Dan Roodt: Afrikanervolksmoord: Wie sit daaragter?

Deel op

Met Suid-Afrika se astronomiese moordsyfer wat gister weer bekendgemaak is, is dit helder dat geweldsvlakke in die land toeneem eerder as afneem. Gruwelike plaasmoorde, huisrowe en verkragtings kombineer om die situasie vir baie mense onhoudbaar te maak, wat eenvoudig landuit vlug of emigreer. Maar is dit nie presies wat die vyand wil bereik, om ons uit die land te verdryf in ‘n etniese reinigingsproses nie?

‘n Jaar gelede het ek in ‘n rubriek die aandag gevestig op die verskynsel dat marxistiese bewinde en volksmoorde gewoonlik sinoniem is: Volksmoord en die tweede revolusie. Suid-Afrika word gedeeltelik deur ‘n kommunistiese party geregeer wat oor ‘n geskiedenis van Boerehaat beskik. Heel onlangs het die leier van die SAKP, Blade Nzimande, wat ook die minister vir hoër onderwys is, hom sterk teen Afrikaans uitgelaat, iets wat nogmaals die etniese haat verraai het wat binne die party jeens Afrikaners gis en borrel. Die tweede revolusie wat deel van die SAKP se doktrine is, sou die geleentheid kon bied vir die grootskaalse uitwissing van minderheidsgroepe, veral Afrikaners. Sedert onafhanklikwording het verskeie volksmoorde in Afrika plaasgevind: dink maar aan Rwanda, Darfoer, die Itoeri-provinsie van die DRK en elders.

Afrikaners word op grond van ras en taal deur die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty geteiken. Dog daar mag ook ander instrumentele redes wees waarom ons uit die land verdryf of uitgewis moet word.

Heel onlangs het ek ‘n toevallige gesprek met ‘n speurder van die Lindense polisiestasie in Johannesburg gehad. Volgens hom word die meerderheid gewapende aanvalle en plaasmoorde deur Zimbabwiërs gepleeg wat militêr opgelei is. Sulke aanvalle word dan ook met die spreekwoordelike “militêre presisie” uitgevoer. Die vraag is nou: waarom sou Zimbabwe van sy soldate in burgerdrag oor die grens stuur om ons te kom aanval? Is daar ‘n oorhoofse strategie en wie het dit bepaal? Die samewerking tussen ZANU PF en die ANC-SAKP kan seker nie beter nie, want Mugabe word met volle eerbewys in die land ontvang. Dieselfde soort “Tsjimoerenga” of revolusie met grondroof word vir Suid-Afrika in die vooruitsig gestel. ‘n Tyd gelede het Mugabe laat val dat hy in die negentigerjare met grondroof in sy land gewag het omdat hy nie die SA blankes die skrik op die lyf wou jaag terwyl die ANC-SAKP nog besig was om die veiligheidsmagte oor te neem nie, dus heers daar op hoë vlak strategiese samewerking tussen die twee lande.

Nog iets wat die Lindense speurder vir my sê, is dat die ANC-regering die gewapende rowers beskerm. Sodra die polisie hulle begin vasvat, word daar van bo af by polisie-ondersoeke ingemeng, eenhede word ontbind of sake word eenvoudig belemmer sodat die rowers, eintlik aanvallers, nooit skuldig bevind word nie. Gestel dat gewapende rowe gebruik word om plaasaanvalle en militêre opleiding van volksmoordenaars of “genocidaires” soos dit op Frans heet, te befonds? Om skadu-agtige “misdadigers” te gebruik om burgerlikes te vermoor, is natuurlik die ideale situasie, want nóg ons regering nóg dié van Zimbabwe sal ooit hiervoor aanspreeklik gehou word. Dis mos “net misdaad”, soos ons daagliks verseker word, al is al die aanvallers militêr opgelei en al maak hul duiwelswerk deel uit van ‘n breër strategie wat moontlik deur regerings en inligtingsdienste bepaal word.

