Die polisie het niemand nog in hegtenis geneem in verband met die skietdood gister van ‘n swart sakeman van Noordwes nie.
Die SABC berig Wandile Bozwana is by die Garstfontein-afrit op die N1-noord in Pretoria geskiet en het kort daarna aan sy wonde beswyk.
Volgens die polisie het ‘n groep gewapende mans by die verkeerslig op Bozwana se voertuig begin skiet.
Bozwana se kollega, wat die motor bestuur het, het weggejaag en by ‘n motorhandelaar gestop. Sy is ook getref en is in ‘n ernstige toestand in die hospitaal.
Die polisie het die publiek gevra wat inligting het om na vore te kom.
Bozwana was ten tyde van sy dood gewikkel in ‘n Konstitusionele hofgeding teen die Noordwes-regering wat wou verhoed dat Bozwana op regeringsbates beslag lê om skuld te verhaal.
Bozwana het saam met sy vriendin Mpho Baloyi op die N1-snelweg na Pretoria gereis.
Bozwana, ‘n eiendomsmagnaat en voormalige Bophuthatswana-polisiebeampte onder die vorige bewind, is verskeie kere in die nek getref en het in die Unitas-hospitaal aan sy wonde beswyk.
Die sakeman sou glo eersdaags ‘n McDonald’s oktrooi in Vryburg open nadat hy ‘n stuk grond vir R3.2 miljoen gekoop het.