In die eerste halfeindrondewedstryd sal Suid-Afrika Saterdagmiddag op Twickenham teen die All Blacks speel, terwyl Australië en Argentinië mekaar Sondagmiddag in dieselfde stadion pak.
Die Argentyne, wat aanskoulike rugby gespeel het en uitstekend geskop het, het Ierland vroeër in die Milleniumstadion in Wallis met 40-20 geklop.