Die polisiehoof van die Koendoez-provinsie in Afganistan, Mohammad Qasim Jangalbagh, het in die sentrale deel van die stad Koendoez die inwoners gevra om met hul normale lewe voort te gaan.
’n Inwoner van Koendoez het egter aan die nuusagentskap, Associated Press, gesê hewige gevegte woed nog in die Khoeja Mashhad-gebied van die stad, ongeveer 200 meter noord van die hoofplein in die stad.
Afgaanse regeringsmagte het onder aanvoering van Amerikaanse troepe teen vroeg Donderdag glo groot dele van die strategiese stad Koendoez in die noorde van Afganistan herower nadat die Taliban die stad drie dae tevore ingeneem het.
Die Taliban se suksesvolle aanslag was ’n vernederende nederlaag vir die regeringsmagte en hul Amerikaanse bondgenote.
Dit was die eerste keer sedert 2001 dat ’n provinsiale hoofstad in die Taliban se hande beland het.
Nadere besonderhede oor die regeringsmagte se “massiewe” teenoffensief oornag is nog nie bekend nie, ook nie watter dele van die stad na bewering weer onder regeringsbeheer is nie.
Afgaanse magte gerugsteun deur Amerikaanse lugaanvalle, het die afgelope twee dae gespook om die stad te herower. Amerika en sy koalisievennote het ook raadgewers na Koendoez gestuur om Afgaanse magte by te staan.
’n Taliban-woordvoerder het Donderdag gesê Amerikaanse magte is by die gevegte betrokke, maar hy het ontken dat die stad weer in regeringsmagte se hande is.
Volgens hom bied die insypelaars weerstand in die middel van die stad en is hulle ook in beheer van omliggende dele.