In my vorige rubriek het ek ook verwys na Solsjenitsin se bewerings dat Jode soveel Russe tydens die revolusie in daardie land uitgemoor het:

Solsjenitsin het beweer dat Jode onder Stalin vervolg is, maar dat hulle tydens die aanvanklike Bolsjewistiese oorname massamoorde op Russe gepleeg het of laat pleeg het. Jode was ook oorverteenwoordig in die gevreesde Tsjeka of geheime polisie.

Nou is dit ook opvallend dat daar by die huidige aanstigting van Boerehaat, waaronder die veldtogte teen Afrikaans op skool en op universiteit, soveel Jode betrokke is. ‘n Mens sou dink dat Jode, wat self taalnasionalisties genoeg was om Hebreeus ná 2000 jaar te laat herleef, waardering vir Afrikaners se taalgevoelens sou hê. Maar nee. Ook die joernaliste en ander figure wat Steve Hofmeyr dit verkwalik dat hy soms Die Stem sing, is merendeels Jode in Johannesburg of Kaapstad.

Sekerlik is daar konserwatiewe Jode ook en sou ‘n mens kwalik kon beweer dat die meerderheid Jode in Suid-Afrika van Boerehaatveldtogte teen Afrikaans ‘n stokperdjie gemaak het. Nogtans kan ‘n mens nie anders as om ‘n radikale groepie van ultraliberale of marxistiese Jode raak te sien wat kennelik meen dat die werk van die SAKP nie voltooi is solank daar iewers nog ‘n Afrikaanse skool of Afrikaanse universiteit bestaan of ‘n Afrikanerboer wat ‘n plaas besit nie. Een van hulle, Glen Moss, skrywer van die onlangse boek The new radicals, het in my huis aan my gesê dat die Afrikaanse woordeboek binnekort “oorbodig” gaan wees omdat die taal nie meer sal bestaan nie.

Volgens die Jerusalem Post ontvang Robert Mugabe hulp van Israelse maatskappye en die Mossad om stemme tydens Zimbabwiese verkiesings te manipuleer. Dié bewering is nog nooit ontken nie. Die Israelse argiewe het ook tydens Mandela se dood ‘n dokument vrygestel waarin bekendgemaak is dat die Xhosa-revolusionêr in die sestigerjare opleiding van die Mossad ontvang het. Mandela se bande met Jode in Johannesburg, New York en elders, is alombekend en hy het ook daaroor in sy outobiografie, Long walk to freedom, geskryf:

At Wits, I met many people who were to share with me the ups and downs of the liberation struggle, and without whom I would have accomplished very little. Many white students went out of their way to make me feel welcome. During my first term at Wits I met Joe Slovo and his future wife, Ruth First. Then as now, Joe had one of the sharpest, most incisive minds I have ever encountered. He was an ardent Communist, and was known for his high-spirited parties. Ruth had an outgoing personality and was a gifted writer. Both were the children of Jewish immigrants to South Africa. I began lifelong friendships with George Bizos and Bram Fischer. (Mandela, Long walk to freedom, hoofstuk 10)

Die Afrikaanse digter en vorige redakteur van Sarie en Rapport, wyle Izak de Villiers, het my op ‘n keer attent gemaak op die hoeveelheid Jode wat onder die beskuldigdes tydens die Rivoniaverhoor saam met Mandela verskyn het. Trouens, daar was feitlik geen blankes behálwe Jode nie. Tot my taamlike verbasing het die Joodse Raad van Afgevaardigdes in die onlangse verlede hom vereenselwig met die terreur, sabotasie en ander dade wat radikale, kommunistiese Jode soos Joe Slovo, Ronnie Kasrils en ander sedert die sestigerjare in Suid-Afrika gepleeg het.

Hoewel Beeld en ander linkse koerante in Suid-Afrika deesdae terreur as ‘n “middel tot ‘n doel” geheilig het, moet ons besef dat terrorisme steeds ‘n internasionale misdaad is wat wêreldwyd vervolgbaar is. Daar is selfs lande waar terroriste verhoor kan word wat terreur buite hul eie jurisdiksie gepleeg het!

