Koerde loods aanvalle op ISIS in Irak

Deel op

Koerdiese magte het die Islamitiese Staat-groep (ISIS) in die noorde van Irak aangeval in die jongste offensief wat daarop gemik is om jihadiste uit die olieryke stad Kirkoek te verdryf.

Koerdiese militêre bronne sê die aanslag het vroeg die oggend wes van Kirkoek in die rigting van die ISIS-bastion, Hawijah, begin om die al-Gurra-hooglande in te neem.

ISIS het verlede somer volle beheer van Kirkoek oorgeneem nadat Irakse soldate uit hul basisse gevlug het toe militante ongeveer ‘n derde van die land verower het.

Die Koerdiese pesjmerga het sedertdien ‘n buffer rondom die stad in ‘n reeks offensiewe verbreed en die afgelope ses maande beheer oor ongeveer 530 vierkante kilometer oorgeneem.

Benewens vordering rondom Kirkoek, het die frontlinie tussen die pesjmerga en ISIS byna glad nie in die afgelope maande ver­skuif nie.

ISIS kon nie daarin slaag om enige grondgebied van die pesjmerga af te neem sedert die Amerikaans-geleide koalisie begin het om die insurgente te bombardeer nie.

Die Koerde beheer reeds die grootste deel van die grondgebied wat hulle as hul eie eien, en het min aansporing om dieper in oorwegend Arabiese dorpe en nedersettings in te beweeg, behalwe waar dit ‘n regstreekse bedreiging vir hul streek bied.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.