Dan Roodt: NG Kerk: Gebruik homo-kwessie om APK en NGK te herenig

Die nuus dat die NG Kerk se Algemene Sinode onder druk van ‘n linkse faksie van kultuurmarxistiese akademici besluit het om homoseksualiteit vanuit die Bybel te regverdig, het skokgolwe deur die kerk gestuur en vrese vir skeuring word deur verskeie predikante geuiter. Dié stap van die NG Kerk verteenwoordig net nóg ‘n mislike stasie op die voortsnellende revolusionêre trein wat Suid-Afrika en die Afrikaner uiteindelik gaan vernietig.

Die akademiese teoloë hoop om hul loopbane aan die universiteite te bevorder deur ekstreme standpunte af te dwing. Nie net is ons geagte minister van hoër onderwys die leier van die Kommunisteparty nie, maar aan die universiteite het die kultuurmarxisme van die Italiaanse kommunis, Antonio Gramsci, asook die Duits-Joodse “Frankfurt-skool” omtrent alle dissiplines oorgeneem, ten minste in die geesteswetenskappe. Die handjie vol akademiese teoloë wat die NG Kerk al verder na links druk sover dit homoseksualiteit en die bevrydingsteologiese “Belhar-belydenis” betref, is bereid om ‘n miljoen gelowiges op te offer om hul eie selfsugtige kripvretery in die universitêre burokrasie te bevorder.

Sover ek dit verstaan, is elke NG-gemeente outonoom en beskik oor sy eie bates, soos vaste eiendom. Daarom staan dit elke gemeente vry om uit die NG Kerk te stap en byvoorbeeld by die meer behoudende Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) aan te sluit. Hierdeur kan ‘n nuwe eenheid onder Afrikaanse gelowiges ontstaan, ná die verdeeldheid wat die ekstremistiese marxiste en bevrydingsteoloë soos André Bartlett, Chris van Wyk, Johann Ernst, Monty Sahd en ander veroorsaak het.

Eintlik beskik Suid-Afrika en veral die Afrikaner oor weinig tradisies van sekulêre denke. Ons enigste wysbegeerte is dié wat hand aan hand met die teologie geloop het. Amptelik bestaan 75% van die Suid-Afrikaanse bevolking uit Christene. Vandaar dan ook die mislukking van die marxisme-leninisme van Joe Slovo, Ahmed Kathrada, Jeremy Cronin, Albie Sachs en ander leiers van die Kommunisteparty. Nie eens die sg. “swart werkersklas” wat vir hulle die “enjin van die geskiedenis” sou wees, was vatbaar vir die klassieke, ateïstiese kommunisme soos dit in die voormalige Oos-Europa en veral die Sowjetunie beoefen is nie. In daardie lande, veral natuurlik in Rusland, is miljoene ortodokse Christene vermoor, gemartel en vervolg omdat hulle nie die “nuwe evangelie” van kommunisme wou aanvaar nie.

Pleks van kommunistiese ateïsme met geweld af te dwing, het plaaslike marxiste met die diaboliese plan vorendag gekom om die kerk self as ‘n Trojaanse perd vir hul idees te gebruik. Nadat marxisme-leninisme en sy werkerskultus skipbreuk gely en die “kultuurmarxisme” die heersende ideologie geword het, het dit veral sin gemaak. Dit is deel van die “lang opmars deur die instellings” waarvan Gramsci gepraat het. Benewens die skole en universiteite, wat reeds voertuie vir marxistiese breinspoeling geword het, bied die kerk toegang tot volwassenes wat nie meer deur opvoedkundige instellings beïnvloed word nie.

Indien enigeen twyfel aan wat ek hier sê, gesels met enige ondergraadse student aan ons sg. “Afrikaanse universiteite” in ‘n geesteswetenskaplike rigting waar marxisme, feminisme, witskuld en die haat vir die blanke man verpligtend geword het. Die Rooi Kommissaar vir Ideologie en Geestelike Beheer, André Bartlett, klap nou die sweep vanaf Tukkies tot in die Algemene Sinode waar ‘n klimaat van onverdraagsaamheid en vervolging van nie-marxiste reeds heers. Binnekort sal die NG Kerk self van “afvalliges” wat nie die Rooi Evangelie en die verguising van die blanke, heteroseksuele man deel nie, gesuiwer word, indien die huidige poging slaag.

