PRAAG-onderhoud met Kylie Thomas van Open Stellenbosch: ‘Ons daag blanke Afrikaneroorheersing uit’

Dr. Thomas, dit lyk asof u die ideologiese leidster van die “Open Stellenbosch”-beweging is wat, as ons dit reg verstaan, die universiteit heeltemal wil verengels?

Kylie Thomas: Ek moet ten eerste sê dat ek nie die ideologiese leidster van Open Stellenbosch is nie, maar saamwerk met vele merkwaardige studente wat wel ter tale is. Meeste van dié studente is swart wat ‘n moeilike tyd in Stellenbosch agter die rug het maar daar is verskeie studente wat blank en deel van Open Stellenbosch is, asook sekere lede wat blank is en Afrikaans praat. Al hierdie studente is daartoe verbind om maatskaplike geregtigheid te verwesenlik en dit is waarom hulle saamwerk. Die doelwit is nie om Afrikaans te elimineer nie maar om ‘n sekere vorm van blanke Afrikaneroorheersing aan die Universiteit van Stellenbosch uit te daag.

Hoe lank bestaan Open Stellenbosch reeds en wat was u rol in die beweging tot dusver?

Open Stellenbosch het in Maart vanjaar begin. My eie rol was tot dusver om studente te ondersteun, asook om navorsing te doen wat transformasie by die universiteit kan bewerkstellig. Ek stel belang in hoe universiteite gerig kan word maatskaplike geregtigheid in ons land teweeg te bring. Vir my beteken dit nie om enige deel van ons geskiedenis te elimineer of uit te roei of om enigiemand van dié gesprekke uit te sluit nie. Dit beteken beslis nie om een vorm van oorheersing met ‘n ander te vervang nie. In my klasse poog ek om ruimtes te open vir al my studente om hul sienings te stel en ek dink dat hull as jong Suid-Afrikaners sal hulle maniere moet vind om bo-oor alles te praat wat hulle steeds verdeel.

Hoe sien u die toekoms van Stellenbosch? Gaan dit ‘n hoofsaaklik swart, Engelstalige universiteit word?

Open Stellenbosch het die kwessie van die onderrigtaal by Stellenbosch geopper vanweë die wyse waarop dit funksioneer om swart studente van die universiteit uit te sluit. Vir my is die kernvraagstuk wat dit alles betref nie eintlik taal nie. Daar is heelwat mooi dinge in Afrikaans gedink, gesing en geskryf. Die kernvraagstuk gaan vir my om ongeregtigheid in ons samelewing en hoe ons dit kan oplos. Open Stellenbosch het ‘n beroep gedoen dat die Universiteitsraad ontbind moet word en dat ‘n forensiese ondersoek gedoen moet word na wat ons begryp korrupsie is in die wyse waarop die universiteit geruime tyd reeds bestuur word. Ek is van mening dat mense wat in die verlede vir menseregtevergrype en korrupsie verantwoordelik was nie leiers aan ons universiteite behoort te wees nie.

Dankie vir u belangstelling in die werk van Open Stellenbosch.

Naskrif: PRAAG het verskeie ander vrae aan dr. Kylie Thomas gestel wat nie beantwoord is nie, waaronder die vraag of daar antipatie jeens Afrikaners of Boerehaat in die geledere van Open Stellenbosch sou wees, asook of daar ‘n “verharding van die Engelse identiteit in Suid-Afrika te bespeur is”, met minder verdraagsaamheid teenoor Afrikaans of Afrikaners in die algemeen, veral noudat Engelstalige akademici die meerderheid selfs aan voorheen Afrikaanse instellings geword het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.