Dan Roodt: Ja, Koos, die (konformistiese) Afrikaner se denke is bankrot

Onlangs het Koos Kombuis ‘n rubriek gepubliseer met die titel Is ons denke werklik so bankrot? Ek wil graag daarop antwoord, nie net omdat hy verkeerdelik na my en Steve Hofmeyr as “wit nasionaliste” verwys nie, maar ook omdat ek sy aanvoeling dat “ons denke” bankrot is, wil beaam. Hoeveel onse in jou pond Koos? kan mens tereg vra. Vir seker sluit ek nie myself en die res van die PRAAG-rubriekskrywers en nog minder vir Steve Hofmeyr by dié “onse” met bankrotdenke in nie.

Ten eerste wil ek vir Koos Kombuis reghelp met sy ontnugtering. Hy skryf:

Dit lyk asof al die kulturele bastions wat ons probeer bou het om die chaos buite te hou, vanaf die eng denke van die N.P. tot die droom van ’n eenheid bo alle rasgrense heen, meteens ’n dilemma ervaar wat vergelykbaar is met die Springbokke ná hul rampspoedige wedstryd teen Japan verlede maand.

Morele, strukturele en selfs geestelike bankrotskap.

Die droom van ’n “reënboognasie” is vervang deur die retoriek van die revolusie. Apartheid is terug in nuwe gedaantes.

In kort: hoe verder die spekter van wit nasionalisme verdwyn in die verlede in, hoe harder word die tromgeslag gehoor van ’n nuwe gedagtestroom: swart nasionalisme.

Natuurlik moet alle regdenkende Suid-Afrikaners enige vorm van nasionalisme verwerp.

Onmiddellik wil ek vra: Moet “alle regdenkende Suid-Afrikaners” insgelyks Engelse en Suid-Afrikaanse nasionalisme – wat deesdae een en dieselfde ding is – verwerp? Want die ekstreemlinkse Engelse (en Jode) is ooglopend triomfantelik en nasionalisties oor hul “oorwinning” oor Afrikaners. Die stryd om beheer oor swart opvoeding en media wat al sedert die koms van die Britse sendelinge woed, is oënskynlik deur hulle gewen. Dis waaroor die sogenaamde “opstand teen Afrikaans” in 1976, wat deur die Anglikaanse Kerk, asook The Star en The Rand Daily Mail, georganiseer en georkestreer is, óók gegaan het.

In die roes van hul nuutgevonde oorheersing binne ons demokratuur – ‘n mengsel van demokrasie en diktatuur – stook hulle gedurig die revolusie. Die “transformasie” van Suid-Afrika wat hulle verlang, word in al hoe radikaler terme geskilder. Kennelik verteenwoordig die radikalisering van die demokratuur – nou met minder demokrasie en meer diktatuur – vir Koos en baie ander wat in die skadu van die Helderberg op Stellenbosch grootgeword het, ‘n verrassing. Diegene van ons wat in Johannesburg opgegroei en die radikale, Engelse beweging by Wits en elders van naderby leer ken het, is eerder verras dat Suid-Afrika nie reeds veel nader aan sy Zimbabwaanse (om nou die pragtige Nederlandse adjektief te gebruik) eindpunt gekom het nie.

Koos verwys na “die eng denke van die N.P.”, maar is dit nie presies waarmee hy besig is nie? Beleef ons nie nou juis wat die N.P. in sy terminale fase vir ons wou bewerkstellig nie? Immers is Roelf Meyer, F.W. de Klerk, Leon Wessels, Renier Schoeman en die res van die N.P. tot die Engelse neomarxisme van ‘n multikulturele demokratuur bekeer! Die drie wesentlike elemente van Marx, Engels en Lenin se politieke denke is die volgende:

  • die nastreef van ‘n maatskaplike omwenteling of revolusie;
  • wat gelei word deur die “voorhoede van die werkersklas” en;
  • wat ná die staatsgreep ‘n “diktatuur van die proletariaat” sal vestig.

