Die antwoorde op die dinge

Deel op

"En as die Afrikaner ooit oorleef, sal dit nie vanweë die ONS wees nie, maar vanweë die rustelose enkeling wat altyd ondermyn, uitdaag, nuut dink en op 'n ander wêreld hoop". (Prof Jurie le Roux, FilosofieKafee, Nov 07)

Nie 'n gewilde stelling in die 'Suid Afrika wat moet kom' nie, as ons die maghebbers op hulle woord moet neem. Ek het elders die kenmerke en geskiedenis van hierdie 'enkeling' probeer karteer (sien Fragmente, No 6, 2000), en op sy denkende ingesteldheid gewys. Maar die ruimtes om krities en denkend met dinge van belang vir die Afrikaanse groepering in hierdie land om te gaan op 'n gepaste vlak, het ernstig gekrimp. Die ruimtes van die (nie-elektroniese) gedrukte media veral, indien ons vir 'n oomblik akademiese joernale buite rekening laat. En selfs in die akademie: hoe lank nog sal ons ons daar in Afrikaans kan uitdruk, dieselfde Afrikaans wat Suid Afrika gebring het op die vlak waar die land in vergelyking met die res van Afrika selfs vandag nog verkeer. As dit nie tydskrifte is wat sluit nie ('n tydskrif soos 'Fragmente', byvoorbeeld), knak koerante (Die Wêreld, Vrye Afrikaan) en word die debat gevoer in gedrukte media wat soms veel te wense oorlaat itv vlak van beriggewing en konteks. Waarom hierdie vrees vir kompeterende standpunte? Johann Rossouw het al in 1998 die dood van die onafhanklike pers aangekondig en opgemerk dat die Afrikaanse media soms sensasionele verleenthede is wat hulself relevant probeer hou met krapkaarte (en ons kan seker nou SMS-kompetisies byvoeg) (Fragmente, No 1, 1998). Hy lewer dan ook 'n pleidooi vir 'n verbetering van die kwalitatiewe inhoud van die Afrikaanse gedrukte media en veral ook vir 'n herlewing van die vertaalkuns (vertaal in Afrikaans). Waar debatteer ons dan? En wat wil ons regkry deur die debat? Maar meer belangrik nog: hoe benader ons sake van belang en verseker ons dat ons nie slagoffer word van die moderne neiging tot vinnige oplossings en waarhede nie? Wat vra ons en hoe, en hoe lyk ons antwoorde?

Deel op

Sommige is van mening dat die essensie van die dinge onagterhaalbaar versteek is agter 'n ondeurdringbare geheimenis. Ons mors dus ons tyd om te probeer uitvind wat gaan vir wat. Dit is een voorbeeld van 'n antwoord op die vraag of daar antwoorde is. Maar die vrae duur voort. Is daar uitslag op die dinge wat ons pla, op daardie dinge wat antwoorde vra ten einde ons voortbestaan te verseker, vir sovêr ons beheer het daaroor? 'n Ou vraag, waarop die mens- en natuurwetenskappe sedert hulle ontstaan elkeen op hul eie manier probeer antwoord het, en steeds probeer antwoord. Een ding staan egter vas en word gedeel deur almal betrokke in hierdie debat: antwoorde is nie maklik nie, beslis nie as dit regtig van waarde wil wees nie. Maar "antwoorde" is die einde van die proses. Die begin is die stel van die regte vrae. Ek wil nie op daardie debat hier ingaan nie. Wat ek wel wil doen, is om 'n suggestie te laat rakende een manier waarop ons dalk kan probeer om dinge so effe te vergemaklik in hierdie proses van antwoorde soek.

Ek het dit hier oor daardie aangeleenthede waaroor ons wonder, vrae vra, ons soms verkyk aan die skokkende antwoorde wat gegee word en wat dan as "die waarheid" geld. Dit gebeur baie dikwels wanneer die doel "konsensus" is; konsensus as die resultaat van kompromie-sluit. So is die resultate van die Suid-Afrikaanse "konsensus" van voor '93 en na '94 aan ons (oor)bekend. Kom ons probeer 'n slag een tree terugstaan van hierdie proses van antwoorde soek. Is daar dalk iets gemeenskapliks te vind aan al die moontlike antwoorde wat gegee word? Wat byvoorbeeld kan ons hieroor uitvind as ons antwoorde soek op die uitdagings wat ons tans in SA beleef, ook as Afrikaners? Uit my eie wonder oor die dinge en gedagte-eksperimente om sin te probeer maak uit 'n oorvloedige en dikwels oneerlike debat, wil ek 'n voorstel maak as dit kom by die soek na antwoorde en die maak van 'n ingeligte keuse uit die veelheid van standpunte wat meeding om ons ondersteuning. Gekonfronteer deur hierdie see van vrae en antwoorde, wil ek vra dat u vir 'n oomblik die volgende stelling oorweeg: Enige vraag kan waarskynlik vêr op die pad van 'n werklik eerlike antwoord vorder indien ons dit benader na aanleiding van die temas (in enige kombinasie) hieronder en evalueer as deel van ons debat en argumentasie, waardeur 'n verskilmakende antwoord op die vraag onder bespreking waarskynlik gevind sal word. Hierdie temas is:

