ANC sê Internasionale Strafhof is die pad byster

Deel op

Die ANC se Nasionale Hoofraad het besluit dat die regering sy lidmaatskap van die Internasionale Strafhof moet onttrek omdat die hof die pad byster is.

Betrekkige tussen Suid-Afrika en die hof is op sy laagste vlak nadat die regering nie ‘n hofbevel afgedwing het om die president van Soedan, Omar al-Basjir in hegtenis te neem nie.

Al-Bashir het die beraad van die Afrika-Unie in Sandton, Johannesburg bygewoon en daarna vertrek ten spyte van ‘n lasbrief wat teen hom uitgereik is.

Soedan se president is tot ‘n oorlogsmisdadiger deur die strafhof verklaar vir beweerde volksmoord en oorlogsmisdade tydens die konflik in Darfur in 2003 waarin 300.000 mense omgekom het.

Intussen het Indië Al-Basjir saam met 54 staatshoofde vir die derde Indië-Afrika-spitsberaad uitgenooi.

Hoewel die hof Indië versoek het om Al-Bashir in hegtenis te neem terwyl Indië nie die Roomse Statuut onderteken het nie, het die hof aangedui dat hulle verwag dat Indië die bekamping van die “wêreld se ergste misdade” sal bevorder deur hom kragtens Veiligheidsraadresolusie 1593 te arresteer.

Die kwessie sal glo op die volgende vergadering van die hof se beraad vir staatshoofde bespreek word.

Die ANC se nasionale-uitvoerendekomiteelid, Obed Bapela, het gepraat by ‘n mediakonferensie in Midrand nadat Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale ­betrekkinge en samewerking, die aangekondiging oor Suid-Afrika se onttrekking Sondag gemaak het.

Nkoana-Mashabane het ook bevestig dat Al­-Basjir op die gastelys is vir die Forum oor China-Afrika-samewerking (Focac) in Desem­ber in Johannesburg. China het oliebelange in Soedan en voorsien Al-Basjir van die nodige wapens en finansiering teen insurgente uit die onafhanklike Suid-Soedan.

Bapela sê ondanks die besluit om aan die hof te onttrek, bly die ANC ‘n voorstander van menseregte. Die ANC het vroeër die week gesê hy glo die hof dien geen doel vir die land nie.

Bapela, wat ook as voorsitter van die ANC se subkomitee oor inter­nasionale verhoudinge dien, sê Suid-Afrika kan hom nie meer met die Internasionale Strafhof vereenselwig nie. “Daar is redes wat ons met die res van die vasteland deel. Die strafhof het ongelukkig koers verloor.”

Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, sê die regering moet sy lidmaatskap van die Internasionale Strafhof hersien.

Volgens hom is die hof bevooroordeeld teenoor arm lande, en werk dit nie in belang van die vasteland nie.

Mantashe sê hulle wil eerder die Menseregtehof op die vasteland versterk.

Dit kom vier maande nadat die regering Soedan se president gehelp het om landuit te vlug ondanks die feit dat die hof ’n lasbrief vir sy ­inhegtenisneming uitgereik het.

As die regering besluit om te onttrek, sal hulle formeel kennis moet gee van hul voornemens en Suid-Afrika se wet­gewing oor deelname sal herroep moet word. Intussen geld die lasbriefbepalings.

Nkoana-Mashabane sê Suid-Afrika het die kwessie reeds op die agenda geplaas vir die strafhof se beheerliggaam wat in Novem­ber vergader.

Afrikastate beskuldig die strafhof daarvan dat Afrikaleiers uitgesonder word, maar dat die oortredings van Westerse leiers nie raakgesien word nie.

As stigter-ondertekenaar van die Roomse Verdrag wat die hof tot stand gebring het, gaan Suid-Afrika se onttrekking die hof se geloofwaardigheid grondig aantas.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, sê oudpres. Thabo Mbeki het uit sy pad gegaan om die beeld te vestig van Suid-Afrika as ’n land “wat sensitief vir menseregte is en ons so ’n gerespekteerde lid van die internasionale ­wêreld te maak”.

Onder Mbeki se leierskap het die ANC-Jeugliga gereeld by saamtrekke “Kill a Boer” gesing.

Volgens die regering kan die permanente lede van die Veiligheidsraad, wat nie partye tot die Statuut van Rome is nie, ten volle deelneem aan besprekings oor die Internasionale Strafhof.

Verder het die Veiligheidsraad se permanente lede stappe geneem om te verseker dat hul amptenare en militêre personeel nie onderwerp sal word aan die jurisdiksie van die hof nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.