China kondig infrastruktuurprojekte in Guinee-Bissau aan

Deel op

Die aankondiging dat China vier groot infrastruktuurprojekte, insluitend die oprigting van ‘n presidensiële woning, in Guinee-Bissau sal onderneem, kom te midde van nuwe politieke onrus.

Dié Wes-Afrika-land het sedert onafhanklikheid van Portugal in 1974 nog nie een president gehad wat sy verkose termyn voltooi het nie en het sedert 1980 onder nege staatsgrepe deurgeloop.

Die aankondiging is Maandag deur die vise-president van die Kamer van Handel, produksie en Landbou van Guinee-Bissau gedoen, nadat president Jose Maria Vaz die Chinese afvaardiging ontmoet het.

Mama Samba Embalo het bygevoeg dat Chinese entrepreneurs wat deel is van die missie belowe het om te belê in Guinee-Bissau se landbou, veral in die ryssektor.

Die missie van die Chinese Kamer van Koophandel, onder leiding van me Li Guixiang, bly in Guinee-Bissau tot Donderdag.

Die spanning tussen Guinee-Bissau se president en premier dui op die konflik tussen China en die VSA wat invloed oor politieke besluitnemers probeer uitoefen.

Die president het die naweek die land se premier gewaarsku dat hy sy grondwetlike perke “oorskry” omdat hy strukturele veranderinge aan die parlement beoog, sowel as om kandidate vir die kabinet wil nomineer.

Die president het in ’n verklaring gesê slegs die staatshoof van die land kan besluite oor die struktuur en lede van die kabinet neem. Die premier kan eers daarna die president se voorgestelde name vir ministeriële posisies oorweeg.

Volgens Vaz is dit dus ongrondwetlik vir premier Carlos Correia om ’n lys van potensiële kabinetslede voor te stel en in te dien.

Dié magstryd tussen Vaz en Correia kom nadat laasgenoemde op 17 September as premier ingehuldig is om politieke onrus te besweer. Die land het in 2012 in chaos verval ná ‘n staatsgreep.

Guinee-Bissau is ‘n dwelmnodus met kokaïen van Suid-Amerika wat na Europa gesmokkel word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.