Leon Lemmer: Universiteit Stellenbosch: Oorverligte rugkrappery en ‘n linkse kattegeveg

Deel op

Blankheid, mans en Afrikaans is drie kenmerke wat ongewenstheid in die nuwe Suid-Afrika definieer. Daardie drie was kenmerkend van die Universiteit Stellenbosch (US) van weleer. Dit is wat die ou US in die oë van linkse elemente verwerplik maak. Dit is daardie drie kenmerke wat transformering tot verswarting, vroue en Engels aandryf. Dit is egter baie maklik om Afrikaanssprekende wit mans in die ou US te vind wat die linkse politieke gesindheid van die transformeerders ondersteun en die standaardstereotipering van die US ongedaan maak.

Linkse aktiviste wat voorheen akademiese poste aan die Universiteit Stellenbosch (US) beklee het of steeds beklee, was op 3 September die sprekers by ‘n “kollokwium” wat op Stellenbosch gehou is. Eintlik was dit bloot ‘n konferensie of samekoms, maar waarom sou ‘n mens aan die hedendaagse US ‘n gewone Afrikaanse woord gebruik as daar, om die gebeure te omskryf, ‘n meer indrukwekkende Engelsklinkende term is? Dit was ‘n kollokwium van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Politieke Studie (SAAPS), wat, soos uit die letterwoord/akroniem afgelei kan word, eintlik ‘n Engelse naam het. ‘n Verslag van die gebeure, deur Lynne Rippenaar-Moses, is eers op 30 September op die US-webwerf gepubliseer. Ek verwys agtereenvolgens na die vyf akademici wat by daardie geleentheid hulle politieke verligtheid gevier en as sprekers hulle gesindheid as navolgenswaardig aanbeveel het.

Jannie Gagiano

Jannie Gagiano word as ‘n Dakar-ganger voorgestel. Frederik van Zyl Slabbert het hom in sy boek, Duskant die geskiedenis (2006), ‘n afvallige Afrikaner genoem (p 127) en hom as “‘n volkome onversetlike intellektueel” gekarakteriseer wat onverstoord “met sy anargistiese destabilisering van heilig geagte paradigmas” voortgaan (p 174). Daardie onversetlikheid kan op dogmatisme dui. As hy heilige koeie wil slag, is transformasie ‘n opsigtelike moontlikheid, maar dit lyk asof hy deesdae, anders as in die ou Suid-Afrika, eerder saam met die politieke stroom gaan.

Hy vertel van die “digotomie”/tweeslagtigheid van die US se destydse Departement Openbare Administrasie en Staatsleer. Eersgenoemde deel het staatsamptenare opgelei en die ander deel het “die regering die harnas in gejaag.” Die dosente was “op soek na vernuwende maniere om uit die destydse staatskundige model te kom.” Gagiano weet dat geen verantwoordelike politieke wetenskaplike destyds algemene stemreg van gelyke waarde vir alle volwassenes in ‘n eenheidstaat as ‘n realistiese model voorgestel het nie. Wat het die dosente se vernuwende maniere van dink hulle in die sak gebring as volslae onnoselheid in die praktyk geseëvier het? Waar is die sigbare deurbrake tydens die grondwetlike onderhandelings? Waar is die wigte en teenwigte? Wat het geword van Nelson Mandela se dikwels uitgespreekte ideaal dat geen groep ‘n ander groep moet oorheers nie? Dit is duidelik dat Mandela, om die blankes te mislei, doelbewus gelieg het. Is daar deesdae steeds rede om jouself met trots as ‘n Dakar-ganger te identifiseer?

