Polisie ontplooi by Mangaung-skole

Deel op

‘n Sterk polisieteenwoordigheid heers by swart skole in Mangaung waar sogenaamde bendes klasse ontwrig het, het RSG berig.

Die twee bendes is glo die Ma-Roma en die BTK (Born to Kill).

Talle leerders van die Petunia Sekondêre Skool is vanoggend deur hul ouers skool toe vergesel.

Die situasie by Sehunelo hoërskool is tans kalm.

Die meeste leerders wat vandag eksamen skryf, sê hulle is bang om skool by te woon. Die polisie het vyf messe, ‘n gholfstok, ‘n pik en pik-handvatsel van leerders by albei skole gekonfiskeer.

‘n Woordvoerder van die onderwysdepartement, Howard Ndaba, sê skole en hul veiligheidskomitees werk tans saam met die polisie aan ‘n veiligheidsplan.

Ná verlede week se geweld weens beweerde bendebedrywighede wat tot die dood van ‘n sjebien-eienaar en die ernstige aanranding van ‘n lid van die gemeenskap gelei het, heers vrae oor moontlike etniese konflik.

Heidedal-skole was in rep en roer toe die bende, wat hulself die Ma-Roma noem, ouers op hol gehad het. Ouers het daarna by skole aangedoen om hul kinders huis toe te neem.

Lede van die gemeenskap het ‘n jongman erg aangerand nadat hy verkeerdelik vir ‘n bendelid aangesien is.

Die tien mans wat die naweek in hegtenis geneem is vir die moord op die eienaar van die sjebien sou Maandag weer in die hof verskyn vir ‘n borgtogaansoek.

Polisiewoordvoerder, Billy Jones, het vroeër gesê die groep het vermoedelik die oorledene se seun gesoek en toe hulle nie die seun kon kry nie het hulle sy pa geteiken.

Jones sê die man se naam gaan nie bekend gemaak word nie op versoek van sy familie.

Twee ander mans het ook vanoggend in dieselfde hof verskyn vir aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Hulle het glo die jong man vir ‘n bendelid aangesien en hom ernstig aangerand tydens oproerigheid verlede Woensdag, toe bendelede amok in Heidedal gemaak het.

Bendes het skole in die Heidedal en Batho-gebiede geteiken.

Intussen het die polisie ook drie mense in hegtenis geneem wat glo deel is van die berugte Maroma-bende. Die drie verdagtes is tussen 21 en 25 jaar oud.

Hulle was onderweg na die St. Bernard Hoërskool in Bloemfontein om na hulle vriende te gaan soek.

Die drie is deursoek en gevaarlike wapens is in hul besit gevind. Hulle sal binnekort in die hof verskyn.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.