Die Vrystaatse onderwysdepartement het meer as R2,3 miljard se onreëlmatige uitgawes aangegaan en die meeste daarvan hou verband met die toekenning van tenders.
Dit is volgens die ouditeur-generaal se verslag vir die 2014/2015 boekjaar wat vandag tydens ‘n sitting van die staande komitee vir openbare rekeninge in die provinsiale wetgewer bespreek word.
Die verslag het bevind dat tenders toegeken is aan kontrakteurs wat nie aan die nodige vereistes voldoen nie. Kennisgewings vir die tenderproses is ook in baie gevalle nie betyds geadverteer nie.
Amptenare van die departement het nie persoonlike belang of die van nabye familie of vennote by ondernemings wat tenders gekry het, verklaar nie.
Ernstige kommer is uitgespreek oor dié departement se finansiële gesondheid.
Komiteevoorsitter, Neels van Rooyen, sê hy is bly dat die departement nou met die provinsiale tesourie en die ouditeur-generaal se kantoor saamwerk om die probleem aan te spreek.