MSF vra onafhanklike ondersoek na Amerikaanse bomaanval

Deel op

Die hulpagentskap, Dokters Sonder Grense, MSF, het ‘n ondersoek deur ‘n onafhanklike instansie gevra oor die Amerikaanse bomaanval op sy hospitaal in die Afghaanse stad, Koendoez.

Die MSF sê hy vertrou nie die interne Amerikaanse militêre ondersoeke na die bomaanval waartydens 22 mense dood is nieen sê dit verteenwoordig ‘n oorlogsmisdaad.

Amerika het vroeër gesê die bomaanval was ‘n fout te midde van pogings om ‘n Taliban-oorname van die stad te verhoed.

Die hoof van MSF, Joanne Liu, sê die bomaanval was juis ‘n aanval op die konvensies wat ten doel het om die optrede van diegene wat by die oorlog betrokke is, te beheer.

Volgens Dokters Sonder Grense, moet so ‘n ondersoek bewyse van die VSA, NAVO en Afghanistan, asook getuienisse van die hospitaalpersoneel en pasiënte insluit.

Dié bevindings sal bepaal of MSF sal voortgaan met eise teen die betrokke partye. “As ons dit laat gaan, asof dit niks was nie, skryf ons basies ‘n blanko tjek aan enige land wat in oorlog gewikkel is,” het Liu op ‘n nuuskonferensie gesê.

“As ons nie die mediese ruimte beskerm vir ons om ons aktiwiteite te doen nie, dan is dit onmoontlik om te werk in ander kontekste soos Sirië, Suid-Soedan, soos Jemen,” het sy bygevoeg, terwyl sy aangedaan die gruwels van die hospitaalbombardement beskryf het.

“In Koendoez is ons pasiënte in hul beddens verbrand. MSF dokters, verpleegsters en ander personeel is dood terwyl hulle gewerk het. Ons kollegas moes op mekaar opereer. Een van ons dokters is dood op ‘n geïmproviseerde operasietafel – ‘n kantoorlessenaar – terwyl sy kollegas probeer het om sy lewe te red,” het dr Liu gesê.

Intussen het Edward Snowden getwiet dat die vrystelling van opnames van die Amerikaanse vegvliegtuie wat betrokke was in die aanval asook die beheerinstansie, gou-gou enige kwessies oor wie verantwoordelik was, sal opklaar.

President Obama het Woensdag om “diep” om verskoning gevra vir die aanval op die hospitaal, maar geen besonderhede gegee nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.