Vier swartes verskyn na verwagting vandag in die hof nadat drie skole en ‘n kliniek in Atamelang naby Delareyville Woensdagoggend deur oproeriges aan die brand gesteek is.
Noordwes-polisiewoordvoerder Paul Ramaloko sê altesaam tien klaskamers by die drie skole, Ramokonyane Middle School, Hoërskool Noto en ‘n kleuterskool is afgebrand.
Die oproermakers is ontevrede met dienslewering in die gebied en dring veral aan op toegang tot elektrisiteit.
Ramaloko sê die vier verdagtes staan tereg op ‘n aanklag van opsetlike saakbeskadiging. Hy sê nog inhegtenisnemings word verwag.
Leerlinge het van die skool af weggebly weens die betogings.