Israel lê Palestynese huise in puin

Deel op

Israel het Dinsdag die huise van twee Palestyne wat na bewering agter verlede jaar se aanvalle was, in puin gelê.

Dit volg nadat eerste minister Benjamin Netanyahu beloof het om ’n ystervuis teen toenemende onrus in te span.

Die verwoesting van die huise kom terwyl Netanyahu onder druk van regse faksies in sy koalisie is, met skermutselinge wat ná die moord van vier Israeli’s voortduur.

Die toename in geweld het tot internasionale oproepe tot kalmte gelei, met kommer dat die onluste buite beheer kan raak.

Die huise wat vernietig is, het aan Ghassan Abu Jamal en Mohammed Jaabis behoort, het ’n militêre verklaring gelui.

Opdrag vir die vernietiging van die huise is gegee nadat die mans Israeli’s verlede jaar aangeval het.

Gewapen met vleismesse en ’n pistool, het Abu Jamal en sy neef Uday Abu Jamal vier rabbi’s en ’n polisieman vermoor voordat hulle in November 2014 doodgeskiet is.

Jaabis het in Augustus 2014 met ’n stootskraper teen ’n bus vasgery. Een Israeli is dood en etlike is beseer. Hy is op die toneel deur die polisie doodgeskiet. Die vernietiging van die wonings is in Israel se hoogste hof uitgedaag, maar het enkele maande gelede goedkeuring gekry.

Die strafmaatreëls volg nadat geweldpleging die afgelope dae na die ooste van Jerusalem en die Wes­oewer versprei het ná die moord van vier Israeli’s, insluitende ’n egpaar wat hul kinders skool toe geneem het.

Israeliese veiligheidsmagte het Maandag aangekondig dat hulle vyf Palestynse mans in hegtenis geneem het wat lede is van die militante groep, Hamas, en erken het dat hulle die egpaar geskiet het.

Israeliese troepe het Maandag ’n Palestynse tiener doodgeskiet, die tweede sterfgeval van ’n Palestyn in 24 uur met dosyne mense wat in die jongste geweldpleging beseer en gewond is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.