Hennie Kotzé

Hennie Kotzé het reeds in 1990 verkondig dat die bevolkingsprofiel van die land in die US-studentegetalle en ook in die samestelling van die US-raad weerspieël moet word; darem nie ook in die dosentekorps nie (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 62). Hy het in 1995 beweer Afrikaans is die struikelblok wat veroorsaak dat groter getalle swart studente nie deur die US getrek word nie (Kapp, p 63). Hy noem dat toe hy die eerste keer aansoek om ‘n US-doseerpos gedoen het, hy dit nie gekry het nie omdat “die klimaat nie reg was nie en die US nog baie konserwatief was.” Dit is natuurlik moontlik dat daar akademies beter kandidate vir die pos was. Maar Kotzé vind ‘n ander rede: “Ek het toe reeds uitlatings gemaak wat PW Botha destyds aanstoot gegee het.” Is dit ooit lofwaardig om iemand aanstoot te gee, selfs al is hy wit en daarby ‘n man en Afrikaanssprekend? Kotzé roem daarop dat Amanda Gouws die eerste vrou is wat in die US se Departement Politieke Wetenskap aangestel is. Sy het eerder as ‘n militante feminis as ‘n politieke wetenskaplike bekend geword. Kotzé sê nie of dít akademies sinvol is nie.

As deel van Russel Botman se Hoopprojek het die US se African Doctoral Academy in 2010 onder die leiding van Kotzé tot stand gekom. Dit gaan hier om doktorale studente uit swart Afrika wat swart is; nie om blanke studente uit bv Namibië of Zimbabwe wat akademies bekwaam maar finansieel behoeftig is nie; ook nie Arabier- of Berber- of Koptiese studente uit Noord-Afrika nie. Swart etnisiteit, ‘n politieke faktor, word tot dié bepalende akademiese voortreflikheid verhef. Dieselfde geld die “Next Generation of Academics”-program. Om guns in Kotzé se oorverligte oë te vind, moet ‘n student in daardie konteks swart wees; asof dit die enigste etniese groep is waarop Afrikalande vorentoe as dosentebron aangewese is. Eksklusiewe studiebeurse word aan hierdie studente toegeken, hoewel hulle in werklikheid geen aanspraak op Suid-Afrikaanse befondsing het nie. Blanke Suid-Afrikaanse studente van belastingbetalende ouers het wel ‘n onontkenbare sterk aanspraak op US-studiebeurse maar hulle word oor die hoof gesien. Let op hoe die US se veel geroemde inklusiwiteit hier as eksklusiwiteit funksioneer; ook hoe blatant rasdiskriminerend in die naam van regstelling/transformasie te werk gegaan word.

Waarom sou ‘n mens aan ‘n ander etniese groep bevoordeling gun wat jy jou eie mense ontsê? Die antwoord is seker in kroniese oorverligtheid te vinde. Dit kan die andersindroom genoem word. Willie Esterhuyse ly aan dieselfde kwaal. Toe die US sy eerste koshuis vir nie-wittes geopen het, het die Esterhuyses die koshuisouers geword; iets wat hulle nie vir ‘n blanke koshuis gedoen het of sou doen nie. Daar is hier ‘n mentaliteit ter sprake wat wetenskaplik deeglik ondersoek behoort te word, maar seker nie sonder empatie met diegene wat hierdie kwaal onder lede het nie.

Willie Esterhuyse

Van Willie Esterhuyse word gesê dat hy “ook aan die Dakar-gesprekke deelgeneem het.” Slabbert lys sy naam egter nie by die byeenkoms in 1987 of dié in 1988 nie. Kapp verskaf inligting oor die talle maniere waarop Esterhuyse Afrikaans as onderrigtaal aan die US, asook die voortbestaan van al die ander eens Afrikaanse universiteite, ondermyn het. By die kollokwium het Esterhuyse ‘n verdere bydrae tot die afkraking van die historiese US gelewer met hierdie bewering: “Daar was geen aansporing om navorsing te doen nie, so geen navorsing is gedoen nie.” Dit was glo die situasie toe hy in 1976 ‘n US-dosent geword het. Blykbaar verwys hy veral na wat deesdae die Departement Politieke Wetenskap genoem word, want hy vervolg: “Eers later, toe Kotzé en prof Pierre du Toit hulle by die Departement aangesluit het, is ‘n navorsingskultuur tot stand gebring.”

Esterhuyse vertel dat hy by ‘n Spaanstalige byeenkoms “die eerste keer aan eie bas gevoel het wat dit werklik beteken om deur taal en kultuur uitgesluit te word … ‘Dit het my laat dink oor hoe ‘n mens hierdie gevoel van hetsy binne of buite ‘n groep staan, kan oorbrug’.” Sy benadering, ook met betrekking tot die US, is egter ingevolge die andersindroom. Hy kyk eenogig na hoe swartes die getransformeerde US ervaar en oorweeg (glad) nie die ontheemding wat Afrikaners in hierdie proses ondervind nie.

