Beamptes van Transnet se spoorvragafdeling is besig met opruimingswerk nadat ‘n goederetrein Sondag tussen Noupoort en Colesberg in die Noord-Kaap ontspoor het.
Transnet-woordvoerder, Mike Asefovitz, sê die trein met 29 waens wat motors vervoer het, het kort voor 14:00 ontspoor.
Volgens hom was die trein van Port Elizabeth onderweg na Kaalfontein naby Pretoria. Hy sê die oorsaak van die ongeluk en die omvang van die skade word ondersoek. Niemand is beseer nie.
Asefovitz sê die spoorlyn sal na verwagting teen Woensdag weer oopgestel word vir spoorverkeer.
Dit kom nadat ‘n passasierstrein van die Shosholoza Meyl in Augustus sowat 30km van Kimberley ontspoor het. Daar was 101 passasiers op die trein wat van Johannesburg na Kaapstad onderweg was.
Vier passasiers is in die hospitaal behandel. ‘n Splinternuwe Afro 4000-lokomotief van Spanje het dié trein getrek.
Dit is nie bekend wat die lokomotief was in die jongste voorval nie.