Die Nobelprys vir geneeskunde is vanjaar aan drie navorsers van Japan, China en Amerika toegeken.
Die drie het middels teen die parasitiese siektes malaria, olifantsiekte en rivierblindheid ontwikkel.
Die Nobel-komitee van die Karolinska-instituut in Swede het die pryswenners Dinsdag aangekondig.
Die Ierse boorling William Campbell en die Japannees Satoshi Omura ontvang saam die helfte van die prysgeld vir hul ontdekking van avermektien, wat rivierblindheid en olifantsiekte genees.
Omura en Campbell het hul deurbraak gemaak deur mengsels van grondbakterieë te bestudeer. Dit het tot die ontdekking van avermektien gelei, die voorloper van ivermektien, wat die twee tropiese siektes bykans uitgewis het.
Die Chinees Youyou Tu ontvang die ander helfte van die prysgeld vir haar ontdekking van artemisinin, ’n middel waarmee malaria-sterftes verminder is. Sy is die eerste Chinees aan wie die Nobelprys vir geneeskunde toegeken word.
Tu het dmv tradisionele Chinese medisyne wat honderde jare oud is oor kruiemedisyne, die middel artemisinin geïsoleer waarmee malaria met sukses behandel word.