‘Historiese boere’ iets van die verlede sê Piet Kopdoek

Deel op

Piet Croucamp het tydens die 69ste kongres van die Namibië Landbou-unie (NLU) dié naweek aan produsente gesê, “historiese boere” is iets van die verlede.

Die Namibiese vleisbedryf is glo in die moeilikheid. Volgens mnr. Mecki Schneider, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), het die winsgewindheid van beesboerdery sedert 2006 met 40% gedaal.

Croucamp is ondermeer die aanbieder van die televisieprogram Megaboere op kykNET, en ‘n dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit van Johannesburg met klaarblyklik onbeperkte toegang tot die media.

Hy het gepraat oor hoe hy deur middel van dié televisieprogram wou vasstel hoe die suksesvolste boere in Suid-Afrika dink en wat ander daaruit kan leer.

Volgens hom het hierdie boere die vermoë om baie goed by veranderde omstandighede aan te pas, hulle gryp nuwe tegnologie en ontwikkeling in die landboubedryf aan, grond is vir hulle ’n kommoditeit eerder as iets wat sentimentele waarde het en ’n boerdery word soos ’n besigheid hanteer.

Hulle dink op ’n “megaskaal”.

Hulle floreer in tye van onsekerheid, want hulle gebruik kwessies soos grondhervorming tot alle betrokkenes se voordeel en oorskadu selfs die regering se pogings tot swart bemagtiging. Hulle handhaaf ’n heel ander verhouding met plaaswerkers wat vir hulle ’n vennoot met kosbare spesialiteitsvaardighede word. Verder het dié boere die behoefte om risiko’s te neem. Boonop is die wêreld hul mark en brei hulle buite Suid-­Afrika na lande soos Amerika uit, sê hy.

“As jy nog boer soos jou oupa dit gedoen het, is jy in groot moeilikheid en as jy boer soos jou pa, dan moet jy bekommerd raak. Die moderne boerdery is die mees dinamiese bedryf om tans in te wees en produsente moet anders oor moderne uitdagings in die bedryf begin dink,” het Croucamp gesê.

Volgens hom is die tipiese “historiese boere” besig om te verdwyn en uiteindelik sal net sowat 20 000 baie suksesvolle boere in Suid-­Afrika oor wees.

“Megaboere stel vas hoe hulle hul boerderye so doeltreffend as moont­lik kan bestuur en die melkprodusente in Suid-Afrika gee die toon aan in dié opsig. Onlangs is 22 ton per hektaar mielies in Suid-Afrika geoes. Oor tien jaar sal dit die norm wees.”

Namibië se mielieproduksie het vanjaar vanweë die droogte van nagenoeg 60 000 metrieke ton tot skaars 30 000 metrieke ton verminder. Hiervan is ongeveer 18 000 metrieke ton deur die regering se groenskemaprojekte geproduseer.

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.