Swendelaars teiken selfoongebruikers met ‘lotto’ beloftes

Deel op

Swendelaars het ‘n SMS-foefie uitgedink waarmee hulle goedgelowiges besteel. Selfooneienaars moet veral bedag wees op die ‘Jy is ’n wenner’-slenter.

’n Boodskap per e-pos of SMS word gestuur om te sê dat jy die wenner van die ‘VSA lotto’ is, al wat jy moet doen is om ’n bedrag oor te plaas in ’n rekening om jou ‘miljoene’ te ontvang.

Ander soortgelyke boodskappe word ook gebruik om mense om die bos te lei.

“Al hoe meer sake word aangemeld deur bejaardes wat deur hierdie slenters gevang word,” sê Sinoville-polisiewoordvoerder, Mirna von Benecke.

“Let op vir boodskappe wat lui: ‘Bel hierdie persoon want jy is die gelukkige wenner van ’n promosie of trekking’. ‘Gaan by hierdie webtuiste in om jou prys op te eis’. As jy nie ingeskryf het vir ’n kompetisie nie, hoe kan jy iets wen?”

Von Benecke sê dat veral bejaardes versigtig moet wees, en nie boodskappe van onbekende nommers sommer goedsmoeds te aanvaar nie.

Von Benecke gee die volgende wenke aan bejaardes en selfoongebruikers om te verhoed dat hulle met dié soort slenters gevang word. Vra jouself die volgende vrae:

– As jy nêrens jou naam en nommer ingevul het nie, hoe kon jou naam getrek word in ’n “gelukkige” trekking?

– Hoekom moet jy geld inbetaal in ’n rekening as jy dan nou geld gewen het?

– Hoekom moet jy geld betaal voor jy die prys kan opeis?

Moet onder geen omstandighede jou persoonlike inligting (bankbesonderhede, identiteitsdokumente, woonadres, en meer) op webtuistes of aan vreemde persone verskaf nie.

Moet ook nie jou rekeningnommer of pinnommer insleutel op versoek van onbekende persone nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.