Die departement van gemeenskapmedisyne van die Universiteit van Calabar in die Cross River-staat van Nigerië ondersoek die jongste geval van Ebola in die land.
Tien mense word in kwarantyn gehou nadat hulle in die suidelike Nigeriese stad Calabar in kontak was met ’n pasiënt wat simptome soortgelyk aan dié van Ebola getoon het.
Die land is ’n jaar gelede vry van Ebola verklaar.
Die pasiënt het hom verlede week by die Calabar-hospitaal aangemeld met simptome wat ooreenstem met dié van Ebola.
Die plaaslike media berig dat die pasiënt sedertdien dood is, maar geen amptelike bevestiging is ontvang nie
Intussen verkeer die Skotse verpleegster wat verlede jaar Ebola in Sierra Leone opgedoen het, in ‘n “ernstige toestand” in ‘n isolasie-eenheid in Londen.
‘n Skotse hospitaal het bevestig dat die virus steeds teenwoordig is in Pauline Cafferkey se liggaam na die oorspronklike infeksie.
Die 39-jarige is terug na die isolasie-eenheid gevlieg in die Royal Free Hospital in Londen waar sy vir haar lewe veg.
Liggaamlike weefsel kan die Ebola-infeksie huisves maande nadat die persoon klaarblyklik ten volle herstel het.
Cafferkey van Cambuslang in South Lanarkshire, het byna ‘n maand in die eenheid aan die begin van die jaar deurgebring na sy die virus opdoen het in Desember 2014.