Willie Breytenbach

Willie Breytenbach is nog ‘n willie-wil-nie: Hy wil nie die fundamentele boosheid en immoraliteit van die ANC raaksien nie. Let op hoe krap hy die rûe van sy medeverdagtes, oftewel ANC-meelopers: “Danksy Willie Esterhuyse en ander akademici soos ek en Sampie Terreblanche, het ‘n hele paar geheime gesprekke met die ANC in daardie tyd [1980’s] begin plaasvind. Daar was openbare gesprekke ook, wat IDASA [Instituut vir ‘n Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika] en mense soos Alex Borraine gereël het, en ál daardie gesprekke het ons tot by die punt gebring waar president FW de Klerk die toespraak in die Parlement gemaak het wat uiteindelik tot die ontbanning van organisasies soos die ANC gelei het. Die meeste van die betrokkenes by die gesprekke waarna ek verwys, was akademici van die Universiteit Stellenbosch. Dit is ‘n interessante sy van daardie tyd waaroor daar nie dikwels gepraat word nie. Die Universiteit het trots sy plek by daardie gesprekke volgestaan, selfs al praat niemand juis vandag daaroor nie.”

Volgens Breytenbach is hy trots op die mate waarin die nuwe Suid-Afrika ‘n maaksel van die US is. Hy en ander ANC-meelopers het dus eintlik nie ‘n verweer as daarop aangedring word dat die US toestande (bv verswarting, verengelsing) in die res van die nuwe Suid-Afrika moet weerspieël nie. Aan die begin van die aanhaling in die vorige paragraaf verwys Breytenbach na homself, Terreblanche en Esterhuyse. Esterhuyse het geskryf: “Uiteindelik was dit net ek, Willie Breytenbach en Sampie Terreblanche. Ons drie het die eerste gespreksessie in November 1987 met vier ANC-leiers bygewoon. Ons was al drie van die Universiteit van Stellenbosch, het mekaar goed geken en was as verligtes bekend” (Eindstryd, 2012, p 23). Sedertdien het die ANC politieke beheer oor die land gekry. Geweld, korrupsie en alle soorte misdaad vier hoogty. Die afgryslike werklikheid van die nuwe Suid-Afrika volg uit die fundamentele boosheid van die ANC. Hier gaan dit nie om die ANC as ‘n abstraksie nie, maar om die fundamentele boosheid van (leidende) ANC-lede, wat in talle topposte ontplooi is. Is dit wys van oorverligtes om in die openbaar aandadigheid hieraan te erken? Dit herinner aan Tim du Plessis se gretigheid om sy naamlys van Naspers-amptenare, wat by die WVK om verskoning gevra het, volledig te kry, asof dit ‘n trotse etiket is om te dra.

Breytenbach se statuur is sodanig dat hy boeke voor resensering sommer bolangs of onvolledig kan lees. Ek het die aandag op so ‘n blaps in sy resensie van Dirk Mudge se boek gevestig (Praag, 18 Julie, 4de paragraaf).

Amanda Gouws

Vir Amanda Gouws beteken transformasie die skepping van ‘n kultuur waarin swartes en vroue tuis voel (Kapp, p 105-106). Soos in Amerika ry haar feminisme op die rug van swart mag. Sy is myns insiens ‘n uitgesproke teenstander van Afrikaner- en Afrikaanse belange aan die US. In die konteks van Afrikaans skryf Kapp: “Haar argument is gebaseer op al die vooroordele gebore uit die magsposisie van Engels” (p 140).

Daar is veral twee woorde wat my in ‘n akademiese of enige geleerde gesprek irriteer: “konsep” (eerder: begrip – dit sê duidelik/ondubbelsinnig wat bedoel word) en “kompleks” (eerder: ingewikkeld of verwikkeld). Gouws het ‘n voorliefde vir sulke irriterende terme. Met verwysing na die gesprekke wat mense soos Esterhuyse en Breytenbach met die ANC gevoer het, sê Gouws dat die US se Departement Politieke Wetenskap ‘n “baie komplekse geskiedenis” het, dat hy getransformeer (die ANC se term vir die veranderings wat hy verlang) het van ‘n opleidingseenheid vir staatsamptenare “tot ‘n omgewing met ‘n sterk navorsingsagtergrond en ‘n huidige kohort [! – groep] akademici wat ‘nooit deel was van daardie apartheidsverlede nie en nou as agente vir verandering in ‘n nuwe, demokratiese maatskaplike orde optree’.”