Al drie hierdie elemente is reeds in Suid-Afrika verwesenlik. Die ekstreemlinkse Engelse en Jode was die “voorhoede” wat met ‘n kombinasie van stedelike terreur en propaganda vir ons die revolusie gebring het. Die diktatuur van die proletariaat of die massa is ook reeds gevestig. Vandeesweek het ons by Wits gesien hoe selfs dié eertydse sitadel van marxistiese Boerehaat en “progressiewe denke” die knie moes buig voor ‘n skare wat die administrasiegebou, Senate House, beset het. Die “voorhoede” en die massa baklei tans oor die mag, hoewel die “voorhoede” bly in beheer van dít wat die Franse marxis, Louis Althusser, die “repressiewe staatsapparaat” genoem het: die weermag, die polisie en ander veiligheidsdienste. By enige marxistiese revolusie is die massa of die voorhoede bloot die instrument wat die voorhoede se finale oorheersing en magsgreep moet bewerkstellig.

Waarom is die Broederbond, die N.P., die N.G. Kerk en elke ander belangrike instelling so maklik tot die revolusie bekeer? Juis vanweë die bankrotskap van hul denke! Terugskouend het F.W. de Klerk en die res van die N.P. aan Joe Slovo, Ronnie Kasrils, Ben Turok en hul figurant Nelson Mandela oorgegee omdat hulle nie werklik verstaan het met wie en waarmee hulle te doene gehad het nie! De Klerk en sy broer Wimpie was produkte van die PUK waar dans tot redelik onlangs verbode was en die werke van Marx en Engels, asook die geskrifte van Harold Wolpe, Joe Slovo, Ruth First en ander, seker dieper in die doofpot gesteek is as Wimpie se seksuele skandes by die meisieskoshuis waar hy eens koshuisvader was. Praat van wolf skaapwagter maak!

Elke dag as ek die Afrikaanse koerante of hul aanlynoorblyfsels lees, kom ek onder die indruk van die volslae naïwiteit van ons mense, hul gebrekkige begrip van internasionale politiek, maar veral die enorme leemte in hul opvoeding as dit kom by die Europese denktradisie wat steeds in ‘n hoë mate die gang van globale politiek bepaal. In Frankryk, Nederland, Swede, Duitsland en ander lande heers daar tans ‘n intense debat oor kultuurkonflik wat deur die sg. “migrante” verhewig word. Europa ontdek nou die problematiek waarmee Verwoerd en sy tydgenote destyds geworstel het, dié van ‘n multiëtniese samelewing met diepgewortelde kultuurverskille. Pleks daarvan dat Afrikaanse skrywers, intellektuele en politici egter op gelyke voet hieraan deelneem, is hulle tjoepstil. Hulle probeer Slovo en Mandela se revolusie ter wille wees! Oor die enkele interessante idees en politieke insigte wat ons mense oor die jare ontwikkel het, het hulle geheueverlies, of verkies om glad nie daarvan kennis te neem nie omdat dit teenstrydig met die heersende Slovoïsme sou wees.

Mandela was nooit opreg in enigiets wat hy gesê het nie. Sy sogenaamde “versoenende uitsprake” is gemaak in ‘n tyd toe die ANC-SAKP nog nie volkome beheer oor die weermag en polisie gehad het nie. Hy was ‘n kulkunstenaar wat die revolusionêre broodnodig gehad het om hul staatsgreep te verstewig. Die paragraaf van Mandela wat Koos aanhaal, is in elk geval al tot vervelens toe aan ons deur die hoofstroommedia opgedring en dit is sinneloos. Geen grondwet op aarde kan die oorheersing van ‘n etniese minderheid verhoed nie, tensy dit dalk in Kanada is. Maar in alle veeltalige Westerse lande soos Kanada, België of Spanje waar daar min of meer billik met die regte van verskillende taal- of etniese groepe omgegaan word, geskied dit vanweë die dreigement van selfbeskikking en onafhanklikwording van die minderheidsgroep. Dis ‘n hele debat op sigself en ek laat dit daar.

