Tunisiërs wen Nobelvredesprys vir Arabiese Lente

Tunisië se Nasionale Dialoogkwartet het Vrydag die Nobelvredesprys gewen vir sy bydrae om demokrasie te bevorder.

Die Arabiese Lente in Tunisië, is deur die Nobelkomitee voorgehou as ‘n voorbeeld van vreedsame oorgang in ’n streek wat onder geweld en opstand gebuk gaan.

Die kwartet, bestaande uit die Tunisiese algemene werkersvakbond, die konfederasie van nywerheid, handel en kunshandwerk, die menseregteliga en die orde van regspraktisyns, het in 2013 tot stand gekom.

Die kwartet het die demokratiseringsproses ondersteun toe dit die gevaar geloop het om in duie te stort, het die Nobelkomitee gesê.

“Dit is ’n blye en trotse dag vir Tunisië, maar ook ’n dag van hoop vir die Arabiese wêreld,” het Hussein Abassi, hoof van die Tunisiese werkgewersvakbond, Vrydag gesê.

“Die prys stuur ’n boodskap na ons streek om wapens neer te lê en ’n gesprek om ’n onderhandelings­tafel te voer.”

Met sy nuwe grondwet, vrye verkiesings en ’n politiek van kompromie tussen Islamitiese en sekulêre leiers, word Tunisië voorgehou as ’n model vir die oorgang van ’n diktatorskap na ’n demokrasie.

“Dit is wonderlik. Tunisië is ’n Arabiese land wat uitstekend gevaar het sedert die Arabiese Lente,” het Ahmad Fawzi, ‘n woordvoerder van die Verenigde Nasies, gesê.

Intussen het die Libiese konflik oorgespoel na Tunisië met ‘n gewapende groep in die noordwestelike Libiese kusstad Sabratha wat honderde Tunisiërs Maandagnag ontvoer het.

Die aantal gyselaars is nog nie bevestig nie, maar volgens plaaslike nuusberigte is 300 Tunisiërs ontvoer.

Militante uit Libië het verantwoordelikheid vir die ontvoering aanvaar.

Die ontvoering was glo uit wraak teen die Tunisiese regering, omdat Tunisiese veiligheidsmagte onlangs ‘n Libiese politikus in hegtenis geneem het weens sy betrokkenheid by terreur.

Betogings is in Libië gehou dié week op Martelaarsplein in sentraal Tripoli teen die nasionale eenheidsregering wat deur die Verenigde Nasies se gesant, Bernardino Leon, voorgestel is.

Libiese politici­ het ingestem tot ’n nuwe nasionale regering onder leiding van eerste minister Fayez el-Sarraj ná maande van uitgerekte onderhandelinge.

Libië is sedert die val van Moeammar Ghaddafi in chaos gedompel. Die land het twee mededingende parlemente en verskeie groepe veg om beheer van die land se energiehulpbronne.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.