Wat aan die US gebeur het, is myns insiens dat die blanke politieke bewind voorheen te onkrities gesteun is, hoewel daar deurlopend ook kritiese stemme opgeklink het. Tans word die swart politieke bewind, wat ongetwyfeld meer korrup, immoreel en ondoeltreffend as die vorige opset is, eweneens onkrities gesteun, maar met dié verskil: Daar is (feitlik) geen kritiese stemme wat aan die US opklink nie. Daarom is dit nie meer ‘n universiteit in die ware sin van die woord nie. Probeer gerus name opnoem van huidige US-akademici wat hulle openlik beywer vir ‘n plekkie in die akademiese son vir Afrikaners en Afrikaans. Daar is huidige US-dosente in politieke wetenskap wat soos Gouws as “agente vir verandering” optree en die maatskaplike orde (insluitende die US) ooreenkomstig die wense van die ANC wil transformeer, maar nie wil teruggaan na bv die beskaafde, Europese opset wat ons ‘n skrale kwarteeu gelede in die middestede, middedorpe, blanke woongebiede en op uitgebreide skaal in landelike gebiede geken het nie. Wat skort is die openlike erkenning dat die staatkundige grondslag waarop die nuwe Suid-Afrika funksioneer ‘n resep vir bv chaos en agteruitgang is.

Bogenoemde vyf glansakademici het eerder openlik hulle individuele ego’s en mekaar s’n gepoleer as om daadwerklik te besin oor die misbaksel van ‘n swartmagstaat wat hulle help skep het of steeds help bestendig. Uit die gehoor het groter wysheid opgeklink, bv dié wat die aandag gevestig het op “die huidige stryd om politieke mag wat in Suid-Afrika plaasvind en na die kampuspolitiek oorspoel. ‘Daar is ‘n magstryd aan die gang wat dreig om geldige en werklike kwessies van diskriminasie en transformasie by universiteite te skaak’.”

Is daar by hierdie vyf oorverligte akademici kommer oor die US-rektor, Wim de Villiers, se jongste uitlatings? Hy wil nie net ‘n verpligte 101-indoktrinasiekursus oor transformasie vir eerstejaars instel nie, maar soortgelyke kursusse vir tweede- tot vierdejaars, dus ook ‘n 201-, 301- en 401-kursus. Nie net al die studente nie, maar ook al die personeel (dosente, navorsers en administreerders/steunpersoneel) gaan transformatories gebreinspoel word (Ontbyttoespraak, Cape Times, 5 deser; US-webwerf 6 deser). Dan word die US iets soos die Moskouse Lenin-instituut. Die US begin die anti-akademiese vrugte pluk van die aanstelling van ‘n medikus wat geen agtergrond in die geesteswetenskappe het nie. De Villiers is die kluts heeltemal kwyt. Is daar nog akademici aan die US oor wat vir hierdie mens gaan sê: “Nee, man, nou is jy heeltemal bedonderd in jou kop”? Daar was geen indoktrinasie in die apartheidsera wat hiermee vergelyk kan word nie. Derduisende US-mense behoort nie gedwing te word om ‘n De Villiers-dinkharnas in hulle koppe te duld nie.

Linkse kattegeveg

Vir ‘n radikale mens soos Gouws, wat haar tot uiterstes wend, is alles nie altyd rugkrappery nie. Daar het ‘n interessante bekgeveg tussen haar en kollega Kylie Thomas plaasgevind. Gouws het in Die Burger (7 September, p 8) simpatiek geskryf oor diegene (natuurlik swartes) wat aan die US weens taal (natuurlik Afrikaans) uitgesluit voel. Toe daar onlangs op die kampus gevra is of transformasie nie dalk deurdagte debat verg nie, was die antwoord glo “dat dit nie die werk van swart studente behoort te wees om wit studente oor rassisme op te voed nie. Ek moet hom gelyk gee.” Hier het ons ‘n professor in politieke wetenskap wat toelaat dat transformasie tot blanke rassisme gereduseer word en dat swartes van rassisme vrygespreek word. Later verwys sy egter na Open Stellenbosch- (OS) plakkate wat lui: “One settler, one bullet.”