Inderdaad gaan dit weinig oor homoseksualiteit en meer oor die vestiging van kulturele marxisme in die kerk. In elk geval was Afrikaners nog altyd verdraagsaam teenoor homoseksuele in die onderwys, staatsdiens, letterkunde, kunste, toneel en waar hulle ook al aangetref word. Wat nou gebeur, is dat hierdie verdraagsaamheid beantwoord word met onverdraagsaamheid teenoor hoofstroom-Christene, asook man-vrou-en-kind-gesinne. Die revolusie is meedoënloos en duld geen teëstand nie. Terwyl die minderheid “progressiewe”, linkse, dekadente teoloë nie oor die demokratiese steun van die lidmate beskik nie, wil hulle beheer neem oor die magshefbome en voorste gestoeltes in die NG Kerk ten einde hul revolusie of “transformasie” van ons gesinslewe te volvoer. Die parlement, die staatsdiens, die weermag, die polisie en die onderwysdepartement is reeds in die hande van die kommunistiese marionetmeesters wat hul kultuurmarxisme op die hele samelewing afdwing. Ook die hoofstroommedia en die joernaliste praat die revolusionêre in hul oorlog teen blankes en heteroseksuele mans na. Dis net ons privaatwonings wat nog effens teen die totale aanslag bestand is. En ja, die aanslag is totaal, allesomvattend, radikaal, meer nog as in die ou Sowjetunie waar Stalin se Russiese nasionalisme dit nog getemper het! Suid-Afrika het die proefkonyn vir totale revolusie geword: biologies, geslagtelik, beskoulik, kultureel, talig (die vernietiging van Afrikaans).

Binne die marxistiese denke moet alle instellings of “produksiemiddele” waar konserwatiewe denke of houdings “gereproduseer” word, vernietig word. Juis daarom is die “normale” gesin van heteroseksuele man en vrou, wat die onding begaan om kinders binne ‘n huislike omgewing groot te maak, in hul visier. Dit gaan nie oor die homo’s (kan ons maar afsien van die afskuwelike anglisisme “gays”?) nie, dit gaan oor die vernietiging van gesinne binne die totale revolusie. Marx en Engels se kreet in hul Kommunistiese Manifes van 1848, dat kinders deur die staat grootgemaak moet word, is steeds lewendig!

Die koorsdroom van die Suid-Afrikaanse kommunis, dat alle blankes in ‘n triomfantelike bloedbad uitgewis sou word, is nie bewaarheid nie. Daarom wil die revolusie hom nou op ons kinders wreek. As die man-vrou-gesin tot niet gemaak is, sal kinders tegelyk beskikbaar wees vir pedofiele én die staat om van hulle soldate, nie vir Christus nie, maar vir die marxistiese beweging te maak.

Dít is die nagmerrie waarop ons afstuur: nie meer die “rooi” kommunisme van die ou Sowjetunie nie, maar ‘n nuwe “pienk” kommunisme, ‘n pornokrasie waar ons almal tegelyk die slawe én die prostitute van die staat sal wees.

Het ons mense nog die moed om nee te sê vir fanatisme? Of is hulle al so vuisvoos en vertrap dat hulle die oorheersing van grootbek-ekstremiste met hul selfvoldane “progressiewe” slagspreuke gedwee aanvaar?

Eens het ons voorouers uit Europa gevlug voor die vervolging van die Roomse Kerk. Hulle het trou gebly aan hul protestantse geloof en aan die drie sleutelbelydenisskrifte: die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.

Vandag word ons deur die ANC-SAKP en hul meelopers soos André Bartlett en sy trawante vervolg. As ons ons nie tot Homoseksuele Liefde en Haat vir die Blanke Man bekeer nie, sal ons weereens as ketters in die beskuldigdebank staan.

Die wortel van die woord “protestant” is “protes”. Het dit nie tyd geword dat die Afrikaner weer die waarde van “protes” besef nie?

Laat ons ten sterkste beswaar maak teen die kaping van die NG Kerk vir die pienk revolusie. Ek kan nie sien waarom die meerderheid behoudende NG gemeentes nie met die APK en ander Afrikaanse kerke kan herenig nie. Op sy minste behoort daar gesprekke in dié rigting plaas te vind en as PRAAG so iets kan fasiliteer, sal ons maar te bly wees.

Laat die marxistiese teoloë hul eie paadjie onder hul pokgesigbaas, Blade Nzimande, loop. Sónder die gemeentes. Hoe gouer die gemeentes ook nie meer die kwalifikasies aanvaar van sekere teologiese skole wat Belhar en die bevrydingsteologie aanhang nie, hoe beter. Verwerp die links-ekstremistiese teoloë net soos hulle ons en ons gesinne verwerp.

Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.

Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.

Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.

Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.

En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees — dit is die woord van God

– Efésiërs 6: 11-17

PRAAG is die enigste Afrikaanse organisasie wat die heersende marxistiese en kultuurmarxistiese ideologie op ‘n ingeligte wyse beveg. Steun ons in dié lewensbelangrike taak!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.