‘n Afrikaner in Engeland

Image"Where you from, miss?"

"I’m from South Africa"

Sy gesig helder op.

"John here is from South Africa too, innit!" 

John laat sy kop moedeloos in sy hande sak, want hy is in Ghana gebore, waar sy ouers ‘n paar jaar gewoon het.  Maar vir my studente is daar net een Afrika, en ek en John kom daarvandaan.

Ek is ‘n musiekjuffrou en gee reeds drie jaar lank in die suide van Engeland onderwys.  As buitelander word mens vinnig gedwing om jouself volgens jou land van herkoms en velkleur te klassifiseer of tipeer.  Op al die duisende aansoekvorms vir werk, council tax, en by die Suid-Afrikaanse tandarts moet ek spesifieke inligting aangaande my herkoms verskaf, byvoorbeeld:  Is ek

A.  Blank             – Engels

                        – Skots

                        – Wallies

                        – Iers

                        – Enige ander blanke agtergrond, of

B.  Swart (nie "nie-blank" of "coloured" nie, swart!), of

C.  Asies, of

D. Sjinees, of

E. Gemengde ras of, helaas, 

F.  Gypsy. 

Ek maak ‘n netjiese merkie by "enige ander blanke agtergrond" en vul "South African" by die oop blokkie in – met gemenge gevoelens, want ek is ‘n Afrikaner, maar meeste Engelse sal dit nie verstaan nie, veral nie die burokrate wat my vorms moet verwerk nie.  Ek het in meeste van die klasse die vraag in my studente se oë gesien, maar hulle is reeds so polities korrek dat niemand durf vra "How come you’re white if you’re from Africa?" nie.

Die inwoners in suid- en suid-westelike Engeland is oor die algemeen beter ingelig en begryp dat Suid-Afrika ‘n ander geskiedenis as meeste ander Afrikastate het.  Mense wat al voorheen met Suid-Afrikaners in kontak was, vra my dikwels uit oor my Engelse aksent wat, volgens hulle, nie soos die Engels uit dié geweste klink nie.  Dan verduidelik ek geduldig dat ek ‘n Afrikaner is, of ‘n boer (uitgespreek "boor" – pun intended!) en dat Afrikaans my moedertaal is.  Soms speel ek duiwels-advokaat en verduidelik verder dat Apartheid deur my mense georkestreer is. Die arme, verbouereerde, Engelsman/vrou se reaksie wissel gewoonlik van ongeloof tot ‘n verleë laggie, en hulle is teen daardie tyd jammer dat hulle gevra het! 

My jong studente is meer spontaan – waarskynlik omdat hulle nie weet of omgee wat Apartheid is nie – en vra gewoonlik dat ek iets, verkieslik ‘n vloekwoord, in Afrikaans moet sê.  ‘n Beleefde "Goeiedag, hoe gaan dit?" word met groot entoesiasme nageboots en ek maak dan asof “dankie” ‘n vloekwoord is.  ‘n Paar kwajongens het summier die ander Suid-Afrikaanse onderwyser in die skool bestorm met verskeie “dankies”, tot sy verbasing.  My hoof was veral trots om my aan vreemdelinge voor te stel met "Our music teacher is from South Africa, she speaks Afrikaan."  Ek het nooit die moed gehad om hom te korrigeer nie, want hy het ten minste probeer!

Afrikaners in Engeland bevind hulle in die tipiese situasie van vreemdelinge.  Soos meeste buitelanders vergader hulle in groepe en woonbuurtes, en Saterdagaande word daar soveel Afrikaans op straat gepraat in Canada Water, Londen, dat jy jou verbeel jy is terug op Tukkies se kampus.  ‘n Opgewonde nuwe aankomeling in Londen het my onlangs, baie in sy noppies, vertel van die plek waar mens – in die einste Canada Water – kan gaan (alkoholvry) sokkie.  Wow!  Hy doen al die moeite om na Engeland te kom, waar hy nuwe dinge kan ervaar, maar verkies om moeiteloos terug in sy gemaklike kulturele dop te kruip.  In Putney is die Zoeloe Bar waar Afrikaanse vermaaklikheidsterre met groot sukses kom optree, en waar die dak gelig word tydens die rugby of krieket se eb en vloed.  Die Chakalaka-restourant word deur ‘n Afrikaanssprekende besit en beheer, en die berugte Springbok bar, in Covent Garden, is onlangs na The Bok Bar herdoopDie feit dat hierdie plekke hoofsaaklik deur Afrikaanssprekendes ondersteun word, maak die keuse van name en dekor (etniese motiewe) moeilik om te verstaan.  Is die Zoeloe-kroeg en Xhosa-dekor hier in Engeland ‘n aanduiding van ons Afrikanerherkoms?  Of is almal in Afrika dalk tóg van dieselfde plek, soos my studente duidelik dink? 

‘n Ander groep buitelanders, Somalies-Nederlandse vlugtelinge wat in Engeland woon, het by die skool onder my aandag gekom.  Die wedersydse kommunikasie in Afrikaans en Nederlands het ‘n eiesoortige band en begrip tussen ons geskep.  Op ‘n stadium het die einste “band en begrip” my amper in die moeilikheid laat beland toe ek ‘n vloekende meisie, in ‘n oomblik van ergernis, uitskel:  "Jou klein k*k!".  Haar oë het gerek.  "She called me a little sh*t!  Ik verstaat jouw, ik kom van Nederland!"  Ander kere het ons in die klas groot pret gehad deur in Afrikaans en Nederlands te praat, tot frustrasie van die ander kinders.  Tydens ‘n oueraand kon ek ‘n Somaliese ma in Afrikaans vertel hoe stout haar kinders is, en sy kon op haar beurt in Nederlands vir my vertel van hul moeilike omstandighede. 

Soms wonder ek oor die Engelssprekende Suid-Afrikaners se identiteit – waar hulle nou eintlik regtig tuis voel: as Suid-Afrikaners of as Engelse?  Ek het ten minste ‘n unieke taal om mee te identifiseer – met ‘n eiesoortige kultuur en geskiedenis as basis om die vreemde mee in te vaar.  Ons kom almal goed hier oor die weg, maar ek wonder of hulle nie soms besonder verlore voel nie.  Hoewel ek nou nie eintlik belangstel om op ‘n Saterdagaand te gaan sokkie nie, of op eerstenaamterme met die kroegknapie agter die Zoeloe Bar te wees nie nie, weet ek, ek is ‘n Afrikaner.  ‘n Aanpassing van Sting se liedjie:

"Oh-ho, ek’s ‘n vreemdeling, ‘n totale vreemdeling,

Ek’s ‘n Afrikaner in Lon-den!"

люстрыФильчаков прокурор харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.