Tesame met Kuba, Noord-Korea, Zimbabwe en ‘n paar ander, beskik Suid-Afrika tans oor een van die mees radikale regerings ter wêreld, ‘n regering wat dalk nie self volksmoord sou pleeg nie, maar wat dit op allerlei maniere mag ondersteun of vergemaklik deur opgeleide terroriste vanuit ‘n buurland soos Zimbabwe op ons grondgebied toe te laat en te sorg dat hulle nie gevang of vervolg word nie.

Malema is sekerlik een van die mees radikale politici ter wêreld wat toegelaat word om aan die hoofstroompolitiek deel te neem. Hy vaar openlik teen die Afrikanerminderheid uit, hoewel hy reeds van haatspraak en aanhitsing tot volksmoord aangekla is. Die plaaslike korrespondent van die Londense Guardian, David Smith, is amper die persoonlik publisiteitsagent van Malema, want hy volg hom oral waar hy gaan en twiet en berig oor elke juweeltjie uit die man se mond. My gesonde verstand sê vir my dat Malema, wat oor ‘n “houtwerkmatriek” beskik, nie man-alleen ‘n politieke party en massa-organisasie met ‘n internasionale publisiteitsmasjien op die been sou kon bring nie. Agter Malema staan daar duistere magte waaroor ons maar net kan spekuleer. Hy is egter die “swart gesig” van die “tweede revolusie”, nes Mandela dié van die eerste revolusie was.

Wat is die uiteindelike doelwit? Vandat FW de Klerk en die Broederbond polities geabdikeer het, is alle Afrikanerbates eintlik beskikbaar om geroof of gekonfiskeer te word. Die mite dat ons “die grond van die swartes gesteel het”, word elke dag in die massamedia gepropageer, wat die weg op radikale optrede voorberei. Ons plase, huise, aandele, pensioenfondse, selfs spaarrekenings, is alles beskikbaar vir wie ook al die goetspa gaan hê om dit af te vat.

Hoeveel lewens in die proses verlore sal gaan, weet ons nog nie. ‘n Mens voel egter instinktief aan dat Suid-Afrika maar nog aan die begin van sy gewelddadige fase verkeer. Die “groot transformasie” kom nog. Onthou dat “transformasie” nog altyd deur Suid-Afrikaanse kommuniste as ‘n eufemisme vir “revolusie” gebruik is. Die revolusionêre het nou maar eers bloed geruik.

Die probleem met Afrikaners is dat hulle, anders as hul vyande, nie ideologies dink nie. Trouens, die meeste Afrikaners het geen benul van marxisme of ander radikale ideologieë nie en stel ook nie daarin belang nie. Die geskiedenis van die twintigste eeu en sy revolusies is vir hulle ‘n geslote boek.

Intussen sit ons hier op ‘n kruitvat van radikalisme, hebsug en etniese haatgevoelens wat een of ander tyd tot uitbarsting móét kom. En let wel: dis glad geen rassestryd nie, hoewel ras natuurlik daagliks witwarm aangeblaas word.

Na my ervaring koester swartes geen spontane afkeer van of haatgevoelens jeens Afrikaners nie. Tans word hulle egter geléér om ons te haat.

Diegene wat ons die meeste haat, is ook nie swartes nie. Trouens, daar is selfs ‘n paar verloopte Afrikaners – kinders van Bram Fischer – onder hulle wat hand om die blaas met die radikale aanhou om ons verdag te maak en as afstootlike “rassiste” voor te stel.

Wat ek nou skryf, sal weereens op dowe ore val. Slegs ‘n klein groepie Afrikaners stel nog belang om oor ons toekoms te dink, asook die hede en verlede na behore te ontleed. Wat nodig is, is dat ons kwessies soos Boerehaat, volksmoord en marxisme in boeke en artikels moet boekstaaf sodat die wêreld nie verbaas sal wees as die onvermydelike plaasvind nie.

So ‘n ontleding mag selfs volksmoord verhoed, hoewel ek kry die gevoel dat Suid-Afrika blindelings op ‘n ramp afstuur, met Afrikaners wat soos lammers ter slagting agter een of ander Fluitspeler van Hamelin vrolik na hul dood toe sal aanstap. In die onlangse verlede het ons dit al soveel keer gesien.

Hopelik word ek verkeerd bewys…

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.