“Strukturele rassisme kan slegs verander as ons bereid is om die institusionele kultuur van die US te verander. Dit moet ‘n meer inklusiewe kultuur word waarin vooroordele teenoor swart mense, vroue, gay mense en andere [Afrikaners?] nie ‘n plek het nie.” Sonder enige poging tot oorspronklikheid sing Gouws die mode-deuntjie. Waarteen Gouws dit myns insiens veral het, is heteroseksuele, blanke, Afrikaanssprekende mans; dus doodgewone goeie Afrikaners. Sy soek na erkenning vir haar oerlinksheid: “diegene wat jare lank as transformasie-agente op die kampus opgetree het.” Sulke elemente moet glo nie “gediskrediteer word” nie. Dan maak sy die fout (kyk hier onder) om die onrus wat OS stig met ‘n “derde mag” te assosieer, wat onstabiliteit glo ook op ander kampusse aanstig.

Vervolgens kom Gouws met hierdie stommiteit vorendag: “Die idee waarvoor die US nou staan, is een van uitnemendheid. Hierdie uitnemendheid kan slegs [!] deur diversiteit bevorder word. Dit beteken ook ‘n diversiteit van tale, nie noodwendig net Engels nie.” Haar geskiedenis skreeu luid: Ook nie net Afrikaans nie en sekerlik eerder Engels as Afrikaans. Lees in Kapp se boek hoe sy voorbrand vir Engels gemaak en haar vir die afskaling van Afrikaans beywer het. Uitnemendheid word deur Gouws aan diversiteit gekoppel om die eens blanke, Afrikaanse US te diskrediteer. Sy kan gerus uitdruklik sê of die huidige US-rektor, Wim de Villiers, minderwaardige mediese onderrig en opleiding aan die destydse US ontvang het. Ook of De Villiers se pa minderwaardige akademiese onderrig in die regte aan die US verskaf het. Gouws bly in gebreke om te verduidelik hoe die huidige US, wat nóg sy studente nóg sy dosente primêr ingevolge akademiese verdienste uitsoek, by akademiese uitnemendheid gaan uitkom. Of dink hierdie politieke wetenskaplike aan politieke uitnemendheid? Besef sy dat nie-diversiteit, oftewel homogeniteit, bv aparte skole vir seuns en meisies, akademiese prestasie bevorder? Dit geld myns insiens ook aan inrigtings waar kulturele en taalhomogeniteit aangetref word.

‘n Leidende lid van OS en dosent in Engels aan die US, Kylie Thomas, het in die Daily Maverick (28 September) op Gouws se rubriek gereageer. Thomas stel OS voor as ‘n voorbeeldige beweging wat sosiale geregtigheid nastreef en geweld verwerp. Daarom vind sy dit beledigend dat Gouws OS met ‘n “derde mag” assosieer. Sy verduidelik dan die betekenis van die frase “derde mag” soos wat die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) dit gedoen het, naamlik ‘n bose samespanning van die apartheidstaat se veiligheidsmagte en die Inkatha-vryheidsparty (IVP). Thomas se pro-ANC-uitgangspunt is soos dié van die Kairos-teoloë: dat die apartheidstaat so boos was dat hy homself nie mag verdedig het nie; dus dat hy sonder slag of stoot aan die ANC-kommunistiese alliansie moes oorgegee het. Daarna gaan sy heeltemal oorboord en beweer dat die US voorheen nie net apartheidsideoloë opgelewer het nie maar dat die universiteit ook deel van apartheid se militêre industrie was. In dié proses sleep sy die US se ingenieursfakulteit by en selfs ‘n huidige US-raadslid.

