Poetin, Obama vergader oor Sirië

Deel op

In sy eerste toespraak by die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering in ’n dekade, het die Russiese president, Vladimir Poetin, Maandag gevra vir ’n breë VN-koalisie om teen die Islamitiese Staat-jihadiste te veg voor sy ontmoeting met pres. Barack Obama van Amerika.

Ná afloop van die ontmoeting het Poetin sy gesprek met Obama as “konstruktief, saaklik en verrassend oop” bestempel.

Die 90 minute ontmoeting tussen die twee leiers was die eerste in byna twee jaar sedert Amerika Moskou die rug begin toekeer het.

Dit volg nadat Obama toegegee het dat hy bereid is om met die sterkman van die Kremlin in gesprek te tree ten einde die bloedvergieting in Sirië te beëindig.

Rusland het opnuut tot die toneel toegetree deur troepe en vegvliegtuie na Sirië te stuur.

Dit het vrees in Westerse geledere laat ontstaan dat Moskou sy aan sy met sy ou bondgenoot, pres. Bashar al-Assad, sou veg.

Die Kremlin het eise van die Weste en streekrolspelers, soos Turkye, dat Assad die trekpas moet kry, van die tafel gevee en dring daarop aan dat lede van die VSA-geleide koalisie met Rusland kragte moet saamsnoer om die groter euwel, die Islamitiese Staat, te verslaan.

Ná afloop van die ontmoeting met Obama het Poetin tevrede gelyk met die erkenning dat Rusland wel ’n rol te speel het.

’n Senior Wit Huis-woordvoerder het egter gesê al stem albei leiers saam oor die noodsaaklikheid van politieke transformasie in Sirië, verskil hulle wesentlik oor die rol van Assad.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.