Boko Haram slaan toe in Tsjad en Kameroen

Deel op

Dubbele selfmoordbomaanvalle Sondag het die lewe van minstens nege mense in die verre noorde in Kameroen geëis, ’n dag nadat driedubbele ontploffings in Tsjad die dood van 41 mense veroorsaak het.

Boko Haram word vir die naweek se geweldpleging verantwoordelik gehou, het AFP berig.

Albei lande is deel van die streekskoalisie wat teen die militante veg, wat in die afgelope maande hul bloedige aanvalle uit hul tradisionele vesting in die noorde van Nigerië verder buite die land se grense geneem het.

Twee vroue selfmoordbomaanvallers het die aanvalle in die Kameroense nedersetting Kangaleri uitgevoer, het veiligheidswoordvoerders gesê.

Nege mense is dood toe die eerste vrou ’n bom in ’n klein melk- en oliebolrestaurant laat ontplof het. Die tweede bom­aanvaller was die enigste slagoffer toe sy haar bom laat ontplof het.

Van die 29 beseerdes is verskeie “baie ernstig” beseer, het ’n plaaslike amp­tenaar gesê.

Die dodetal in Saterdag se drie bomontploffings in die stad Baga Sola in Tsjad het intussen tot 41 gestyg.

Nog 48 mense is in die aanvalle beseer, het die Tsjadiese regering in ’n verklaring gesê.

Een van die ontploffings het ’n vismark in Baga Sola geteiken en die ander twee ontploffings het in ’n vlugteling­kamp aan die buitewyke van die stad plaasgevind.

Dit was die eerste sodanige aanval op Baga Sola. Die indruk dat dit ’n redelike veilige stad is, het tienduisende Nigeriese vlugtelinge en inwoners van Tsjad wat haweloos gelaat is deur Boko Haram-geweld, na die stad laat stroom om ’n veilige hawe te vind.

Humanitêre- en veiligheidsbronne sê verskeie mense het hulself in die middel van ’n skare mense opgeblaas.

Tsjad se verre noordelike gebied het reeds sedert Julie 15 selfmoordbomaanvalle beleef wat aan Boko Haram toegeskryf word. Meer as 100 mense is in die aanvalle dood.

Minstens 17 000 mense is reeds dood en meer as 2,7 miljoen is haweloos gelaat sedert Boko Haram in 2009 met sy insurgensie begin het.

Die groep, wat ’n alliansie aangekondig het met die Islamitiese Staat wat in Irak en Sirië veg, het die afgelope tyd grondgebied verloor nadat met ’n multinasionale aanslag begin is, maar veg nou met guerrilla-styl aanvalle en bomaanvalle terug.

Die Nigeriese weermag het Sondag Boko Haram-vegters aangemoedig om oor te gee.

Die weermag sê meer as 200 lede van die militante groep het hulle op 25 September in die noordoostelike dorp Banki oorgegee. Die dorp is as afspringplek vir aanvalle teen Kameroen gebruik.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.