Terug na “ons” intellektuele bankrotskap, waarvan ek myself en ‘n klein groepie andersdenkende Afrikaners uitsluit. Ons is nie deur die wierook van die demokratuur om die bos gelei nie. Die SAKP en sy “voorhoede” van “progressiewe denkers” en hatige revolusionêre verdrukkers was nie aan ons onbekend nie. Trouens, my eie vader het op dieselfde tydstip as Yossel (Joe) Slovo aan Wits gestudeer in ‘n tyd toe een derde van die studente op dié Engelse kampus Afrikaners was en daar reeds ‘n felle politieke stryd in aanloop tot die 1948-verkiesing gevoer is. Ons het as’t ware saam met die revolusionêre “voorhoede” grootgeword. Al was ons by tye hoe liberaal of hoe afvallig van die hoofstroom- Afrikanerkultuur, sou ons nooit die fout gemaak het om soos die N.P. ons vertroue in die revolusie te plaas nie. My liewe hemel, het die Afrikaner in 1994 dan niks geweet nie? Het hy nie Solsjinitsin gelees, of selfs Arthur Koestler of Albert Camus oor die “Rooi Kerk” nie? Die Franse intellektuele wat in die sewentigerjare verdoemende kritiek op marxisme en kommunisme gelewer het, het in die laat sewentigerjare selfs die voorblad van die Amerikaanse tydskrif Time gehaal. Het “ons” – Koos Kombuis se “ons” – nie daarvan kennis geneem nie?

Interessant genoeg laat weet Leon Lemmer vir my per e-pos nie te lank gelede nie dat hy reeds in 1980 op ons destyds aweregse tydskriffie Taaldoos – waarin Koos Kombuis destyds ook gepubliseer het – ingeteken was. Vandag hier op Praag herinner Lemmer ons aan ‘n brokkie deur Jaap Steyn dat Verwoerd in 1941 die voorstel gemaak het dat Afrikaans die enigste amptelike taal van Suid-Afrika moes wees. Vandag is Engels die enigste amptelike taal. Maar die feit dat ‘n klein groepie van ons al dekades lank en ondanks die revolusie wat die land – en die wêreld, as ons dink aan die skipbreuk van Oos-Europese kommunisme – intussen deurgemaak het, steeds konsekwent pro-Afrikaans en anti-kommunisties in ons denke gebly het, verskaf darem ‘n sprankie hoop dat nie almal se denke “bankrot” is nie.

Daar is net een stukkie waarheid in Koos Kombuis se kommentaar en dit is dat swart nasionalisme in Suid-Afrika ‘n “pseudo-beweging” is. Net soos elke bankrot Afrikaland deur ‘n groter moondheid of “donateur” (deesdae veral China) gemanipuleer word, só staan daar agter elke “swart nasionalis” ‘n blanke marxis of organiseerder of geldskieter. Waarskynlik het Malema nog nooit ‘n sent van enige van sy ondersteuners in die lokasie (“kasi” is seker die meer polities korrekte spelling, soos die SABC dit gebruik) ontvang nie. ‘n Beweging soos die EFF ontstaan nie uit die niet of “spontaan” nie. Politiek kos geld, baie geld. Sekere elemente van die “voorhoede” beskou dit egter as in hulle belang om ‘n figuur soos Malema te befonds, aan te praat, publisiteit te gee en van allerlei logistieke steun te voorsien.

Koos Kombuis het ook nie gelyk as hy meen dat ek en Steve Hofmeyr “wit nasionliste” is nie. Ek kan nie vir Steve praat nie, maar nêrens het hy nog ooit ‘n oproep gedoen dat “die witmense van Suid-Afrika” teen ander rasse moet saamstaan, op die manier waarop sommige Amerikaners dit doen nie.

Afgesien van die rol van marxistiese ideologie, verskaf taal die sleutel om Suid-Afrika te verstaan. Koos Kombuis ly aan die Stockholmsindroom as hy dink dat Steve Hofmeyr vir Blade Nzimande of Panyaza Lesufi sou “uitlok” om teen Afrikaners en Afrikaans op te tree. Het ons ooit die Engelse in die negentiende eeu uitgelok? Nietemin het die Britse koloniale owerheid alles in sy vermoë gedoen om ons taal te onderdruk en kort ná 1902 is dit deur Milner voortgesit.

