Sporadiese geweervuur het Sondagnag in Bangui, die hoofstad van die Sentraal-Afrikaanse Republiek, weerklink ondanks ‘n aandklokreël wat afgekondig is ná ‘n naweek van geweldpleging waarin minstens 20 mense dood is.
Geweervuur isnaby die polisiekantoor in Bangui gehoor. Verskeie winkels en huise is ook geplunder terwyl die aandklokreël van krag was.
Volgens mediese bronne is meer as 20 mense dood en ongeveer 100 gewond in Saterdag se geweldpleging wat ontketen is deur die moord op ‘n motorfiets-taxibestuurder in die Moslem-meerderheid PK-5-woonbuurt van Bangui.
Die gebied was ook die sentrum van ongeëwenaarde doodslag tussen Christene en Moslems in die stad in laat 2013 en vroeë 2014.
Franse soldate en vredesmagte van die Verenigde Nasies bly aan in die voormalige Franse kolonie waar duisende mense in geweldpleging dood is en honderdduisende haweloos gelaat is.
Die bloedvergieting het begin ná die 2013-staatsgreep waarin die langdienende leier, Francois Bozize, uit die kussings gelig is. Die spanning duur voort tussen Moslem Seleka-rebelle en Christen milisies, bekend as “anti-balaka” of “anti-kapmesse”.
Al het die geweldpleging redelik afgeneem, is gewapende groepe steeds in sommige dele van die land aktief.
Verkiesings vir ‘n president en lede van die wetgewende vergadering word vir die einde van die jaar beplan. Die verkiesings is egter reeds herhaaldelik uitgestel terwyl die land met die geweldkrisis worstel.
Intussen het Burkina Faso teruggekeer na normaal nadat die presidentswag ’n staatsgreep uitgevoer het. Regeringsmagte, wat lojaal gebly het teenoor die regering, het uit die stad onttrek.
Die waarnemende staatshoofde, president Michel Kafando en premier Yacouba Isaac Zida, sal die land regeer totdat demokratiese verkiesings gehou word.
Die verkiesings sou oorspronklik op 11 Oktober plaasgevind het, maar dit is nou heel moontlik deur die staatsgreep vertraag.
’n Latere datum van 22 November is reeds deur ECOWAS voorgestel. Daar is ook voorgestel dat die ondersteuners van die voormalige president Blaise Compaoré, wat uit die kussings gelig is, ook toegelaat moet word om kandidate vir die verkiesing te nomineer.