Karel Combrinck: Post tenebras lux

Deel op

Sy heilige majesteit se onlangse uitstappie oor die doodstraf en die uitwissing van landsgrense maak dit miskien nuttig om net weer baie kortliks die geheue te verfris oor die Katolieke Kerk en ons stamvaders, die Hugenote.

Kort nadat Martin Luther in 1517 sy 95 stellings aan die deur van die Wittembergkerk vasgenael het, het die vervolging van protestante in Frankryk begin. Die 95 stellings het dit hoofsaaklik gehad teen die gebruik van die sg. afkoopbriewe ingevolge waarvan die kerk en die adel (in daardie tyd en lank daarna dieselfde ding) teen betaling van ‘n som geld aan sondaars briewe uitgereik het om te sê hulle sondes is vergewe.

Die Gutenbergse drukproses wat teen daardie tyd in algemene gebruik was, het dit moontlik gemaak dat Luther se leerstellings soos ‘n veldbrand deur Europa verprei het. Die kerk en die adel sou nie met gevoude arms toekyk hoe hulle van hulle goudmyn berowe word nie.

Die Franse adel was in die nag van 23/24 Augustus 1572 (die Bartholomeüsnag) in die Louvre-paleis en ander paleise in die omgewing byeen ter viering van die huwelik tussen Hendrik die vierde (Henri IV) en Marguerite de Valois. Die huwelik is gereël oënskynlik om die bloedvergieting tussen Katolieke en protestante te besweer, maar in daardie afgryslike nag is derduisende mense, die room van die protestantse adel, waaronder die beroemde admiraal Gaspard de Coligny Dingaanstyl deur die Katolieke vermoor. St Batholomeüs is terloops die Franse beskermheilige van slagters!

Die teken dat die slagting moes begin, is gegee deur die afgemete gelui van die klok in die toring van die kerk St Germain l’Auxerrois net langsaan die Louvre-paleis. Die klok se naam, is … Maria.

Ave Maria, grazia plena, gegroet Maria, vervul met genade. Genade vir almal behalwe vir ons.

Kort nadat hy koning geword het, het Hendrik IV, wie se moeder protestant was, in 1598 die bekende Edik van Nantes uitgevaardig wat aansienlike verligting vir protestante gebring het. Nadat hy in 1610 deur ‘n Katolieke fanatikus vermoor is, is die regte en vryhede van protestante geleidelik uitgekalwe totdat die protestantisme in 1685 met die herroeping van die Edik deur die koning van die duisternis, Lodewyk XIV (Louis quatorze) heeltemal verbied is.

Voortaan was dit gewoon onwettig om die protestantse geloof te beoefen en kinders as protestante te doop en groot te maak. Alles wat moontlik daaraan kon herinner dat daar ooit iets soos ‘n protestant op die aardbol was, is vernietig: geboortesertifikate, doopseëls, huweliksertifikate, doodsertifikate, grafte, transportaktes, alles. Alle protestantse kerke en ander plekke van aanbidding moes vernietig word. Die galg en die brandstapel was die daaglikse vermaak van die Katolieke gepeupel en om slagoffers te vind was geen probleem nie want enigeen wat protestante verkla of uitgelewer het, kon aanspraak maak op die helfte van hulle boedel.

Protestante is verbied om Frankryk te verlaat en dié wat dit wel gedoen het, het dit in lewensgevaar gedoen. Dit was dan ook die geval met ons Hugenotevoorouers. Watter groot oomblik was dit nie vir hulle nie toe hulle uiteindelik in die Kaap aan wal stap nie! Vryheid, veiligheid, vrede. POST TENEBRAS LUX!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.