Die probleem is dat Afrikaans en Afrikaners in die weg van die revolusie staan. Dit is deel van die doktrine van die SAKP wat reeds in die 1950’s aangeneem is dat Engels die enigste landstaal moet wees en dat die totale bevolking geassimileer moet word in een Engelstalige proletariaat wat deur die Party en die voorhoede gelei sal word. Die Katalaanse akademikus en politikus Alfred Bosch het ‘n skerpsinnige opstel oor die “ANC se konsep van nasie” geskryf en bevind dat Joe Slovo die kern daarvan verwoord het toe hy gesê het:

“Suid Afrika is nie ‘n veelrassige land nie: dis ‘n nasie-in-wording… Ons weet baie goed wat ‘veelvolkery’ beteken. Dis ‘n uitgeslape manier om nasionale heerskappy te behou… Ons kan geen uitgebreide of berekende voorstelle aanvaar wat ‘n ‘veelvolkige’ raamwerk in stand hou en wat ‘n verbrokkelde nasionale identiteit en daarmee saam wit rassisme, beskerm nie” (M. Van Diepen, 1988, p. 148).

In sy liedjie oor Koos de la Rey, geskryf deur Sean Else, het Bok van Blerk gesing:

Want my vrou en my kind
lê in ‘n kamp en vergaan,
en die Kakies se murg loop oor
‘n nasie wat weer op sal staan.

Om dit na die hede te transponeer, kon hy net sowel gesing het:

Want my vrou en my kind
lê tuis in angs en vergaan,
en die kommunis se murg loop oor
‘n nasie wat weer op sal staan.

Nie net die kommunistiese revolusionêr nie, maar ook sy handlanger, die grootkapitalis wat in radikalisme en revolusie ‘n manier sien om deur korrupsie en die koop van mag en invloed sy rykdom te vergroot, is ons vyand. Alles wat die Afrikaner geskep en ontwikkel het, soos Eskom, Telkom, Sasol, Transnet, die poskantoor, die munisipaliteite, om nie van die boere se grond te vergeet nie, sal nog op ‘n groot bankrotveiling verkoop word. Grootkapitaliste lek reeds hul lippe daarvoor af.
Daarom lei die Afrikaner se bankrotdenke onvermydelik tot sy finansiële en maatskaplike bankrotskap.

Onlangs lees ek in Rapport oor die huidige “studenteopstand” by Wits wat binne die verband van Suid-Afrika se “klassestryd” deur ene Claudi Malovich ontleed word (“Die anatomie van studenteprotes: Wat die Wits-protes oor ons samelewing sê”). Dis byna lagwekkend! Die spook van Karl Marx en sy volgelinge preek nou vir ons vanuit die “konserwatiewe” N.P. se eertydse koerant en Sondagmondstuk.

Plus ça change, plus ça reste la même chose, soos die Franse sê. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde. Ek verstout my om te sê dat dieselfde groepering of dampkring wat vir die Anglo-Boereoorlog verantwoordelik was – ‘n paar grootkapitaliste in Londen en Johannesburg, asook Kaapse politici – vandag steeds poog om Afrikaans en, soos Joseph Chamberlain dit gestel het, “die laaste oorblyfsels van Afrikanerisme in Suid-Afrika uit te roei”.

Internasionaal heers daar ‘n bedreiging vir alle blankes en ons sou dom wees om dit heeltemal te ignoreer. Maar in Suid-Afrika moet ons veral nie wit nasionaliste wees nie, want dit sal ons verhoed om “die mag agter die troon” raak te sien. Die swartman as sodanig is nie ons vyand nie; sedert die Voortrekkers se dae werk ons met bepaalde swart stamme saam, sluit ooreenkomste met hulle en verskaf bepaalde dienste en ontwikkelingshulp aan hulle in ruil vir hul goedgesindheid en neutraliteit in die groter stryd om beheer oor Suid-Afrika wat al 200 jaar of langer woed.

