Amerikaanse lugaanval op hospitaal skerp veroordeel deur VN

Deel op

Die Verenigde Nasies (VN) het ’n aanval op ’n hospitaal van die organisasie Médecins Sans Frontières (MSF), beter bekend as Dokters Sonder Grense, in Koendoez in Afganistan skerp veroordeel.

Die hoof van die VN se humanitêre sending, Zeid Ra’ad Al Hoessein, het gesê indien ’n ondersoek sou bevind dat die ­hospitaal met opset geteiken is, dit as ’n oorlogsmisdaad beskou sal word.

Die sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-moon, sê ‘n grondige en onpartydige ondersoek na die voorval moet spoedig volg.

Die Amerikaanse president, Barack Obama, het ook ‘n ondersoek na die tragedie belowe. Jens Stoltenberg, NAVO se sekretaris-generaal het ook sy “diepe meegevoel” uitgespreek.

Negentien mense, onder wie 12 personeellede van MSF, is in die aanval dood.

Volgens MSF is die intensiewesorg- en ongevalle-eenheid in vlamme gelaat en het pasiënte doodgebrand.

Die Amerikaanse lugmag het erken dat hy in die ­omgewing van die hospitaal ’n lugaanval uit­gevoer het.

“Die departement van verdediging sal ’n­ ­volledig ondersoek doen en ons sal op die uitslag van die ­ondersoek wag voordat ons enige verdere ­besluite neem rakende die o­mstandighede wat die aanval betref,” het Obama in ’n verklaring gesê.

Volgens Dokters Sonder Grense is die GPS-koördinate van sy fasiliteite in Koendoez by verskeie ­geleenthede aan Amerikaanse magte in Afghanistan deurgegee.

Afgaanse regeringsmagte, met die steun van onder meer Amerikaanse lugaanvalle, het die af­gelope paar dae na wat berig word dele van ­Koendoez in hewige gevegte herower nadat die Taliban die stad vroeër ­vandeesweek ­ingeneem het.

Die Taliban se suksesvolle aanslag was ’n ­vernederende nederlaag vir die VSA. Dit was die eerste keer sedert 2001 dat ’n provinsiale hoofstad in die Taliban se hande beland het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.