Indiese president besoek Palestina te midde van geweld

Deel op

‘n Palestynse moeder en haar driejarige dogter is Sondag dood in ’n Israelse lugaanval in Gasa. Dié Israelse lugaanval kom na ‘n reeks beweerde mesaanvalle deur Palestyne.

Volgens die Israelse polisie het hulle gekeer dat ’n motorbom Jerusalem bereik deur ’n lugaanval in Gasa uit te voer.

Palestyne betwis dit egter en meen ’n brand wat weens ’n elektriese fout in die motor ontstaan het, is verkeerdelik vir ’n ontploffing aangesien.

Talle Israeli’s en Palestyne is die afgelope tyd in die bloedvergieting dood. Moslemwoede kook oor weens toegang vir Jode tot die Al-Aqsa-moskeekompleks in Jerusalem.

Geweld het versprei van die Heilige Stad en die Israeli-­besette Wesoewer na die binneland en die Hamas-beheerde Gasa.

Die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, se vermaning aan Israeli’s dat daar geen kitsoplossing vir die ­situasie is nie, het die vermoede versterk dat Israel nie gou oplossings vir die konflik sal vind nie.

Dit het vrese oor ’n derde Palestynse opstand, ‘n Intifada, laat opvlam.

Volgens Palestynse mediese beamptes is 37 Palestynse betogers Sondag gewond deur Israelse troepe in die Wesoewer.

In reaksie op die vuurpylaanvalle oor die grens het ’n Israelse vegvliegtuig ’n Hamas-fasiliteit in Gasa geteiken.

Volgens Palestynse mediese beamptes is ’n swanger ma en haar driejarige dogter wat naby gewoon het in dié aanval dood.

Moslems is gekant teen die Joodse teenwoordigheid by die Aqsa-moskeeplein, Islam se derde heiligste terrein.

President Pranab Mukherjee het intussen die eerste Indiese staatshoof geword wat Palestina Maandag amptelik besoek het.

Indië het sy steun vir ‘n Palestynse staat bevestig tydens ‘n ontmoeting met die president van die Palestynse Nasionale Owerheid, Mahmoed Abbas.

Abbas het gesê Palestina se volle aandag is gerig op die beheer van die spanning. Die Palestyne eis ’n staat in die Wesoewer en Gasa saam met Oos-Jerusalem.

Israel het ál drie die dele in 1967 in die Midde-Oosterse oorlog verower. Volgens Jode is dit ook die ligging van Bybelse tempels.

Abbas blameer Joodse fundementaliste se optrede by Al-Aqsa moskee in Jerusalem vir die huidige krisis.

Die Tempelberg, waarbinne die moskee geleë is, word bedreig deur die Islamitiese staat, sowel as ander militantegroepe soos Al-Qaeda en die al-Nusra Front het die Palestynse Owerheid gesê.

“Palestina glo nie in hierdie organisasies nie, en wil hulle nie op sy grondgebied hê nie.”

Mukherjee het gesê Indië glo in “‘n onafhanklike staat van Palestina met Israel as sy buurman en Oos-Jerusalem as hoofstad”.

Indië ondersteun die Palestynse standpunt dat ‘n oplossing gevind moet word op die basis van die grense voor 1967, en dat die huidige situasie nie volhoubaar is nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.