Kruger-standbeeld weereens met verf beskadig

Deel op

Die Boerekrygers rondom die Paul Krugerstandbeeld deur Anton van Wouw op Kerkplein in Pretoria, is weereens met verf beskadig.

NUUT!

Pretoriase metropolisie was gister op die toneel om ondersoek in te stel. Sedert April toe die beeld vir die eerste keer met verf aangeval is, word dit met ‘n hoë heining beskerm, dog ‘n groot gat is in die heining gemaak. Die metropolisie het dit gister met plastieklinte afgekordon.

In April het Julius Malema se party, die Ekonomiese Vryheidsvegters die stadsraad van Pretoria sewe dae gegee om Oom Paul se standbeeld te verwyder. ‘n Woordvoerder van dié party, Benjamin Disoloane, het toe gesê:

Die burgemeester, Ramakgopa, moet verstaan dat dié standbeeld ons mense elke dag frustreer. Ons mense het nie werk nie en kom in hierdie park ontspan.

As hulle na die standbeeld van Paul Kruger kyk, frustreer dit hulle. Ons bied aan om die standbeeld te verwyder aangesien die stad nie oor die begroting beskik nie.”

Volgens hom beskik die EFF oor die mannekrag en die vervoer om die standbeeld te verwyder.

Voordat die standbeeld gister weer met verf toegetakel is, is dit rondom April skoongemaak.

PRAAG het aansoek gedoen by UNESCO, die Verenigde Nasies se kulturele liggaam in Parys, dat Kerkplein as ‘n wêrelderfenisgebied verklaar word. UNESCO het toe die aangeleentheid na die Suid-Afrikaanse regering verwys, wat sedertdien weier om te antwoord.

Dr. Dan Roodt van PRAAG het sy ontsteltenis oor die jongste voorval van vandalisme teen die Kruger-standbeeld uitgespreek. “Ons sal weer met UNESCO in verbinding tree en aan hulle noem dat die ANC-bewind glag nie aan ons versoeke gehoor gee nie. Daar is ook die moontlikheid om ‘n hof te nader om die ANC-bewind te dwing om ons te antwoord.”

PRAAG loods terselfdertyd ‘n appèl op Suid-Afrikaanse kommuniste om nie langer Boerehaat en antipatie jeens Afrikaans of die Afrikanererfenis te propageer nie. “In ander wêrelddele het kommuniste gereeld volksmoorde veroorsaak met hul haat- en propagandaveldtogte,” sê Roodt. “As Suid-Afrika dit wil vryspring, sal ons pro-aktief moet optree en sulke veldtogte teen ons taal en standbeelde in die kiem moet smoor.”

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.