Nie net is die Afrikaner tans te swak om enige voordeel vir ‘n ander groep te hê nie, maar FW en Roelf Meyer het ook ons laaste oorblywende swart bondgenote in die vroeë negentigerjare in die rug gesteek. Geen selfrespekterende swart leier sal ooit weer ‘n Afrikaner vertrou nie, danksy die optrede van sogenaamde “Afrikanerleiers” in die onlangse verlede.

Wat Koos Kombuis uiteindelik bepleit, is ‘n Fukuyama-agtige “einde van die geskiedenis”. Hy hoop dat die geskiedenis in 1994 geëindig het en dat ons vyande almal soos mis voor die son verdwyn het. Daarom bestaan daar nou die moontlikheid van ewigdurende samesyn in ‘n “nie-rassige utopie”. Suid-Afrika is egter tans meer rasbewus as ooit onder sogenaamde “apartheid”.

Die hoofkarakter in James Joyce roman Ulysses sê ook iewers aan die begin, verwysende na Ierland: “Die geskiedenis is ‘n nagmerrie waaruit ek graag sou wou ontwaak.” Oral waar Engelse bedrywig was, het hulle sulke “nagmerries” geskep.

Ongelukkig vir Koos Kombuis en baie ander Afrikaners wat gedink het dat die geskiedenis of die stryd nou tot stilstand gekom het, of dat die nagmerrie daarvan “opgehou” het, is so iets onmoontlik. Paul Kruger het die ontdekking van goud in die Transvaal as ‘n vloek beskou, want hy het besef dat dit afguns en konflik sou veroorsaak.

Net so het Afrikanerregering in die twintigste eeu rykdom en welvaart geskep, wat verdere afguns en gierigheid veroorsaak het. Slegs wanneer die laaste Afrikanerbate ingepalm is, sal die konflik ophou, indien ooit. Want solank as wat ons oor die vermoë beskik om steeds die Afrikaanse taal en kultuur te bedryf, tesame met voortreflike skole en kampusse, sal daardie jaloesie oor ons aangewakker raak, al oorhandig ons elke ander ding wat ons besit, elke huis, plaas of voertuig. Selfs al gaan die hele Suid-Afrika tot niet en poog ons agterna om dit weer te herbou, sal dit vyandskap en nydigheid ontlok; lees maar Joseph Conrad se grootste roman, Nostromo, oor ‘n fiktiewe Suid-Amerikaanse kolonie waar ‘n Britse erfgenaam probeer om ‘n silwermyn weer aan die gang te kry.

Ongelukkig is ons in ‘n alles-of-niks-stryd vasgevang. Óf ons gaan heeltemal ten gronde, óf ons doen iets daaraan en begin opstaan soos ons voorouers soveel male vantevore gedoen het.

Steve Hofmeyr het nog nooit “alle swartmense voor die voet af(ge)maak as minderwaardige halfmense” nie. Net so is dit wensdenkery om te dink dat die Afrikaner se legio vyande, noudat hulle die hef in die hand het, gaan ophou om ons te kasty. Inteendeel, “ons” onkunde en apatie maak die roofdierinstink in hulle wakker en lei tot die tipe magswanbalans en oorheersing wat die Suid-Afrikaanse demokratuur tans kenmerk.

Anders as in jou Stockholmsindroomlogika, Koos, is dit nie Steve wat die toenemende revolusionêre klimaat aanhits nie, maar jy en ander wat nie die werklikheid van ons geskiedenis en die land se etniese en talige dinamiek in die oë wil kyk nie. Een of ander tyd word elke lekkergeloof of drogredenasie egter aan die toets van die werklikheid onderwerp. Die pessimistiese toon van jou rubriek sê reeds vir my dat die “reënboogteorie”, wat ‘n tydelike foefie van die vyand was – terwyl hy besig was om die weermagmagasyne en die polisiestasies oor te neem – aan skerwe lê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.