NG Kerk Otjiwarongo staak finansiële bydraes aan SA NGK oor gays

Deel op

Die Nederduits Gereformeerde kerk Otjiwarongo het Woensdagaand ná ʼn buitengewone kerkraadvergadering besluit om alle bande met die Algemene Sinode in Suid-Afrika te verbreek.

Die gemeente het alle finansiële bydraes aan die NG Kerk in Suid-Afrika gestaak, maar sal voortgaan om bydraes te lewer aan die Namibiese sinode, op voorwaarde dat dié bydraes nie aan die algemene sinode oorbetaal mag word nie.

Dié besluit kom ná die Algemene Sinode die naweek besluit het homoseksuele ampsdraers hoef nié meer ʼn eed van selibaatskap af te lê om te kan praktiseer nie.

Ds. Hector Jooste, leraar, het per brief die moderatuur van die algemene sinode en die Namibiese sinode ingelig en die brief ook op die gemeente se Facebook-blad geplaas.

‘n Kerkskeuring dreig nadat ‘n paar linkse voorbokke besluit het gays moet in die NG Kerk verwelkom word.

Die Otjiwarongo-gemeente sal voorlopig bande met die Namibiese sinode hou en eers na die volgende sinodesitting ‘n besluit maak oor deelname.

Ds. Pine Pienaar, moderator van die Namibiese sinode, het die besluit as “verregaande” beskryf en gesê dis ‘n “oorhaastige, emo­sionele besluit”.

Pienaar sê die moderatuur van Namibië vergader Vrydag oor die Otjiwarongo-gemeente se besluit.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die algemene sinode, wou nie kommentaar lewer nie.

Thinus Pretorius, voorsitter van die kerkraad se dagbestuur, het luidens die Republikein gesê die verklaring deur Jooste is gegrond op ’n konsepdokument deur die kerkraad en die gesprek daaroor vorm deel van ’n proses.

Jooste het by navraag beaam dat die gemeente voorlopig sy verbintenis met die sinode in Namibië behou en dat die kerkraad eers ná die volgende Namibiese sinodale sitting vroeg aanstaande jaar oor dié verbintenis sal besluit.

Luidens die Algemene Sinode se besluit verlede week in Suid-Afrika kan kerkrade hul eie posisie oor die saak inneem en self besluit of hulle van hul homoseksuele ampsdraers verwag om selibaat te lewe of nie.

Maar volgens Jooste is dié besluit “onhoudbaar”. “Ons hoef mos nie besluite by die Algemene Sinode te neem as hulle omdraai en sê elke gemeente kan maak soos hulle wil nie. Dit is ’n baie gevaarlike manier van doen.

“Die uitlewing van homoseksuele gedrag is verkeerd; die Bybel maak dít baie duidelik. Dit gaan oor die beginsel van die saak. As ons alles in die Bybel wil relativeer, waarvoor het ons dan nog ’n Bybel? Waar trek jy die streep? Gooi die boek dan liewer weg,” het Jooste gister aan Republikein gesê.

“Ek dink homoseksualiteit is ’n komplekse kwessie, maar dit beteken nie ons kan homoseksuele gedrag goedkeur nie. Jy sal tog nie toelaat dat ’n alkoholis aanhou drink en in sy sonde volhard nie.”

“Die Algemene Sinode se besluit laat toe dat mense met hul sondige leefstyl kan voortgaan; ons kan nie hiermee saamstem nie.”

Volgens ds. Clem Marais, sekretaris van die Namibiese Sinode, is dit egter nie só maklik om net van die Algemene Sinode weg te breek nie. Hy sê ook dat so ’n besluit nie net oorhaastig en onnodig is nie, maar ook nie uitvoerbaar is nie.

“’n Gemeente kan nie uit verband tree met die ­Algemene Sinode en steeds in verband bly met ’n streeksinode nie. Die Algemene Sinode is nie ’n vergadering van gemeentes nie, maar ’n vergadering van sinodes,” sê Marais.

Marais sê verder dat predikante wat bande met die Algemene Sinode wil verbreek, hul “bevoegdheid in gedrang kan bring” aangesien dit die Algemene Sinode is wat leraars legitimeer en tot die bediening toelaat.

Marais verduidelik dat ’n gemeente se potensiële wegbreking van die NG kerkverband ook geweldige spanning plaas op gemeentelede wat nie wil wegbreek nie. “Sou net een gesin in die gemeente aandui dat hulle nie wil deelneem aan die afskeiding van die NG verband nie, bly hulle agter as die NG gemeente Otjiwarongo en neem hulle alle bates en laste oor.

“Die Algemene Sinode se besluit laat volledig ruimte vir kerkrade om ’n eie standpunt oor die saak in te neem. Op dié manier kan die gesprek hieroor voortgaan en kan ons almal mekaar help om die Skrif beter te hoor. Seksualiteit is myns insiens hoegenaamd nie so ’n kernsaak in die geloof dat dit afskeiding regverdig nie,” sê Marais.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.