Die Kapoenskoenprys: PRAAG kondig nuwe maandelikse prys aan

Jare gelede was daar in Suid-Afrika ‘n mode vir grys skoene. Dit het by joernaliste vasgehaak en vandag nog beskuldig hulle hul teenstanders links en regs van onaanskoulike skoeisel. Maar intussen het die koms van die sogenaamde reënboognasie daarvoor gesorg dat Suid-Afrika nou met afskuwelike skoene in al die kleure van die spreekwoordelike reënboog kan spog. Trouens, daar is min lande op aarde waar ‘n mens daagliks soveel afskuwelike skoene kan gadeslaan. Onder heerskappy van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty en sy handperd, die ANC, oortref Suid-Afrika die legendariese gebrek aan skoenesmaak van hul heimat, die voormalige Sowjetunie!

Vandaar die nuwe maandelikse prys wat deur PRAAG uitgeloof word: die Kapoenskoenprys. Indien u nie weet watter kleur “kapoen” is nie, vra ‘n bietjie rond. Enigeen in u omgewing met ‘n kuns- of ontwerpopleiding – gebiede waar kwotas blykbaar nog nie geld nie – sal u kan sê. Die kleur is ‘n versnit, so in die spektrum van bruin en oranje, die ou Broederbond se gunstelingskakerings.

Daar is net een beoordelaar vir die prys: ons satiriese rubriekskrywer Skoppensboer. Hy ontvang graag inskrywings by die volgende e-pos: skoppensboer[by]praag.org. Alle foto’s van openbare persoonlikhede of selfs lede van die publiek wat die Kapoenskoenprys verdien, is welkom.

Om mee af te skop, loof ons vandeesmaand se Kapoenskoenprys aan die anglofiele sanger, Arno Carstens, van ‘n sanggroep genaamd Springbok Nude Girls, uit. Arme Springbok. Arme kaal meisies. Maar die man beskik oor ‘n paar kapoenskoene wat sy hele musikale œuvre oortref (foto hier bo).

Skoppensboer se commendatio

Ja, die genre van die skoen is duister. Is dit ‘n tekkie? Is dit ‘n hardloop- of bergklimskoen? Kleurgewys sluit dit volmaak by die kapoentema aan. Enigeen kan seker so ‘n lelike paar skoene gaan koop, maar dit verg ‘n ware kapoenkunstenaar om so ‘n paar trappers by ‘n modieuse broek en baadjie aan te trek. Hy wil vir ons sê: Hierdie skoene is my semiformele drag en as dít julle nie genoeg laat skrik nie, wag totdat ek regtig loslit raak, dan skiet julle almal katte by julle motorvensters uit! Interessant is ook dat sy hele uitrusting so in die rigting van ‘n kapoenkleur neig, so half seun-van-die-Broederbond-ontmoet-Joe-Slovo, wat dalk insgelyks iets oor sy politieke korrektheid en anglofilie wil sê.

Daarom ken ek sonder huiwering vandeesmaand, Oktober 2015, die historiese eerste Kapoenskoenprys aan die heer Carstens toe. Indien mnr. Carstens sy adres aan my wil stuur, sal hy ‘n gratis blikkie Nugget wat van suiwer petroliumprodukte gemaak is, in die kleur van sy keuse ontvang wat hy elke dag vir inspirasie kan snuif.

Veels geluk aan Arno Carstens, ons kapoenhaan van die maand!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.