"    Mag – in alle vorme daarvan. Watter magsverhoudings is aanwesig in die debat, wat is die winste en verliese te behaal deur die debat te filter; kortom, hoe deurtrek is die aangeleentheid onder bespreking van "Mag"?

"    Geskiedenis – waar kom die debat vandaan, hoe het dit ontwikkel, wie is en was die rolspelers en watter dinamika is hierin opgesluit of hieruit af te lei?

"    Persepsies – Watter persepsies bestaan in die debat, hoe het dit tot stand gekom en watter gronde is daar hiervoor? Wat is die sielkunde van en in die debat?

"    Ekonomie – watter mate (en vorm) van geld is betrokke en wat is die wins/verliesverhouding wat hier bepalend kan wees?

"    Biologie en Antropologie – Verban uit die moderne debat beteken nie dat relevansie ingeboet word nie. Wie sal verskil dat "etnisiteit", "ras" (SA, VSA), "oriëntering" (homoseksualiteit) en selfs "spesie" (diereregte en die verhouding met mense) al meer prominente rolle speel in internasionale en nasionale debatte, selfs al word dit dikwels ontken? Daarbenewens maak die vloeibare aard waarop daar tans met hierdie aspekte in die huidige debat omgegaan word (dan relevant, dan nie, soos nodig blyk te wees) 'n oorweging hiervan noodsaaklik

Belangrik is om te bepaal wat die onderlinge verhouding en prominensie is tussen hierdie faktore in die saak wat ons onder oë het, want vervlegheid is hier dikwels die reël eerder as die uitsondering. Hierdie aspekte is natuurlik plek-plek reeds teenwoordig in die huidige debat, en as sodanig lewer dit 'n bydrae tot die lig van die vlak van die debat waar dit ook al eerlik voorkom. Maar ek dink ons moet eksplisiet daarna gaan kyk, en die impak wat dit het op die aanvoer, die verloop en die afloop van die debat, lg dikwels met gevolgtrekkings wat reeds die grondslag lê vir die verdere debat. Ek kan dus nou voortgaan en aan die hand van hierdie voorstel verskeie voorbeelde uit die Suid-Afrika van die verlede en die hede gaan haal om die punt te probeer bewys. Dit sal waarskynlik hoogs subjektief wees, en daarom laat ek dit graag aan u, die leser, oor om die voorstel aan die hand van u eie belangstellings te toets. Maar meer spesifiek: probeer ook die eksperiment aan die hand van die huidige debat rondom Afrikaans, die Afrikaner, Afrikaanses, en die onvermoë om mekaar (weereens) hieroor te vind. Aan diegene wat betrokke is by die nasionale debatte en dan veral die Afrikaanse saak: kom ons probeer by ons volgende seminaar en/of konferensie vir 'n slag die argument benader vanuit die invloed wat hierdie temas op die realiteit van die Afrikaanse saak het. Kom ons gebruik dit bv as 'n toetslys om vas te stel of ons regtig oor alles gedink het. Ek wil my verstout om te sê dat ons, as ons eerlik wil wees in ons pogings, op antwoorde gaan afkom wat nie net die huidige debat se vlak gaan lig nie, maar wat ons dalk effens nader aan iets meer substantiefs as wat tans geld as vertrekpunte, gaan skuif. En as ons dan minder gewild is as voorheen omdat ons eerliker wil wees, is dit 'n klein prys om te betaal vir integriteit in 'n samelewing wat in elk geval funksioneer soos prominente denkers hieroor, soos Foucault, Orwell, om enkeles te noem, dit nie in hulle wildste (weliswaar aangepaste) drome kon voorsien nie. Moontlik kan ons so verseker dat die debat oor alles Afrikaans, om 'n analogie van Johan Steyn te gebruik en effens aan te pas, nie met 'n punt tot 'n einde kom nie, maar wel elke keer met 'n uitroepteken afsluit en met 'n aandagstreep voortgesit word.

логические игрылобановский александр дочь

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.