Karel Combrinck: Die molslang en die muise

Deel op

Weereens die media. Net eers ‘n bietjie wysgerigheid : Media is die latynse meervoudvorm vir medium, wat beteken middel, d.w.s. ‘n middel of instrument om ‘n doel te bereik. Ons gebruik die woord media deesdae met verwysing na kommunikasiemiddele. Die kommunikasiemiddele waarvan ons praat, is die gedrukte pers, die radio, die televisie, die rolprent en dan die jongste toevoegings in die gedaante van die elektroniese tegnieke nl. internet, e-pos, Twitter, Facebook, die nuuswerwe en nog meer.

Inderwaarheid is ons hier op Praag ook deel van die media. Duidelik is daar egter nie veel ooreenkoms tussen ons en bv. Die Burger of Beeld nie. Wat is die verskil dan? Vanselfsprekend is daar ‘n verskil wat betref die inhoud en strekking van berigte en kommentaar asook die tegnologie wat gebruik word, maar dit op sigself verduidelik nog nie heeltemal die verskil tussen hierdie vorms van media nie. Ek meen die verskil kan uitgedruk word as die onderskeid tussen « informele » media aan die een kant, en « amptelike » of « fatsoenlike » media aan die ander kant.

Die verskil het terselfdertyd ook te make met die onkonvensionele of nie-konformistiese inslag van bv. Praag, ens. enersyds en die konformerende benadering van bv Die Burger en Beeld andersyds. Synde konformisties en konvensioneel, kan laasgenoemde publikasies noodwendig nie te ver afwyk van die heersende ideologie en van regeringsbeleid nie en ook nie van dít wat wêreldwyd as modieus, respektabel en « modern » beskou word nie.

Nog ‘n belangrike verskil, miskien selfs die belangrikste, is dat die fatsoenlike media primêr daarop ingestel is om geld te maak vir eienaars en aandeelhouers en hulle maak geen geheim daarvan nie. Hulle benader dan ook nuus en kommentaar uit die hoek van wat populêr, maklik verteerbaar, goedkoop prikkelend en sensasioneel is of stigtelik en sentimenteel met verhaaltjies oor watter lede van die Britse koningshuis op enige tydstip swanger is, ens. (ek meen die Hollanders noem dit oudbollighede). Praag bv. behoort duidelik nie tot hierdie klas van medium nie.

Joernaliste van die fatsoenlike media lê graag klem daarop dat dit hulle heilige plig is om die publiek in te lig en voor te lig oor die « waarheid »; soetkoek dus waarop hoogleraars in die joernalistiek grootogige post-adolessente op Stellenbosch trakteer (verkieslik in Engels). Die fatsoenlike media is nie blote waarnemers en boodskappers nie. Hulle is aktiewe rolspelers, politiek korrekte breinspoelingsinstrumente om die samelewing te « transformeer », die vaandeldraers van ‘n disintegrerende beskawing.

Die verspreiding van nuus en kommentaar is in werklikheid ‘n hoogs georkestreerde aangeleentheid: New York, London, Parys, Johannesburg, almal in dieselfde vorm gegiet, byna soos die soort restourante waar vragmotors alles uit een kombuis aanry, vooraf gesny, gekook en gepak om in dieselfde patroontjie te pas: saai, eenders, verbeeldingloos. Die rede hiervoor is dat al hierdie onderskeie, maar eenderse media-instellings op die ou einde beheer word deur dieselfde wêreldoligargie van die rykstes. En daarom moet alle media-aktiwiteite daarop gerig wees om van die mensdom ‘n massa konformerende verbruikersoutomate te maak ten einde die belange van die oligargie te dien.

Iewers elders op Praag het iemand gepraat van die Nasionale Partyregering wat in die aanloop tot die oorgawe van 1994 magteloos gestaan het voor die media en spesifiek die Nasionale Pers. Magteloos teenoor die pers! Kan ‘n mens jou voorstel dat dr Verwoerd magteloos sou gestaan het voor die pers? Ondenkbaar.

Na die moord op dr Verwoerd was die spreekwoordelike kat uit die weg en die muise baas: John Vorster, PW Botha, FW de Klerk, die drie blinde muise van die Suid-Afrikaanse politiek, elkeen gehipnotiseer voor die mediaslang: lam arms, knakkende knieë, willoos en weerloos. Al manier waarop hulle nog ‘n bietjie magsuitoefening kon ervaar, was deur heksejagte teen behoudende Afrikaners – die sogenaamde « regses ». As hulle maar kon verstaan dat die media-anakonda waarvoor hulle so vreesbevange was, in werklikheid maar net ‘n molslang was, dan kon hulle dalk probeer het om ‘n bietjie dapperder te lyk.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.