As Thomas ‘n gesaghebbende werk oor die ANC se terrorisme, soos Anthea Jeffery se People’s War (2009), gelees het, sou sy besef het dat die ANC, onder die leiding van Nelson Mandela, wat in die nuwe Suid-Afrika meesal as ‘n vredemaker en versoener voorgestel word, van sy vrylating in 1990 tot die 1994-verkiesing ‘n gewelddadige oorlog teen al sy teenstanders gevoer het en veral teen die blanke regering en die IVP. Dit is waarom Mandela en sy ANC-kamerade nie geweld afgesweer het nie. Die ANC het in die openbaar voorgegee dat hy vrede nastreef en danksy partydige massamedia het hy meesal daarmee weggekom. Wanneer die ANC se gewelddadigheid teengestaan is of weerwraakaanvalle op ANC-lede uitgevoer is, is dit aan derdemagbedrywighede toegeskryf. Die WVK, wat ‘n groot oorwig van ANC-lede en -nalopers gehad het, het die ANC se wanvoorstelling aanvaar. Thomas doen dieselfde.

Gouws het in Die Burger (5 deser, p 8) op Thomas se reaksie gereageer. Ek kon my oë nie glo toe ek die standpunt lees waarmee Gouws wegval nie: Thomas se “ontleding van die derde mag in haar skrywe is vir my nie problematies nie. Ek het self hierdie geskiedenis lank gedoseer [sonder kennisname van of met verwerping van Jeffery se standpunt?] Wat wel problematies is, is die konstante verdagmaking van almal aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat wit en Afrikaans is.” Gouws bly dus aandring op erkenning deur OS van haar lank gekoesterde linksheid. Sy noem dat sy geen afwysing van geweld op OS se Facebook-blad kon kry nie, maar wel baie haatspraak. Dan kom Gouws terug na haar hoofgrief: “Waarom word almal op die kampus verdag gemaak asof dié van ons [daardie “ons” verwys by uitstek na vroue] wat wit is, apartheid sou perpetueer [voortsit]? … Om apartheidsgeweld gelyk te stel aan rassisme op die kampus spreek van ‘n ander agenda … is die agenda dat van almal wat wit en Afrikaanssprekend is, ontslae geraak moet word?”

Die volgende ontstellende statistiek word deur Gouws oor die 2014-US verstrek: getal mansdosente (wit en swart) 316, vroue 655 (“gekonsentreer in laer range”); steunpersoneel: mans 491, vroue 639. Wat sy hiermee onbedoeld aantoon, is dat die huidige US (soos algemeen bekend is) nie net rasgewys teen blankes diskrimineer nie, maar dat hy hom by uitstek en in oortreffende mate aan geslagsdiskriminasie skuldig maak. Gouws trek egter ‘n heeltemal ander gevolgtrekking hieruit: “dat vroue nie die apartheidsmentaliteit aan die US voortsit nie”. Dan kom sy met dieselfde beswaar as die parlementêre portefeuljekomitee: “Die [US-] topbestuur is almal mans.”

Gouws gaan hierna oor tot ‘n direkte aanval op Thomas. Gouws se bydrae tot dié kattegeveg is: “Wat ek beledigend vind vir studente se agentskap is dat Thomas, ‘n wit vrou, die gesig van OS is. Kan studente nie self praat nie? Moet sy tot hul redding kom elke keer as daar ‘n geleentheid is om die US aan te val?” Alle vroue is dus nie salig nie en Thomas maak haar aan paternalisme skuldig. Gouws kon ‘n stap verder gegaan het, maar sy word daarin deur haar oorverligtheid gekortwiek. ‘n Mens kan vra waarom ‘n blanke, manlike, Afrikaanssprekende dosent wat ‘n teksboodskap aan een van die OS-voorbokke gestuur het, maar die US eintlik geen skade berokken het nie, summier ontslaan is, terwyl Thomas, ten spyte van ‘n amptelike US-waarskuwing, toegelaat word om onbelemmerd met die saai van onrus voort te gaan. Is lojaliteit teenoor jou werkgewer nie een van die waardes wat hier in die slag bly nie? Na regs en by wittes word kragdadig opgetree. [Na enkele dae is die aanstelling van ‘n blanke as studentedekaan teruggetrek (Die Burger, 9 deser, p 5).] Na links en by swartes word alles egter gelate aanvaar.​

Die vyf sprekers by die bogenoemde SAAPS-kollokwium is soos pasgebore hondjies wie se oë nog moet oopgaan. In Suid-Afrika is daar deesdae ‘n swetterjoel van hierdie wit hondjies.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.